50 goue jare vir RSG se ‘Loof die Here’

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Op Sondag 6 Februarie vier RSG ʼn besonderse mylpaal wanneer die alombekende musiekprogram Loof die Here sy 50ste bestaansjaar gedenk.

Magdaleen Kruger, voormalige stasiebestuurder van RSG en tans aanbieder van Loof die Here, sê dit is min dat ʼn radioprogram so lank in ʼn radioskedule oorleef.

“Tradisie, sou ek sê, speel beslis ʼn rol… in die sin dat luisteraars oor dekades so gewoond raak aan programme, dat hulle dit moeilik laat gaan.”

Sy sê verder dat Loof die Here-luisteraars lojaal is en al ʼn lang pad saam met die program kom.

Magdaleen Krüger. (Foto: RSG)

“Dit is interessant om te weet dat dit ʼn soort program is waar geslag ná geslag van ʼn huishouding aanhou luister. Hulle word in ʼn huis groot waar die program geluister word en dan hou hulle aan luister, en hulle kinders word dan weer groot met die program en hou ook aan luister. So gaan die siklus aan.”

RSG se oudste program is U eie keuse, dan is dit Loof die Here en kort op sy hakke volg Monitor. Dit is die drie programme wat steeds van die vroegste dae van die Afrikaanse Radiodiens (met naamveranderinge oor die jare heen), op die lug is.

Kruger ontvang gereeld terugvoer van luisteraars wat om verskeie redes Sondae inskakel. Een van die mees algemene oorwegings is die gewydheid van die program.

“Sommige luisteraars beskou dit as geestelike pitkos, ander hou net weer van die atmosfeer van Loof die Here se musiek. Ander is doodgewoon musiekliefhebbers en dan ook, soos hulle dikwels laat weet, bring dit party mense in die gees van die Sondag en dien as voorbereiding vir dié wat kerk toe gaan,” vertel sy.

Alle volke loof die Here, soos die program met gewyde musiek aanvanklik bekend gestaan het, het in 1972 met Fanie Smit as aanbieder begin.

Smit, wat in 2016 in die ouderdom van 80 dood is, was ʼn liefhebber van geestelike en gewyde musiek, veral die soort wat in groot katedrale opgeneem is.

Alle volke loof die Here, soos die program met gewyde musiek aanvanklik bekend gestaan het, het in 1972 met Fanie Smit as aanbieder begin. (Foto: Verskaf)

Hy het Robert Schmidt, die destydse organiseerder van godsdiensprogramme by die SAUK, met sy idee vir die program genader. In daardie tyd was die SAUK se hoofkantoor nog in Commissionerstraat in die Johannesburgse middestad geleë, en dit is hier waar Alle volke loof die Here begin het.

Tot op hede het Loof die Here nog net drie aanbieders en samestellers gehad. Smit het die program tot in Maart 2016 aangebied, daarna het Wouter de Wet, ook bekend as aanbieder van Dis opera, in April 2016 die leisels oorgeneem. Maroela Media het in 2020 berig dat De Wet na ʼn maandelange kankerstryd in die ouderdom van 79 dood is.

Ná sy uittrede in Desember 2019 het Kruger, wat deel was van die programtitel se verandering van Alle volke loof die Here na Loof die Here, hom as aanbieder opgevolg.

JS Bach se kantate BWV 129, Gelobet sei der Herr, mein Gott (Loof die Here, my God), is van meet af gebruik as die kenwysie van hierdie program. Al sal die puris ʼn effense distorsie hoor, is die tradisionele kenwysie steeds elke Sondag se openingsklank.

Wouter de Wet (Foto: Rsg.co.za)

Loof die Here se mylpaal word vir twee weke lank gevier. Op Sondag 6 Februarie net na 08:00 kan luisteraars inskakel vir ʼn program waarin Kruger onder meer argiefmateriaal uit Smit en De Wet se programme sal insluit.

ʼn Week later, op Sondag 13 Februarie, sal luisteraars se heel gewildste snitte van die afgelope vyf dekades gehoor kan word. RSG se luisteraars het reeds hul keuse aangestuur.

Die goue draad wat regdeur die afgelope 50 jaar se programme loop, is die “outydse Halleluja-lied” wat altyd vir “durende vrede tussen die samesteller en aanbieder asook die program se aanhangers” gesorg het, meen Kruger.

Die ander versoek wat ook nog nie stoom verloor het nie, is vir Rudi Neitz se “Hoe groot is U”.

Volgens Kruger bly “Highland Cathedral” se gewildheid ʼn raaisel. Dis nie naastenby ʼn geestelike of gewyde kerklied nie, en tog een van dié gewildste versoeke. Die lied is in 1982 spesiaal vir die Highland-spele gekomponeer wat daardie jaar in Duitsland aangebied is. Kruger sê: “Ek dink dis die doedelsakke wat die ding doen.”

RSG vier later vanjaar nog ʼn groot mylpaal wanneer dié radiostasie op 27 Oktober sy 85ste bestaansjaar vier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.