50 amandelbome vir sorgsentrum geplant

AfriForum plant spekbome vroeër vanjaar in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Vrydag sy jaarlikse boomplantmaand-inisiatief afgesluit deur 50 amandelbome (Prunus dulcis) aan die Maranata-sorgsentrum buite Pretoria te skenk.

Altesaam 140 AfriForum-takke reg oor Suid-Afrika het gedurende September en Oktober vanjaar gewoeker om meer as 3 300 bome te plant. Sedert die projek in 2011 van stapel gestuur is, het dié organisasie al bykans 16 000 bome geplant.

Die projek is einde Augustus vanjaar afgeskop deur ses Natal-vyebome (Ficus natalensis) by The Lucky Lucy Foundation buite Malmesbury in die Wes-Kaap te plant.

Bekendes soos die voormalige Binnelanders-aktrise Pascal Pienaar het onder meer vanjaar hand bygesit met die plant van spekbome in Kaapstad.

Daar is vanjaar op twee bome gefokus: ʼn algemene boom en ʼn skaars boom. Die algemene boom is die Kaapse essenhout (Ekebergia capensis) en die skaars boom die welbekende kremetart (Adansonia digitata).

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake, sê dié inisiatief is deel van AfriForum se pogings om ʼn volhoubare toekoms te verseker vir generasies wat kom.

Die voormalige Binnelanders-aktrise Pascal Pienaar help om spekbome te plant vroeër vanjaar in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

“Bome is simbole van oorlewing, want oor tien jaar kyk jy na elke boom wat jy geplant het en sê: ‘Ons het oorleef’. Vanjaar se projek is veral belangrik omdat ons hoop kon skep dat ons die Covid-19-pandemie sal oorleef. In die onsekere tydperk waarin ons leef is dit belangrik om te weet dat ons die begin van nog ʼn lenteseisoen en ʼn nuwe begin met só ’n projek kon vier.”

Vanjaar is AfriForum-takke en -gemeenskapslede oor die land heen aanmoedig om buiten die bome wat in grootmaat deur die organisasie geplant is, ook bome by wonings, skole, kerke, gemeenskapsentrums, ouetehuise en parke te plant.

“Ons het takke ook aangemoedig om uit die lesse van die inperking en die Covid-19-pandemie te leer en waar moontlik vrugtebome te plant,” sê De Klerk.

Hy voeg by dat deur bome te plant, ʼn mens nie bloot besig is om slegs die omgewing te bewaar nie, maar word ook gewys dat daar hoop is vir die toekoms.

“Net soos bome ʼn belangrike rol in die land se welstand speel, simboliseer dit ook die land se mense. Ten einde Suid-Afrika te maak werk, moet ons almal ons deel doen. Alle bome werk saam en dit speel ʼn rol in die werking van die ekostelsel. Ons sal hier woon en hierdie land aanhou opbou sodat almal kan floreer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
AJ

WONDERLIK!

Dup

Dit is wat ñ land vorm,deur te plant en te bou.