74-jarige pak fietstoer van 4 300 km aan

Jakkie van der Colff. Foto: Facebook via Suiderkruis Fietstoer

Jakkie van der Colff. Foto: Facebook via Suiderkruis Fietstoer

Jakkie van der Colff, ʼn 74-jarige pensionaris van Pretoria, pak op 4 April ʼn fietstog van meer as 4300 km oor die lengte en breedte van Suid-Afrika aan om bewusmaking te kweek vir GrysKrag, ʼn organisasie wat na die regte en behoeftes van seniors omsien.

Van der Colff het in Oktober 2013 gepoog om iets te doen wat liggaamlike en geestelike krag van hom sou vereis. Hy wou in minder uur as wat hy oud was, toe 69, met sy trapfiets van Kaapstad na Pretoria ry. Hy het daarin geslaag om dié afstand af te lê in 62 uur en 47 minute. Hy het gemiddeld 111 km per dag gery en die toer in 13 dae voltooi.

Hy het in 2014 weer so ʼn tog aangepak en van die Kasteel in Kaapstad vertrek, ʼn reis reg om die land onderneem en weer in Kaapstad geëindig.

Hierdie keer wil hy egter sy rekord verbeter, sê hy. “Soms kom daar iets in ’n mens se bloed en dan bly dit daar. Dit wil nie weggaan nie, al wil jy dit nie meer hê nie. So iets is fietsry. Om fiets te ry is bevrydend en terapeuties en jou liggaam en gees baat daarby.”

Met verwysing na ʼn mens se denkvermoë en geheue sê hy: “Elke mens se eie gryskrag verminder soos wat die jare aanstap. Ek is egter betrokke by GrysKrag, ʼn organisasie wat sy lede help en bystaan om steeds deelnemende, verantwoordelike en aktiewe lede van die gemeenskap te wees al is ʼn mens ouer.”

Hieroor is hy geesdriftig. Hy sê dit is belangrik dat mense bewus word van die organisasie en as hy Suid-Afrika moet platry daarvoor, is dit reg. “GrysKrag hou lede ingelig oor ontwikkelings wat hul belange raak. Hulle verskaf gespesialiseerde inligting en leiding sodat lede hulle persoonlike sake doeltreffend kan hanteer. Daar word aandag gegee aan behuising, gesondheid, welsynsdienste, ekonomiese aangeleenthede, verbruikersake, veiligheid en sekuriteit, regsaangeleenthede en baie meer.”

Jakkie se tog begin by noordelikste punt van Suid Afrika, op die plaas Overvlakte sowat 50 km wes van Beitbrug. Vandaar ry hy na Kaap Agulhas en dan weer van Kosibaai in die ooste na Alexanderbaai in die weste.

Hy sê dit is belangrik dat mense gesond en fiks leef, selfs al is jy ouer. “Vir elkeen van ons is ʼn fikse gees en liggaam nodig om ons lewens voluit te kan geniet. Daarom het ek saam met GrysKrag besluit om dié projek aan te pak om mense bewus te maak van GrysKrag en die noodsaaklikheid daarvan om fiks en gesond te wees.”

Besoek GrysKrag se webwerf of volg Jakkie se fietstoer op die Suiderkruis-fietstoer Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.