7 000 km op motorfiets is niks vir dié dokter nie

Dr. André Hattingh tydens Pediatric Care Africa se eerste Ride for a Child-rit. (Foto: Pediatric Care Africa/Facebook)

“Elke kind in ons land verdien ʼn kans. Kinders vra nie baie nie, ʼn bietjie liefde, ʼn kans, dis al wat hulle nodig het.”

Dís die rede, sê dr. André Hattingh, uitvoerende hoof en stigter van die niewinsgerigte organisasie, Pediatric Care Africa, waarom hy eersdaags ʼn motorfietsrit van 7 000 km aandurf.

Dié rit skop Sondag om 09:00 af by die White River Square-winkelsentrum in Witrivier, Mpumalanga, en sal tot Saterdag 4 Maart duur. Dit sal André se vierde mega-liefdadigheidsrit wees.

Hierdie allemintige reistog is ten bate van kindergesondheid, operasies en spesialisbesoeke. Daar word beoog om vanjaar 45 tot 70 kinders van die Laeveld by te staan met gratis operasies. Hulle wil ook graag 400 kinders na spesialiste toe neem om ander gesondheidskwessies aan te spreek.

“Elke jaar ry ons vir die kinders, elke jaar is daar nuwe kinders wat ons hulp nodig het. Dit is ʼn nimmereindigende siklus,” het André aan Maroela Media vertel.

Vanjaar se 7 000 km rit vorm deel van Pediatric Care Africa se plan om ʼn 1 000 operasies vir ʼn 1 000 kinders moontlik te maak. André het aanvanklik gehoop om 100 operasies per jaar moontlik te maak, maar hy het intussen besef dat dit nie haalbaar is nie.

“Ons kan net nie soveel operasies per jaar doen met ons klein organisasie nie.”

Die gemiddelde koste van ʼn operasie beloop sowat R59 000, met dokters wat dikwels hul tyd en diens aan die organisasie skenk. André nooi dokters wat graag op dié manier by die organisasie betrokke wil raak uit om met Pediatric Care Africa in verbinding te tree.

Weens die impak van die Covid-19-grendeltyd op toerisme in Mpumalanga, het talle mense hul werk verloor.

“Mense wat huise gehad het, is skielik nou sonder dak. Daar is net al hoe meer mense wat ons hulp nodig het.”

Pediatric Care Africa, wat sedert 2017 bestaan, het al sowat 2,2 miljoen maaltye en meer as 5 000 babapakkies met melk, kos en doeke uitgedeel. Nagenoeg 6 000 mense het al gratis mediese behandeling ontvang, 1 390 kinders is na algemene praktisyns en dokters geneem, en meer as ʼn 100 kinders het al operasies met behulp van die organisasie ontvang.

André beplan om op sy Harley Davidson-motorfiets vanjaar genoeg geld in te samel om nóg meer kinders te help. Tydens die rit gaan hy die mees noordelike, suidelike, oostelike en westelike punte van Suid-Afrika besoek, en sodoende ʼn denkbeeldige kring om die kinders van die land trek.

André beskryf homself as ʼn smulpaap en sien uit daarna om die heerlike kos van die Kalahari, Lambertsbaai se Muisbosskerm en ander kosverrassings langs die pad te ervaar.

Hy nooi enigiemand uit om by hom aan te sluit en dele van die reistog saam met hom op hul motorfietse mee te maak.

“Dit hoef nie ʼn lang deel te wees nie, dit is net lekker wanneer ons ʼn groot groep mense is wat saam ry.”

Motoriste wat André op die pad gewaar word gevra om te waai. “Vriendelikheid is nie te versmaai nie, veral wanneer mens al lank op die pad is,” vertel hy.

  • Individue en organisasies wat dr. André Hattingh graag per kilometer wil borg, kan hierdie webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.