25-jarige se lewenslesse ná jaar sonder nuwe klere

Celiané van der Westhuizen (Foto: Verskaf)

Celiané van der Westhuizen (25), ʼn arbeidsterapeut van Parys in die Vrystaat, het in 2018 dit haar Nuwejaarsvoorneme gemaak om vir ʼn jaar lank nie vir haarself nuwe klere te koop nie, en sy het dié uitdaging met die aanvang van 2019 suksesvol voltooi.

Van der Westhuizen het gesê sy het dié besluit geneem omdat sy geld wou spaar om haar eie arbeidsterapie-praktyk te begin, maar ook omdat sy ʼn meer minimalistiese leefstyl wou aanneem.

“Ek het aan die einde van 2017 sommer vir interessantheid ʼn sommetjie gemaak en gekyk hoeveel ek aan die einde van die jaar aan klere en skoene bestee het, en ek het besef dit is regtig nogal baie. Ek het in 2017 sowat R15 000 aan klere bestee, en dit was  ʼn jaar waarin ek regtig nie eens baie gekoop het nie,” het sy aan Maroela Media gesê.

“Ek en my man het verlede jaar beplan om Parys toe te trek en dat ek my eie praktyk gaan begin. So toe het ek besluit dat dit ʼn goeie manier is om geld te bespaar.

Celiané in die Kerfeeshemp wat haar man vir haar gegee het (Foto: Verskaf)

“In my begroting het ek R2 000 per maand vir klere uitgehou, so ʼn mens kan tussen R15 000 en R24 000 spaar as mens niks klere koop vir ʼn jaar lank nie,” het sy gesê.

Van der Westhuizen se Nuwejaarsvoorneme het ingesluit dat sy glad nie enige klere, skoene, onderklere of sokkies mag koop nie.

“Ek het regtig baie klere reeds in my kas gehad, so ek wou my klerekas ʼn bietjie uitdun. Wat vir my die moeilikste was, was seker in die winter, omdat ek my langbroeke oor en oor moes dra,” het sy gesê.

Hoewel sy nie nuwe klere in 2018 gekoop het nie, het sy steeds baie komplimente oor haar uitrustings gekry. “Ek het klere gedra wat ek gedink het reeds uit die mode is, of wat nie meer mooi is nie, omdat ek niks anders gehad het om te dra nie, maar mense het verbasend genoeg baie keer vir my gesê ek lyk mooi in dié klere.”

Celiané en haar man, Wicus (Foto: Verskaf)

Van der Westhuizen het gesê die uitdaging wat sy vir haarself gestel het, het haar uitkyk op inkopies verander.

“Ek het besef menslike besittings moet nie definieer wie jy is nie, dit bepaal nie jou geluk of skoonheid nie. Kyk binne jouself en laat dít definieer hoe gelukkig jy is. Goed soos klere koop moet jou nie ryker aan geluk maak nie,” verduidelik sy.

“Aan die ander kant het dit my ook geleer hoe dankbaar ons moet wees. Ek het baie keer voor my kas gestaan wanneer ek my uitrusting vir die dag moet kies, en al kon ek niks koop nie, het ek steeds genoeg gehad om te dra. Dit het my laat besef hoe bevoorreg ʼn mens is om klere te hê en om boonop genoeg klere te hê om vir ʼn jaar lank niks ekstra hoef te koop nie.”

Hoewel Van der Westhuizen al sedert 1 Januarie weer “mag” klere koop, het sy nog nie die winkels binnegevaar soos die meeste mense dalk sal verwag nie. Sy meen sy het eenvoudig nog nie belanggestel om iets te gaan koop nie.

“My man het wel vir my ʼn hemp vir Kersfees gekoop. Dit het my baie gelukkig gemaak. Wanneer ek wel weer winkels toe gaan sal ek beslis vir my langbroeke koop. My sokkies het ook baie gate in, so ek sal beslis nuwes moet koop,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ann ·

Goeie werk jong dame, ons spandeer graag vir pret in dit is eintlik verkeerd, ons moet doelbewus daaraan werk om regte stokperdjies te ontwikkel.

Pieter ·

Ek dra nog klere wat ek gekoop het voor ek getroud is, (21 jaar). Ons was ons klere met gehalte poeier en ek voel ‘n veer of dit in die mode is of nie… Solank die belangrikste anatomiese dele bedek is, en die klere nie verslete is nie, is ek reg daarmee. Het ook 5 pare skoene wat ek elke dag wissel…. Koop liewer kos as klere… Die kinders se skool klere is ander saak, maar dinge soos tasse ens moet ten minste 2 jaar gaan voor ek dit vervang. Koop ook nie sogenaamde “labels” nie. Die P-E-P Boutique klere hou net so lank soos duur goed as jy mooi daarna kyk.

mini ·

ek koop bySPCA EN HOSPICE, winkels, jy kry baie woollies, klere ,ons het so paar ‘TRIFTSHOPS in die suidkus…. goeie wit hemp, vir man, dit woollies hemp, hele R25.00 , golfbroeke R10.00 stuk, en dan word die organisasies ook gehelp, so shop maar rond, ek het ook al Tupperware en blikke gekoop vir baie goedkoop

Marga ·

Waar in die Suidkus is jou winkels, want ek sou baie graag daar wou gaan inloer.

mini ·

shelly centre, net langs die havey travel is spca winkel, en in port Shepstone, by spar centre en ook by baptiste kerk in sheppie oorkant die hospitasl, mens kan retig goeie klere kry…. ek het ook vir kind t hempe en broeke gekry t hempe so R15 stuk, ek koop niks voor ek nie eers daar gekyk het nie…daar is ook hospice winkel in sheppie, naby die sheppy skool

MJ ·

Stem saam. Mens hoef nie kaste en kaste vol klere te hè. ‘n Paar basiese items wat jy afwissel en elke dag lyk jy splinter nuut. Dis ongelooflik om te sien waarheen jou geld gaan, as jy eers begin somme maak.

Essa ·

Om te spaar om ‘n doelwit te bereik is prysenswaardig, maar met R2000,00 per maand beskikbaar vir klere is dit ook nie juis ‘n prestasie nie. Daar is werklik baie mense wat sonder om eers daaroor te besin vir ‘n jaar nie kan klere koop nie en steeds goed en versorg lyk.

IK ·

Nie juis vir my ‘n groot prestasie maar ‘n lewenwyse. Party sal sê dis suinigheid of bloot slegtigheid/vrekkerigheid. My oorlede vrou het die kuns verstaan om klere heel te maak en die kraag van ‘n hemp om te draai dat dit soos ‘n nuwe lyk. Ons was oorlogsbabas en dis ook seker waar deur ons ouers se spaarsamigheid die uitrek van ‘n item se lewe die grondslag gekry het. Die dra van ander kinders/grootmense se klere was ook gereeld gedoen mits dit ‘n bekende was. Stop maar ook daardie kouse soos ek vir 50+ jare dit doen. Daar is stopwol by name ‘Sock Wool’ te kry. Gaan kyk by https://www.google.com/search?q=saprotex+international+east+london&oq=saprotex&aqs=chrome.2.69i57j0l5.9425j0j8&sourceid=chrome&ie=UTF-8 vir Saprotex se inligting.
Ek sien dat 40% van skuldbetalers agter raak met betalings. Ek wonder hoeveel van hulle het nie DSTV??

Jakkie ·

Dis nie ‘n prestasie nie. Sy is einde 2017 getroud, maw sy was opgestock met nuwe klere vir haar wittebrood en bruidsuitset, sy het dus nie nodig gehad om gedurende 2018 nuwe klere te koop nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.