4 100 worsbroodjies, gebed help gesondheidswerkers om moed te skep

Daar is buite drie van die hospitale vir die gesondheidswerkers en pasiënte gebid as deel van die ‘Julle is binne, ons bid buite’-veldtog. (Foto: Heinrich Weideman)

Meer as 4 000 gesondheidswerkers van agt hospitale en ander instansies in Klerksdorp in Noordwes is Saterdag deur gemeenskapslede trakteer met worsbroodjies en koeldrank om hulle te bemoedig te midde van die voortslepende Covid-19-pandemie.

Sowat 100 lede van die gemeenskap het gehelp om altesaam 4 100 worsbroodjies (sowat 700 kg wors) vir omgeepakkies voor te berei wat saam met 5 000 koeldranke en botteltjies water aan gesondheidswerkers uitgedeel is.

Gesondheidswerkers en lede van die gemeenskap het ook saam gebid buitekant die hospitale. Volgens Ignaz Streicher, omroeper en bestuurder van die gemeenskapradiostasie Overvaal Stereo wat dié gemeenskapsprojek gedryf het, het die idee vir die projek ontstaan toe hy ʼn mismoedige boodskap van ʼn vriend in die gesondheidsektor gekry het.

“Dit was hierdie boodskap wat my laat besef het iets moet gedoen word om vir die mense wat die voortou neem in hierdie aardige tyd te sê: Byt net vas. Ek het ure daardie nag rondgerol en gewonder hoe maak ek ʼn verskil om hierdie mense wat alleen in die hospitale veg te verseker ons ouens aan die buitekant waardeer dit.

“Dit was in daardie selfde oggendure wat die woorde by my opgekom het: ‘Julle is binne, ons bid buite’. Ek het besluit om die worsbroodjieprojek van stapel te stuur en so vir die oorwerkte personeel te sê ons weet en ons verstaan.”

Hy vertel hy het ʼn geloofsprong geneem en aangekondig dat Overvaal Stereo vir elke hospitaalpersoneellid, van dokters tot skoonmaakpersoneel, van ʼn omgeepakkie te voorsien. “Ek het rondgebel en vriende, familie en kennisse het dadelik my hande begin sterk maak.”

Gesondheidswerkers en gemeenskapslede het hande gevat buite die hospitale om saam te bid. (Foto: Heinrich Weideman)

Die projek is van stapel gestuur met vrygewige skenkings deur gemeenskapslede. “Dit is onmoontlik om elke persoon en sakeonderneming wat bygedra het op te noem, maar ek bedank elkeen van hulle hartlik daarvoor.”

Die gemeenskap het ook aan die einde van die dag buitekant drie van die hospitale gebid vir die gesondheidswerkers en pasiënte as deel van die ‘Julle is binne, ons bid buite’-veldtog. Streicher sê dit was die hoogtepunt van die dag.

“Dit was ʼn afsluiting wat ons nooit, ooit sal kan vergeet nie. Dit het skielik begin sousreën, maar dit het ons nie gekeer om buitekant drie hospitale te gaan bid nie. Van die gesondheidswerkers binne het uitgekom en saam met ons hande gevat en gebid. Dit was ongelooflik; ek kan nie die gevoel vir iemand in woorde beskryf nie.”

Hy sê sy kollega, die gesoute radio-omroeper Melanie von Steen, het dit die hoogtepunt van haar radioloopbaan genoem.

“’n Gesondheidswerker het op Facebook geskryf dat hulle die vorige dag personeel verloor het weens Covid-19 en dat hulle nie die krag gehad het om die dag te gaan werk nie, maar dat ons hulle só bemoedig het met die omgeepakkies en gebed – en dit is presies wat ons wou doen.”

Motoriste het ook in die verbygaan toeters geblaas om hulle dank aan die gesondheidswerkers en ander hospitaalpersoneel te betuig.

“Ons hoop is dat ander dorpe ons voorbeeld sal volg en ook hulle gesondheidswerkers sal bemoedig en ondersteun met die krag van gebed. Hulle veg onverpoosd vir die mense vir wie ons lief is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.