72 km per dag vir 72 dae op oefenfiets vir liefdadigheid

Morné Basson. Foto: Verskaf.

Morné Basson is duidelik ’n man wat van vreemde fiksheidsuitdagings hou. Hy het reeds vantevore 72 agtereenvolgende trapmeulmarathons aangedurf, terwyl hy ook die Comrades op sy trapmeul kafgedraf het.

Deesdae trek hy by dag 42 van sy jongste uitdaging: Om vir 72 agtereenvolgende dae daagliks 72 km op sy stilstaande oefenfiets te trap. En oudergewoonte is alles weer eens vir ’n goeie doel.

Net soos in die verlede sweet hy weer ten bate van The Character Company se #Bthat1-inisiatief. En hy was juis op sy oefenfiets toe hy met Maroela Media gesels het.

“Hierdie is heeltemal buite my gemaksone. Die laaste keer wat ek werklik hard geoefen het, was toe ek die Comrades by my huis voltooi het; dus was ek lekker onfiks, terwyl fietsry ook nie eintlik my sterk punt is nie,” het Basson, sonder om baie uitasem te klink, gesê.

En soos enige groentjie-fietsryer sal getuig: Jou agterstewe kry aanvanklik die swaarste op daardie saal.

Foto: Verskaf.

“My boude en bene was vrek seer – veral in die eerste twee weke van die uitdaging; tog glo ek dat fietsry minder stremming op jou lyf plaas. Die grootste uitdaging kan egter die eentonigheid wees en daarom is ’n positiewe ingesteldheid en wilskrag baie belangrik.”

Dit moet interessant wees om die data van sy fiksheidshorlosie te bestudeer – hy erken dat hy self reeds ’n groot verskil in sy fiksheidsvlakke kan sien, terwyl hy ook al vyf kilogram in die proses verloor het.

“Dit moes ’n hengse skok vir my liggaam gewees het – veral omdat ek vooraf nie op my fiksste was nie. My hersteltydperk het egter al met rasse skrede verbeter, maar mens kom tog agter dat daar nie altyd genoeg tyd is om jou lyf se batterye te herlaai nie.

“Sommige dae voel dit asof ek op die fiets kan vlieg, terwyl ek op ander dae weer dieper moet delf. Dit is ongetwyfeld ’n emosionele tuimeltrein en veral die alleenheid kan dit moeilik maak.”

Maar met genoeg slaap, die regte dieet, sterk ondersteuning en vasberadenheid om sy doelwit te bereik, trap hy daagliks die 72 km kaf.

Nadat hy die Comrades op ’n trapmeul voltooi het. Foto: Verskaf.

“Ek hou daarvan om ’n verskil te maak en op my, dalk vreemde, manier wil ek vir mense wys dat as jy op jou doelwit fokus, jy enigiets kan bereik.”

Benewens The Character Company – wat uitstekende werk onder jong seuns doen wat sonder ’n manlike rolmodel grootword – is dit vir hom ’n voorreg om sy fiksheid uit te leef.

“Daar is so baie mense wat enigiets sou gee om ’n fiets kan trap of om te draf, maar dit is weens omstandighede nie vir hulle beskore nie.”

Hy gaan altesaam 5 184 km trap en die 72 dae kom op 12 Desember by die Valley View Centre se Planet Fitness in Krugersdorp tot ’n einde.

Daar gaan 72 oefenfietse in die parkeerterrein wees en jy kan kom saam trap!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Willem

Ek sal 72sekondes dalk oorleef