19-jarige student maak verskil met eetbare strooitjies

Leila Siljeur se eetbare strooitjies is ‘n wenner (Foto: Verskaf)

Die 19-jarige Leila Siljeur, ’n tweedejaar-ingenieurstudent aan die Universiteit van Stellenbosch (US), se eetbare en omgewingsvriendelike drinkstrooitjies verkoop soos soetkoek onder Matie-studente.

Siljeur het in haar vasberadenheid om plastiekbesoedeling te help bekamp besluit om dié eetbare strooitjies onder haar eie geregistreerde handelsmerk, Eat Me Straws, te ontwerp.

Luidens ’n verklaring van die US het die idee van die strooitjies ontstaan het toe sy ’n inskrywing op Facebook van ’n seeskilpad met ’n plastiekvurk in sy neus gesien het. Dit het haar diep geraak en sy het gevoel dit is haar plig om by te dra tot die volhoubaarheid van ʼn plastiekvrye omgewing.

Siljeur het Dinsdagoggend aan Maroela Media vertel dat die omgewing en die bewaring daarvan vir haar van kardinale belang is. “Dit is elke individu se verantwoordelikheid om so omgewingsvriendelik as moontlik te leef. Dit is nie altyd ’n gemaklik skuif nie, soos die frustrasies wat ons met papierstrooitjies beleef. Ek probeer met my strooitjies om ’n gemaklike alternatiewe opsie vir mense te bied om omgewingsvriendelik te wees,” vertel sy.

Siljeur se strooitjies is anders as die papierstrooitjies wat deesdae in restaurante gebruik word omdat dit nie binne enkele sekondes pap word in jou melkskommel nie.

Dié jong student glo haar strooitjies is wel ’n verbetering op produkte wat tot dusver met betrekking tot eetbare strooitjies ontwerp is. “Hoewel maatskappye bio-afbreekbare strooitjies vervaardig, beland baie daarvan nog steeds in die see, wat ’n gevaar vir ons seelewe inhou.”

Die smaak van Eat Me Straws se strooitjies is iets tussen droplekkers (liquorice) en gedroogde vrugte. Die streng vegetariese strooitjies met ’n bessiegeur is ’n top-verkoper.

Siljeur vertel dat klante oor die voorkoms van die strooitjies kan besluit. Die strooitjies word gekleur en gegeur na die kliënt se smaak en die inhoud wat hulle drink. Die strooitjies word in drie basiese reekse verkoop: gewoon, gesond en streng vegetaries.

“Ons gebruik verskillende basisse vir die drie reekse – gelatine vir die gewone strooitjies, plante vir die streng vegetariese reeks en vrugte vir die gesondheidsreeks. Ons het ook framboos- en sjokolade-gegeurde strooitjies,” vertel sy.

Dié jong entrepreneur en haar span verkoop al sedert verlede jaar strooitjies aan Matie-studente. Siljeur vertel die terugvoer van die studente was tot dusver positief. “Hulle hou sover baie van die strooitjies.”

Siljeur sê daar is ook planne om haar produksie te verhoog en dié eetbare strooitjies aan verskillende sakeondernemings in Stellenbosch en in ander dele van die land te beskikbaar te stel. “Ons ideaal is om dit aan groot kitskoskettings soos KFC en McDonalds en ook gesondheidswinkels te verskaf. As ons aan hierdie soort kettingwinkels kan verkoop, behartig hulle die verspreiding en sodoende raak dit nie die verbruiker se sak direk nie.”

Siljeur het ook onlangs R50 000 van die Allan Gray Orbis-stigting se nasionale genootskap- fees vir haar omgewingsvriendelike uitvindsel as prysgeld ontvang. Vir haar gaan dié prysgeld baie nuttig te pas kom aangesien sy die onderneming stadig maar seker wil uitbrei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

n feit ·

As dit gaan werk, is jy klaar n miljoener. Die geld moet net inkom.

Huh ·

Rerig nie ‘n nuwe idee nie. Gaan google maar, dis al lank in omloop … Maar as sy geld kan maak daarmee, hoekom nie …?

Andre C ·

Die lewe is nou so duur , ek gaan van nou af strooitjies eet .Solank dit verniet is

Toubs ·

Mooi Leila, ek hou ook van jou WWJD bandjie aan jou linker arm. Dit vertel my bietjie meer wie jy is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.