20 jaar van hare skeer, kleur vir kankeroorwinnaars

‘n Brawe jong dame tydens die Affies Shavathon in 2022 (Foto: Mizanne Hattingh/ Maroela Media)

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se jaarlikse Shavathon waartydens deelnemers in solidariteit met kankeroorwinnaars geld skenk om hul hare te laat skeer of spuit, vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar.

Dié inisiatief is in 2003 deur ’n plaaslike motorfietsryersgroep in Gqeberha (Port Elizabeth) begin ter ondersteuning van ’n lid wat deur kanker geaffekteer was, en het sedertdien ʼn hoogtepunt op die Kansa-kalender geword.

Bekendes soos Mark Pilgrim, Mi Casa, Freshly Ground, The Parlotones, Daniel Baron, Marc Lottering, Danny K, Toya Delazy, Gert-Johan Coetzee, Natalie Du Toit en vele meer het deur die jare dié projek ondersteun. Wyle Jeremy Mansfield het ook jaarliks Suid-Afrikaners aangemoedig om die Shavathon te ondersteun.

Mark Pilgrim tydens ‘n Shavathon in 2005. (Foto: Kansa/Facebook)

Vanjaar voeg Rozanne McKenzie, mede-aanbieder van Jacaranda FM se The Drive Show with Rob and Roz, ook haar stem by die Shavathon-opwinding.

Die bekende musikant Daniel Baron bied ook sy ondersteuning met die lied “A Lions Heart”, wat hy vir sy kleinnefie geskryf het, wat op 14 jaar sy stryd teen kanker verloor het.

Om jou hare te laat skeer of in verskeie kleure te laat spuit word ’n donasie van R50 vir volwassenes en R25 vir kinders onder 12 jaar gevra. Alle geld wat ingesamel word, gaan direk vir Kansa se opvoedingsinisiatiewe en siftingstoetse en ook om ’n sorg- en ondersteuningsdiens aan kankerpasiënte en geliefdes te lewer.

Stensils is beskikbaar om prettige ontwerpe mee te skep wanneer hare gespuit word. Die spuitmiddel is veilig om te gebruik en maklik om uit te was omdat dit van ’n plantaardige kleurstof gemaak is.

Elize Joubert, Kansa se hoof uitvoerende beampte, sê sy is opgewonde oor die voortdurende entoesiasme waarmee Suid-Afrikaners dié projek ondersteun.

(Foto:
Angiola Harry/ Unsplash)

“Die wonderlike bystand wat ons van die publiek ontvang wat namens ’n geliefde wat tans op hul kankerreis is of dit dalk verloor het, maak dit moontlik om vanjaar die 20ste herdenking van hierdie geldinsamelingsgeleentheid te vier.”

Met die vraag: “Wat sal jy vir ’n kankeroorwinnaar doen?” nooi hulle weereens almal uit en vra dat mense by hulle aansluit om ’n kankeroorwinnaar, pasiënt, kryger of floreerder te ondersteun.

Skole, klubs, winkelsentrums en sakeondernemings word vanjaar tussen 25 Februarie en 31 Maart  die kans gegun om hul eie Shavathon-geleenthede aan te bied.

Spanne kan ook pryse wen deur te sien wie die meeste geld aanlyn kan insamel deur ’n aanlyn geldinsamelingsblad op die Shavathon-geleentheidsbladsy of een op GivenGain te begin.

Diegene wat tuis werk kan ook deelneem deur ’n ‘borgstaanfooi’ aanlyn te betaal. Dié opsie is ook beskikbaar vir mense wat betrokke wil raak, maar nie op die dag ’n geleentheid kan bywoon nie.

Joubert benadruk dat Kansa deurlopend op die publiek se welwillendheid steun vir skenkings van poniesterte of haarpruike. Volgehoue steun maak die druk van opvoedkundige materiale (soos plakkate en pamflette) vir gebruik in onkologie-eenhede, kruideniersware vir sorgsentrums, sorgpakkies vir pasiënte en vele meer moontlik.

  • Klik hier om ’n as ’n individu of werksplek vir ʼn Shavathon-geleentheid te registreer en Shavathon-produkte by Kansa se aanlyn winkel te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.