18 nonnetjie-uile knus na redding

Meer as ʼn duisend uile word jaarliks deur Owl Rescue Centre ingeneem. (Foto: Verskaf)

Altesaam 18 jong nonnetjie-uile en twee uil-eiers is veilig by die Owl Rescue Centre in Hartbeespoort nadat hulle die afgelope week op verskillende plekke in die omgewing gered is.

Brendan Murray, stigter van dié sentrum, sê die reddingspogings, wat alles op 7 Februarie uitgevoer is, het hulle behoorlik laat bontstaan.

“Ons red gewoonlik hierdie tyd van die jaar tussen agt en 12 uile per dag, so dit was ongewoon om op een dag 18 uile te red. Al daardie uile is gelukkig ongedeerd en word nou in die kliniek by die sentrum versorg.”

Sewe uile is uit die ontvangslokaal van ʼn laerskool in Mamelodi gehaal, en nog vyf uile, asook die twee uil-eiers, is by ʼn skool in Vosloorus gered. Drie uile is uitgehelp by die Impala Platinum-myn in Rustenburg en vyf uile is op ʼn plaas nie ver van die Owl Rescue Centre af nie, gaan haal.

“Nonnetjie-uile hou besonder baie daarvan om in geboue, kerke, klinieke, skole en selfs selfoontorings te bly. Dit raak egter ʼn probleem wanneer die plek waar hulle nes gemaak het, nie ewe ontvanklik vir hulle is nie.”

Nonnetjie-uile wat die afgelope week deur Owl Rescue Centre gered is. (Foto: Owl Rescue Centre/Facebook)

Brendan en sy vrou, Danelle, het die sentrum sowat tien jaar gelede begin met die doel om uile te beskerm, te bewaar en te rehabiliteer en die wat seergekry het of wees gelaat is, te versorg. Meer as ʼn duisend uile word jaarliks deur reddingspogings ingeneem, gerehabiliteer en by wyse van nagevorste metodes vrygelaat.

Die nonnetjie-uile is ongedeerd en word tans by die Owl Rescue Centre se kliniek versorg. (Foto: Verskaf)

Terwyl Brendan oor die reddingspogings gesels, sit hy juis langs die broeikas waar die twee uil-eiers gemonitor word. Hy vertel verder dat die nasorgproses uiters belangrik is omdat die verkeerde prosedures sal verhoed dat uile weer in die natuur aanpas.

Vir die volgende drie weke sal die uile gemonitor word om te verseker dat hulle gesond is en onder meer self kan eet. Daarna word hulle na uilhuise op die perseel geskuif en gespeen om eindelik in die natuur vrygelaat te word.

“Ons filosofie is om so min as moontlik met die natuur se natuurlike gang in te meng. Ons versorg uile wanneer hulle ons nodig het, maar ons laat hulle toe om wild te bly en terug te keer na hul natuurlike habitat wanneer hulle nie meer ons hulp nodig het nie,” sê Brendan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.