75 Sol-Tech-studente promoveer ná indiensopleidingsfase

Dieselwerktuigkunde-, meulmaker- en elektries-studente van Sol-Tech het op 3 Maart by ʼn glansgeleentheid na die volgende fase van hul opleiding gepromoveer. (Foto: Verskaf)

Op 3 Maart is 75 dieselwerktuigkunde-, meulmaker- en elektries-studente van Sol-Tech by ʼn glansgeleentheid na die volgende fase van hul opleiding gepromoveer.

“Mag jy daar waar jy gaan, altyd die woorde van die Sol-Tech-roepstem onthou: ‘In sy almag is geloof my krag, môre begin vandag’,” het Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, die studente toegewens.

Dit is die eerste groep studente wat op Sol-Tech se nuwe kampus gepromoveer het, aangesien Covid-19-maatreëls dit in 2021 onmoontlik gemaak het om sulke geleenthede aan te bied.

Die groep studente is verder ook uniek aangesien hulle die enigste groep is wat met hul opleiding by die ou kampus in Kirkney begin het, die trek na die nuwe kampus meegemaak het en hul studies op Sol-Tech se nuwe kampus voltooi het.

Gert Victor is as die top-dieselwerktuigkunde-student aangewys en Rudolf Badenhorst was die beste elektries-student, terwyl Jacques Kleynhans en Marnitz Ellis as die toppresteerders vir die meulmaker-beroepskwalifikasie aangewys is.

Volgens Van Deventer is Sol-Tech geseënd met soveel hoogtepunte gedurende die afgelope 15 jaar, waarvan die onlangse ingebruikneming van ʼn nuwe wêreldklas-kampus en die ongekende belangstelling in dié beroepsopleidingskollege se opleiding verreweg die grootste is.

“Sukses word egter nie aan ʼn mooi nuwe kampus of groot studentegetalle gemeet nie, maar eerder aan die sukses van elkeen van ons studente. Ambagslui wat nadat hulle hier op die Sol-Tech-plaas was uitgaan, hulle drome verwesenlik en verder aan hulle toekoms bou.”

Sol-Tech se opleidingsmodel bestaan uit drie fases, naamlik teorie, praktiese opleiding in die werkswinkels, en indiensopleiding by ʼn goedgekeurde werkgewer. Tydens die promoveringsplegtigheid is daar erkenning gegee aan studente wat hul praktiese opleiding by Sol-Tech suksesvol voltooi het en eersdaags met hul indiensopleiding begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

RS ·

Fantasties! Baie geluk.

Ek bid dat ek 2026 finansies sal he om my kind ook daar te laat studeer.

Evelyn ·

Dit is nie goedkoop nie, maar uitstekende akademiese programme. My seun het oorweeg om die jaar daar te studeer, maar het ‘n ander rigting gekies. Kampus geriewe is uitstekend. Ek hoop julle sal dit kan bybring.

annie ·

sol-tech kan gerus maar ‘Sy’ ipv ‘sy’ gebruik. Afrikaners is nie de darling of Heaven nie. Voospoed hang van Hom af.

Evelyn ·

Jy besef MM het die berig letterlik getik.. hulle het van Deventer aangehaal. Daarom die gebruik van aanhalingstekens..

Brakanjan ·

Lees die oorspronklike artikel op Sol-Tech se website. Hulle het ‘n hoofletter gebruik

Brakanjan ·

Gaan lees die oorspronklike artikel op Sol-Tech se website.

Brakanjan ·

“Mag jy daar waar jy gaan, altyd die woorde van die Sol-Tech-roepstem onthou: ‘In Sy almag, is geloof my krag, môre begin vandag!’,” het Van Deventer die studente toegewens.

Wielspore ·

Dit is die resultate van harde werk en puik opleiding, kennis en ervaring bring sukses. Baie geluk aan die studente, opleidings beamptes en Sol-Tech.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.