600 pak ysige water vir goeie doel

Deelnemers aan die Dotsure Polar Bear Plunge durf die koue see by Victoriabaai aan.
Foto: Eugene Gunning

In net swemklere het meer as 600 mense Saterdag in die middel van die winter die ysige seewater by Victoriabaai aan die Suid-Kaapse kus aangedurf. Hulle het deelgeneem aan die jaarlikse Dotsure Polar Bear Plunge wat gehou word ten bate van liefdadigheidsorganisasies en dierewelsyninstansies.

Die enigste “toegangsgeld” wat deelnemers moes betaal, was ʼn kombers wat aan instansies wat hulpbehoewendes ondersteun geskenk word. Die instansies maak seker dat mense en diere heerlik warm in die winter onder die geskenkte komberse kan slaap. Soveel as 668 komberse is ingesamel en dit beteken dat minstens soveel mense en diere elkeen onder ʼn warm kombers sal kan slaap.

Deelnemers van reg oor Suid-Afrika het opgedaag en oud en jonk het deelgeneem. Dit was die derde keer dat die geleentheid aangebied is.

Reeds van vroeg oggend was daar groot opgewondenheid. Mense het eers in groepe gestaan en koffie drink om die koue te verdryf.

Kinders het op springkastele gespring en hier en daar het ondeunde seuntjies en dogtertjies mekaar met waterpistole natgespuit.

Peter Matthys van George Bikers Church het met meer as een kombers opgedaag. Hy het gesê op ʼn motorfiets word dit baie koud. Hy neem deel omdat hy wil help. “Jy slaap elke aand warm in die bed. Miskien met ʼn kombers. Wat van die minderbevoorregtes?

“Ek wil nie vir hulle geld gee nie, want ek weet nie wat hulle daarmee gaan doen nie. Hier weet jy waar die komberse heen gaan.”

ʼn Span stadsraadslede van George het ook nadergestaan. Hulle was baie opgewonde en het ʼn rukkie vergeet van die daaglikse munisipale uitdagings.

Kort na 10:00 het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) deelnemers oor veiligheidsmaatreëls ingelig en toe het deelnemers op die strand aangetree. Die organiseerders het geraam dat die temperatuur in die see op 16 grade Celsius staan. Verlede jaar was dit 13 grade Celsius.

Die deelnemers het in verskillende groepe weggespring en sowat 50 meter die see in en terug geswem. Hulle het opgewonde die see ingehardloop. Terug op die strand, kon nie hulle nie uitgepraat raak oor die ondervinding nie.

Eerw. Peter Veysie van die George Metodiste-kerk het gesê dit was die derde keer dat hy deelgeneem het. “Ek doen dit vir liefdadigheid. Dit was nie so koud nie,” het hy gesê.

Karin Rothner en Carl le Roux van First Care Wildfire het die see sommer in hul uniforms aangedurf.

Karin het gesê die water was redelik koud. “Ons uniforms was ʼn bietjie swaar toe dit nat geword het.”

Carl het gesê: “Miskien sal ek dit weer doen aanstaande jaar. Ek sal daaroor dink.”

ʼn Groep vriende, Timothy Lilly van Wellington, Reynier van Rooyen, ook van Wellington, Sheree Dawson van Bloemfontein en Janie van Rooyen van George het die see saam aangedurf.

Timothy, wat in die gebied vakansie hou, het gesê hy het gedink dit is iets lekker om saam met vriende te doen. “Dit was vrek lekker. Ek is nie vir een oomblik spyt dat ek dit gedoen het nie.” Volgens hom het dit die adrenalien laat vloei.

Reynier het gesê dit was nie sou koud nie en Janie het gesê dit was ʼn “ongelooflike belewenis”.

Sheree gesê sy is baie bly dat sy dit gedoen het. “Dit was bitter koud, maar ek sal dit beslis weer doen.” Sy was voor die tyd baie bang vir die koue water.

Leon van Wyk, stadsraadslid van George, het gesê die water was kouer verlede jaar. “Eindelik was die water heel lekker en verfrissend vanjaar. Dit is aangenaam om saam met almal hier te wees en ook ander mense te help. Ons in George is bevoorreg dat hier instansies is wat besorg is oor mense.”

Hy is beïndruk met die betrokkenheid van die burgerlike samelewing, die private en die openbare sektor. Hulle het kragte saamgesnoer en dit moontlik gemaak dat die geleentheid kon plaasvind.

Volgens David Roache, besturende direkteur van Dotsure, is dit nie moontlik om so ʼn geleentheid sonder die hulp van al die belangegroepe aan te bied nie. Hy het gesê Dotsure is betrokke want dit is ʼn aangeleentheid met verdienste. Die maatskappy hoop dat hy met sy betrokkenheid ander positief sal beïnvloed.

Die swemmery sal aanstaande jaar beslis weer aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E.K. die eerste ·

Sjoe ek bewonder die mense – ek is gans te koulik, selfs die water in Mauritius is vir my nie warm genoeg nie! Ek sou maar net komberse skenk en van die wal af aanmoedig. Baie mooi mense!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.