30 Kerswense word die maand waar

ER24 en Solidariteit Helpende Hand het bejaardes bederf met ‘n uitstappie na die strand. (Foto: ER24)

Drie bejaardes van die Ons Huis-ouetehuis in Mosselbaai is die week bederf met ʼn uitstappie na die strand toe en ʼn roomys vir elkeen.

Dié inisiatief vorm deel van Solidariteit Helpende Hand se Wes-Kaapse streek se planne om 30 Kerswense vir behoeftige mense waar te maak oor 30 dae. Vanaf 1 tot 30 November kan mense nominasies instuur vir ʼn Kerswens om waar te word.

“Een van die dames was 18 jaar laas buite die ouetehuis en nog ʼn dame het vir die eerste keer in jare emosionele reaksie getoon,” vertel Alisha de Lange, Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Wes-Kaap, aan Maroela Media.

Dié uitstappie is deur die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging genomineer en moontlik gemaak met behulp van ER24 se draagbare en ambulanse.

“Ons is nou maar aan die begin van die inisiatief, maar ons gaan definitief 30 wense laat waar word,” sê De Lange.

Sy vertel dat hulle juis Donderdag op pad was om ʼn behoeftige seun by sy skool in Swellendam met ʼn splinternuwe fiets te verras. “Ons is tans besig om die fiets aanmekaar te sit. Die gesin sukkel en kon nie in die laaste twee jaar Kers- of verjaardaggeskenke bekostig nie.”

Vroeër die week het Helpende Hand ʼn geskenkbewys aan ʼn gesin in Stilbaai gegee om klere by Pep te gaan koop. “Die versoek is deur die gesin se dogter ingestuur. Haar pa het ʼn motorfietsongeluk gehad waarin sy arm vergruis is en dus kan hy nie meer werk nie.”

Laastens vertel De Lange dat hulle ook ʼn gr. 7-meisie in Die Strand gehelp het. Sy moes haar bed met haar jonger boetie deel en hulle het haar gehelp om haar eie bed en beddegoed met ʼn Parys-tema te kry.

“Ons beoog om so R1 000 per projek te bestee. Die geld wat ons gebruik, kry ons van ons winkels in die streek. Die klereskenkings wat mense vir ons bring om in ons winkels te verkoop hier in die Wes-Kaap word werklik teruggeploeg in die gemeenskap.”

Dit is die derde jaar wat die inisiatief aangepak word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Patat ·

Ek het self baie arm groot geword en ons grootste verrassing was wanneer die kerk met sy boksie vol kersfees kossies kom elke einde November. Niks “Fancy” nie maar op tyd en elke jaar kan ons beplan tot die boksie opdaag. Dan kry ons so een of twee komberse en die immer gewilde blikke pynappelstukke, jellie, houer vla, pakkie harde lekkers en koekmeel…… mamma kon koek bak want ons het ons eie drie hoender henne gehad vir eiers. Moenie enige geskenk misreken nie!! Prys die Here vir Sy genade en liefde…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.