65 maniere om jou vaardighede in 2020 uit te brei

S-leer, Solidariteit se sentrum vir voortgesette opleiding, het leerplan van 65 kursusse bekendgestel, wat dit van 2020 sal aanbied. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

S-leer, Solidariteit se sentrum vir voortgesette opleiding, het Dinsdag in Centurion ʼn splinternuwe leerplan van 65 kursusse bekendgestel, wat vanaf 2020 aangebied sal word.

“Ons het besluit om ʼn week voor die Solidariteit Beweging se tweede Toekomsberaad self hoop te skep. Ons wil dit doen deur mense te help om hulle vaardighede in die werksplek op te skerp en selfs nog verder uit te brei,” het dr. Juran van den Heever, besturende direkteur van S-Leer, gesê.

Dié sentrum, wat voorgesette professionele ontwikkeling (VPO) vir professionele persone aanbied, is die primêre diensverskaffer vir opleiding van Solidariteit se onderskeie beroepsgildes. S-Leer fokus ook op persoonlike en loopbaanontwikkeling deur seminare, webinare, kort kursusse, gespreksgeleenthede en e-leersessies.

“Ons het sedert die sentrum se ontstaan in 2018 reeds meer as 1 500 mense met 17 kursusse opgelei.

“Dit is vir S-Leer belangrik om ʼn kultuur van leer onder werknemers en werkgewers te vestig, veral met die Vierde Industriële Rewolusie (4IR) wat op hande is en die werksplek, soos ons dit ken, onherroeplik gaan verander,” het Van den Heever gesê.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het hierby aangesluit en gesê die ledegetalle vir vakbonde is wêreldwyd besig om af te neem omdat die tradisionele vakbond sukkel om die skuif na die inligtingsrewolusie te maak.

“Dit help nie om net te staak soos wat die bankvakbonde wil doen met die verandering wat nou lei tot afleggings in die banksektor nie. Veerkragtigheid is die nuwe gonswoord en dit is Solidariteit se verantwoordelikheid om werknemers met die nodige kennis toe te rus om te verhoed dat hulle uit die nuwe ekonomie uitfaseer word.

“Dit is presies waarmee S-Leer, Akademia en Sol-Tech besig is en dit maak mense soos Panyaza Lesufi bang, want ons hou ʼn spieël voor hom wat wys ons is besig om te bou,” het Hermann gesê.

Gideon du Plessis, voorsitter van S-leer se direksie, het tydens die bekendstellingsgeleentheid by die Centurion-teater gesê Solidariteit het na sy lede as werknemers en hul spesifieke uitdagings in Suid-Afrika gekyk.

“Ons het besef ons moet iets meer aan hulle bied. Dit was belangrik om hulle nie net met kollektiewe bedinging te beskerm nie, maar ook te verseker dat hulle laaste deur afleggings geraak word, omdat hulle oor bepaalde vaardighede beskik waarsonder die werkgewer nie kan klaarkom nie.”

Du Plessis beaam dit is belangrik om eerder mense se vermoëns te ontwikkel as om net bloot te reageer op die ontwrigting in ʼn werksplek.

Volgens Van den Heever gebruik S-Leer ʼn moderne model van gemengde leer om in Afrikaans opleiding aan enige persoon in die werksplek te bied.

Hy het ook gesê alhoewel mense dikwels bekommerd is oor 4IR en dat dit sekere werke kan bedreig, sal robotte en kunsmatige intelligensie sekere menslike vermoëns eenvoudig net nie kan vervang nie.

“Buiten kursusse wat jou sal help om die afleggingsproses of die Wet op Basiese Diensvoorwaardes beter te verstaan, het ons by S-Leer ook kursusse wat ʼn mens kan help om hulle sogenaamde sagte vaardighede op te knap.

“Ons het ook die tien kritieke vaardighede geïdentifiseer wat werknemers nodig het om hulle vir die 4IR voor te berei en daarom bied ons kursusse aan wat fokus op kliëntediensvaardighede, probleemoplossing, kreatiwiteit, emosionele intelligensie en kritiese denke om ʼn paar op te noem,” het Van den Heever bygevoeg.

  • Besoek S-Leer se webwerf vir ʼn volledige lys van kursusse wat in 2020 aangebied sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.