2019: Unesco se Internasionale Jaar van Inheemse Tale

(Foto: Maroela Media)

Deur Mandie Ehlers

Deur taal kommunikeer ons met die wêreld, definieer ons ons identiteit en druk ons ons geskiedenis en kultuur uit. Deur taal beskerm ons ons menseregte en neem ons deel in alle aspekte van die gemeenskap. Die rol van taal verseker ook dat ons die gemeenskap se geskiedenis, tradisies, herinneringe, denkwyses en uitdrukking bewaar.

Die reg dat ʼn persoon sy taal kan gebruik is ʼn voorvereiste vir die vryheid van denke, opinies, uitdrukking en toegang tot onderrig, ensovoorts.

Baie van ons aanvaar die gebruik van ons moedertaal vir daaglikse aktiwiteite as vanselfsprekend. Vir baie ander mense is dit nie moontlik om hul moedertaal daagliks te kan gebruik nie. Die wêreld het amper 7 000 tale. Omtrent 370 miljoen mense is inheems. Daar bestaan 90 lande met inheemse kulture en daar is vyfduisend verskillende inheemse kulture. Altesaam 2 680 inheemse tale word gebruik deur inheemse mense wat ʼn groter deel van die wêreld uitmaak. Tog kwyn hierdie tale teen ʼn vinnige spoed. Dit is juis waarom Unesco (Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) met die VN se Regte en Erkenning van Inheemse Volke (UNDRIP) begin het.

As hierdie tale heeltemal uitsterf sal dit, soos beskryf op UNESCO se webwerf: “… deprive us of the rich diversity they add to our world and the ecological, economic and sociocultural contribution they make.”

Die jaar 2019 is tot die Internasionale Jaar van Inheemse Tale verklaar. Tydens hierdie jaar sal Unesco vyf kerngebiede onder die loep neem om inheemse tale te bevorder en te bewaar, naamlik:

  1. Die bevordering van begrip, versoening en internasionale samewerking;
  2. Die skep van gunstige voorwaardes vir die verspreiding van kennis en goeie praktyke ten opsigte van inheemse tale;
  3. Die integrasie van inheemse tale in die standaardomgewing;
  4. Die bemagtiging deur die toename van kapasiteit; en
  5. Groei en ontwikkeling deur uitbreiding van nuwe kennis.

ʼn Vraag op almal se lippe is hoekom inheemse tale bevorder en bewaar moet word. Volgens Unesco se webblad is daar vyf redes:

  1. Kennis: Unieke stelsels van kennis en begrip van die wêreld;
  2. Vrede: Volhoubare ontwikkeling, belegging en versoening;
  3. Regte: Fundamentele menseregte en vryheid vir inheemse volke;
  4. Inklusiwiteit: Sosiale inklusiwiteit, geletterdheid, vermindering van armoede en internasionale samewerking; en
  5. Diversiteit: Kulturele waardes, diversiteit en herkoms.
  • Hierdie artikel is met die vergunning van Talig die nuusbrief van die ATKV gepubliseer.
  • Besoek die volgende webwerwe vir meer inligting oor inheemse mense en inheemse tale:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Xavier ·

Die 3de paragraaf is vir my baie verwarrend:
1. Hoe kan daar 370 triljoen inheemse mense wees as die totale bevolkong op aarde ongeveer 6 miljard is?
2. Hoekom word net 2680 tale as inheems beskou? Wat van die res van die 7000 tale? Is dit van uitheemse wesens af?
3. Hoe kan daar net 90 lande wees met inheemse kulture? Het elke land op aarde nie sy eie inheemse kultuur nie?

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Xavier

Dankie vir die vrae. Ek antwoord sommer gou op die punte soos wat jy dit uiteengesit het:
1. Die artikel is nou gewysig en vertoon nou korrek om dit aan te dui as 370 miljoen inheemse mense.
2. & 3. Die Verenigde Nasies beskou inheemse mense as die eerste of oorspronklike mense van ‘n spesifieke land of streek. Die Indiane van Amerika of die Khoi-San van suider Afrika sal in hierdie geval voorbeelde van inheemse mense wees volgens die definisie.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.