70-jarige oumas laat spat stap-rekords

Elsa Meyer (70) Foto: Verskaf

Elsa Meyer (70) Foto: Verskaf

Eers was dit net ʼn pretloop op ʼn lui Saterdag saam met hul families, “sommer as tydverdryf”. Nóú skop Elsa Meyer (70) en Annatjie Greyvenstein (71) van Pretoria letterlik én figuurlik stof in jonger atlete se oë nadat hulle onderskeidelik ʼn wêreldrekord én ʼn Suid-Afrikaanse rekord in die afgelope naweek se Atletiek Suid-Afrika Stapkampioenskap laat spat het.

Dié kampioenskap word jaarliks in Kaapstad aangebied.

Elsa het die afgelope naweek die wêreldrekord vir die 20 km-kategorie verbeter nadat sy dié afstand in 2 ure 7 minute en 56 sekondes voltooi het. Die vorige rekordhouer, ʼn vrou van Amerika, se tyd was 2 ure, 12 minute en 27 sekondes.

Annatjie het daarin geslaag om die Suid-Afrikaanse rekord te verbeter nadat sy die 10 km-kategorie in 1 uur 2 minute 34 sekondes voltooi het.

Elsa vertel aan Maroela Media atletiek en sport is in haar bloed, maar om rekords te verbeter, het sy nooit verwag nie. “Ek het nooit begin stap met die idee om rekords op te stel nie. Ek was nie eers seker dat ek dit behoorlik sou kon doen nie,” verduidelik sy.

“Nou doen ek die stapkampioenskap, en daar is amper nie ʼn vrou van 40 wat my kan wen nie,” skerts sy.

Sy glo immers met hart én siel dat ouderdom bloot ʼn getal is. “Daarom het ek algeheel sesde geëindig by die ASA stapkampioenskap. Ek glo nie ek is oud of dat my ouderdom een of ander hindernis behoort te wees nie.”

Annatjie Greyvenstein (71) Foto: Verskaf

Annatjie Greyvenstein (71) Foto: Verskaf

Sy is soggens sommer al 05:00 op die pad om te stap, vier keer ʼn week aan’t oefen en neem elke Saterdag aan ʼn padwedloop deel. “Dís die sleutel tot sukses – om aan die gang te bly.”

Elsa neem boonop binnekort deel aan die wêreldkampioenskap in Perth, Australië waar sy haar titel as wêreldrekordhouer gaan verdedig.

Wynand Breytenbach, bestuurder van die Irene Atletiekklub waarvan albei die vroue lede is, meen dié klub skep ʼn geleentheid vir jonk en oud om pret te hê terwyl hulle oefen. Die klub bestaan uit meer as 700 lede wat hoofsaaklik hardlopers is met ʼn stapkontingent.

“Ons probeer ook baie terugploeg in die lewe,” verduidelik Wynand aan Maroela Media. “Ons klubhuis is op die Landbounavorsingsraad se terrein en die lede kan, weg van die verkeer, op dié plaasterrein oefen. Dit is natuurlik ernstige sake, maar ons wil ook baie pret hê. Lede bou vriendskappe terwyl hulle oefen. Dan pluk hulle die vrugte van hul harde werk met ʼn geleentheid soos die ASA-stapkampioenskap.”

Stapkompetisies se reëls is baie streng. Deelnemers moet só stap sodat hulle deurgaans in kontak bly met die grond. Daar mag geen sigbare verlies aan kontak met die grond wees nie. Die voorste been moet reguit wees (dus nie by die knie buig nie) vandat die voet kontak maak met die grond tot die been in ʼn vertikale posisie is.

Lees meer oor die kompetisiereëls of besoek die ASA Irene-atletiekklub se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kiepie ·

MM paragraaf 3 is sekerlik verkeerd want dit gee Me. Meyer se tyd as amper 5 minute stadiger as die vorige rekord.

Baie geluk aan die twee dames. Julle is voorwaar ‘n inspirasie

Landi Slatter ·

Dagsê Kiepie en Kowa

Dankie vir julle terugvoer. Daar het ‘n tikfoutjie ingeglip en die twee se tye is omgeruil. Ons vra om verskoning. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Kowa ·

Iewers moet fout wees. As die Amerikaanse vrou se tyd 2 ure 7 minute en 56 sekondes was is dit steeds vinniger as Elsa se 2 ure 12 minute en 27 sekondes. Dan het sy mos nie ‘n rekord verbeter nie.

Cherokee ·

Ek dink as daai twee dames my 5 kilos voor gee op ‘n 10k’s stap sal hulle steeds wen.

Theresa ·

Wow! Fantasties! Baie geluk en hou so aan – jul lyk ook wonderlik.

Karma ·

Well done tannies. Julle moet maar namens my stap – ek is 26 jaar jonger as julle en kan skaars van my lessenaar na die badkamer toe stap of my hart wil ingee …… Ai, die ouderdom is niemand se maat nie!

Santjie stoof ·

Nou toe nou.
Staande ovasie vir die dames.
Ek het nou weer moed geskep met my gestappery.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.