54-jarige ry 1 000 km met fiets vir gestremdes

Deon Havenga gaan 1000km langs die Mosambiekse kus aflê (Foto: Verskaf)

Deon Havenga, ’n 54-jarige man van Ficksburg in die Vrystaat, beoog om 1 000 km op sy bergfiets al langs die Mosambiekse kus af te lê ten bate van ’n groep gestremdes.

Havenga het in samewerking met die liefdadigheidsorganisasie, 110 Foundation, besluit om dié liefdadigheidstog van die vissersdorpie Inhassoro tot Ponta do Ouro in Mosambiek oor 30 dae aan te pak.

Havenga het reeds op 30 Julie weggespring en trap dat die sand spat.

Volgens dié kranige fietsryer se dogter, Charne Havenga, het haar pa een oggend wakker geword en besluit hy gaan vir hom ’n fiets koop en op die strand ry. Daar was tóé geen keer aan hom nie.

“Mosambiek se strand lê my pa baie na aan die hart. Vandat ek kan onthou, het ons daar gaan vakansie hou,” vertel Charne.

Havenga het verlede jaar 200 km op die strand afgelê om geld in te samel vir sy skoonsuster se seun, Gerhard Roos, wat gestremd is en in daardie stadium dringend geldelike bystand benodig het.

Roos is oorgeplaas na ’n tehuis vir gestremdes in Pretoria omdat hy so vinnig agteruitgegaan het. Die tehuis se koste was baie hoog.

’n Facebookblad is vir Gerhard Roos gestig en ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie, GOOI, het ook ingespring om Gerhard met die nodige geldbydraes te help. Havenga is ook aktief by hierdie organisasie betrokke.

GOOI in samewerking met ’n ander plaaslike liefdadigheidsorganisasie, Round Table 98, het tóé kragte saamgesnoer en die 110 Foundation-organisasie gestig wat hierdie fietsry-inisiatief van stapel gestuur het.

Havenga wil die strawwe fietsrit in 30 dae probeer klaarmaak deur tussen 40 km en 60 km per dag af te lê.

Volgens Charne kan Havenga slegs ry wanneer dit laagwater is en daarom word sy rytyd baie beperk.

Havenga moet elke dag dik sand trotseer (Foto: Verskaf)

Ná ongeveer ’n week het Havenga reeds 220 km met vele uitdagings afgelê.

Afgesien van die dik sand wat Havenga elke dag moet trotseer, maak die geweldige hitte dit ook ’n moordende rit.

Volgens Charne gaan party dae beter as ander. “Die een dag was my pa baie mismoedig, want hy moes sy fiets oor ’n meer dra. Hy voel nou baie meer positief en sien baie uit na die reis wat voorlê.”

Geld word ingesamel vir vyf gestremde persone, Billy Stoltz, Gerhard Roos, Vidrie Swanepoel, Koos van der Merwe en Jan le Grange, wat dit broodnodig het. Die publiek kan geld skenk vir elke kilometer wat Havenga voltooi.

Besoek gerus die niewinsgewende 110 Foundation-organisasie se Facebookblad om meer uit te vind oor die liefdadigheidstog en hoe jy kan bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

Gestremdes in my hart want ek self is gestremdes. Maak my hart oop en gebreek . Die Lewe is wreed teenoor alle gestremdes waar al die beloftes wat SA gemaak het soos “hoop” of “voordele” of “toekoms”. SASSA te min. Gestremdes wat nie kan of nie het werk nie hoe kan hulle hulpmidddel bekostignet Bv : dowes om beter kan hoor om te werk kan soek ens Hoe damn moet gestremdes wat nie kan werk nie salarise verdien nie om goeie sorgpleeg kan gekostig . Ek seen elkeen wat betrokke raak en glo vertrou sal goed verloop en uit my hart dankie baie x

Juan ·

Dis nie maklik op “In shape” te wees op 54. Na 1000km is die pens nog nie weg nie! Oud word is nie vir sissies nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.