7-jarige laat haweloses glimlag

Riley Roux

Riley saam met Jude. (Foto: Facebook)

Toe Riley Roux (7) van Pretoria-Noord een oggend op pad skool toe bekommerd vra wie vir die haweloses wat in die asblikke grawe gaan Kersgeskenke koop, het haar ma geweet hulle sal ʼn plan moet maak om te help.

Charlene Roux het aan Maroela Media vertel haar dogter, wat vanjaar gr. 1 aan die Noordelike Akademie voltooi het, het met die idee vorendag gekom om vir die 31 dae van Desember vir die haweloses in hul omgewing pakkies uit te deel met noodsaaklikhede soos bad- en eetgoed.

“Riley is nog altyd erg oor die boemelaars,” vertel Roux. “Dit ontstel haar as hulle in die asblikke grawe – dan vra sy vir my: ‘Mamma, is hulle honger? Hoekom grawe hulle in die asblikke?’”

Die Roux’s het besluit om vir die 31 dae van Desember elke dag ʼn pakkie met 31 items in vir ʼn hawelose persoon uit te deel. Die pakkies verskil elke dag en bevat items soos waslappe, seep, tandeborsels en eetgoed soos lekkergoed, skyfies, water en koeldrank. “Ons pak ook vars broodjies en vrugte in,” sê Roux.

Sy sê Riley fokus tans op die haweloses in Pretoria-Noord, omdat die gesin daar woon. “Dit is skokkend hoeveel hawelose mense daar is as jy eers begin oplet,” sê sy.

“Ons staan elke oggend vroeër as gewoonlik op om die pakkies bymekaar te sit. Vroegoggend is die beste tyd om die pakkies uit te deel, want dan drom die haweloses om die asblikke saam om iets te soek om te eet. Wanneer ons hulle nader, vra Riley vir hulle of hulle haweloos is en of ons ʼn foto mag neem. Sy vra ook vir hulle of hulle honger is.”

Sy sê hulle vra ook lighartige vrae. “Ons vra hulle wat hul gunsteling-kos is, en wat hulle wense is. Gister het Jeffrey, ʼn hawelose man, vir ons gelag oor die tandeborsel in sy pakkie, want hy het nie tande nie.”

Roux vertel sy is al lank betrokke by liefdadigheidswerk en glo dat Riley by haar leer oor omgee vir ander mense. “’n Kind moet van vroeg af leer dat as jy omgee en jou hart oopmaak vir ander, sal jou pad vorentoe ook oop wees.”

Sy sê daar is reeds soveel mense wat die projek wil ondersteun dat sy en Riley moontlik die projek tot in Januarie wil verleng. “Ons sal dit maand vir maand vat en kyk hoe dit gaan. Dalk gaan ons selfs nog oor tot in Februarie. Daar is baie mense wat wil help, en daar is baie mense wat hulp nodig het.”

Enigiemand wat graag iets vir die pakkie-projek wil skenk, kan Charlene by 084 502 0427 bel. Volg Riley en haar projek op die Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Genieve ·

Kyk nou hoe sit ek en huil dis die mooiste storie ooit wat ek al gelees het.

Christine ·

Ja Genieve ek het ook trane in my oe, dit is die mees onbaatsugtigste hulp ooit, mag die Here julle groot seen, want wat ons saai sal ons maai. Pragtige verhaal.

Krappie ·

Jammer om die negatiewe een te wees. Ek het al moed opgegee. Dis wonderlik om iets soos dit te gee, maar dis tydelik. Die mense het permanente hulp nodig. Dit bring ‘n oomblik se verligting, maar wat daarna?

Skerpioen ·

Hi Krappie, ek hoor wat jy sê. Maar ek doen nou ook al ‘n paar jaar uitreike en laat ek jou vertel: Hierdie mense is dankbaar en ja al hou dit vir net n rukkie….dis ‘n rukkie se geluk wat hulle nie sou gehad het nie. Well done Riley en dankie Mamma dat jy jou kind so ‘n goeie voorbeeld stel.

Lee ·

Jy het ‘n wonderlike kind mamma met ‘n mooi hart. Kleine Engeltjie!! Ek is bly daar is nog sulke omgee mense daar buite. Sal jou defnitief kontak om by te dra tot Riley se projek.

Rolene ·

Dit is so special. Maak my sommer skuldig voel omdat ek nie mense help nie.

ChristineV ·

Jy het ‘n pragtige gesindheid, Riley. Dankie vir die voorbeeld wat jy stel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.