16-jarige kom met regrukplan vir parkie

Reuben Kruger (regs) was verstom om te sien hoe mense, sakeondernemings en selfs ‘n restaurant sy gemeenskapsprojek ondersteun. (Foto: Verskaf)

Reuben Kruger van Waterkloofrif in Pretoria het besluit om ʼn verwaarloosde park in sy buurt onder hande te neem nadat dit die afgelope vier jaar erg verval het.

Die 16-jarige tuisskolier wat tans voorberei vir sy Cambridge-matriek, het Saterdag sy gemeenskap byeengebring en ʼn met skoonmaakprojek in die park op die hoek van Ridgeviewweg en Muskejaatstraat begin. Die park was met rommel bestrooi en só oorgroei dat almal gedink het die glyplank het voete gekry.

“Ek het onthou hoeveel plesier die parkie my suster gegee het toe ons in 2012 in die buurt ingetrek het. Die park het in die laaste paar jaar vinnig agteruitgegaan, maar met die inperking het dit net nog meer versleg,” het hy gesê.

“Die park was ʼn seeroog vir ons hele buurt. Almal het gekla en gesê iets moet daaraan gedoen word, maar niemand het die eerste stap geneem nie.”

Reuben het ʼn maand gelede besluit hy gaan self hand opsteek om iets aan die situasie te doen. Hy het Philip Nel, sy wyksraadlid, gekontak en gesê hy wil ʼn verskil maak met dié gemeenskapsprojek.

“Nel het gesê dit is ʼn goeie idee en hy sal my ondersteun.”

Dit was die enigste groenlig wat Reuben nodig gehad het. Hy het weggespring en ʼn WhatsApp-groep gestig en almal in die buurt genooi om met die opruimingswerk te kom help.

“Ek was verstom, want 45 mense het die Saterdagoggend opgedaag om te kom help om rommel te verwyder, gras te sny wat heuphoogte staan en bome te snoei. Ons het self die parkie se glyplank in die park se bosse gevind.”

Sowat 45 mense het by Reuben Kruger aangesluit om ‘n parkie in Waterkloofrif op te ruim. (Foto: Verskaf)

Sakeondernemings van ʼn klein winkelsentrum in die omgewing het ook die oggend hand bygesit toe hulle sien waarmee die inwoners besig is.

“Ons het skenkings van hardeware en toerusting ontvang, en toe ons weer sien het een van die restaurante vir almal pizza gebring. Dit was so ʼn ongelooflike positiewe ding om te sien hoe mense ons ondersteun.”

Reuben se planne met die park gaan ook nie nou net hier eindig nie. Hy het reeds besluit om ʼn komitee te stig wat kan help om die park behoorlik te onderhou.

“Hierdie [onderhoud] gaan nie net een keer gebeur nie; ons moet die park onderhou en selfs verder opgradeer. Ek wil nog asblikke laat insit, want hier is te min, en daar moet tuingemaak word en nog speeltoerusting geïnstalleer word.”

Die jong man glo almal wil graag ʼn verskil in hul gemeenskap maak. “Dit verg net een persoon wat besluit om uit te vind hoe om ʼn ding te doen en daarmee deur te druk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mallie

Baie geluk jong man. Mag jy geseen word bo alle verwagtinge in.

Suzette

Kan maar altyd sien wie die inisiatief neem……

Frieda

Fantasties!!

Kirst

Die wiel is besig om te draai. Met die hofuitspraak in Koster en Swartruggens waar die gemeenskap toegelaat is om munisipale funksies oor te neem en inisiatiewe soos hierdie oop ruimte opruiming kan iets uitgerig word. Gemeenskappe wat bereid is om self hande vuil te maak eerder as om te betoog sal die vrugte pluk. Jy kan kla en kerm (wat op dowe ore val in elk geval) of jy kan self die verskil maak wat jy wil sien gebeur.

Sylvia

Absoluut wonderlik. Hoop daar gaan ook beter veiligheid wees, aangesien kinders nie meer vry en sorgeloos in parke kan speel nie