8-jarige van Pta se buitengewone verjaarsdagwens

Carla-Mei op haar verjaarsdag (Foto: Verskaf)

Carla-Mei van Niekerk, van  Montana in Pretoria, wou vir haar 8ste verjaarsdag iets anders doen as  ʼn gewone partytjie – en sy wou ook nie self verjaarsdaggeskenke kry nie. Sy het toe besluit om eerder kinders by die Rock of Hope huis van veiligheid te help, en het haar maatjies gevra om haar by te staan.

Carla-Mei het op 1 Maart agt jaar oud geword. Sy het  ʼn partytjie-uitnodiging aan al haar maatjies gestuur waarin sy gevra het dat hulle vir die babas by Rock of Hope geskenke bring, eerder as vir haarself.

“Ek was verlede jaar betrokke by Rock of Hope, waar ek Kersgeskenke toegedraai het vir  ʼn fondsinsameling,” het Carla-Mei se ma, Cindy-Anne van Niekerk gesê. “Carla-Mei het heeldag met die babas gespeel en het dadelik verlief geraak op hulle.”

Toe Cindy-Anne vir Carla-Mei vra wat sy vir haar verjaarsdag wil doen, het Carla-Mei gesê sy wil  ʼn partytjie hou sodat almal vir die babas by Rock of Hope geskenke kan bring.

“Ek het al genoeg presente gekry. Ek het baie, maar daardie babas het niks, en hulle het dit eintlik baie meer nodig as ek,” het Carla-Mei volgens Van Niekerk gesê.

Die kar word vol presente vir Rock of Hope gepak (Foto: Verskaf)

“Die reaksie wat ons op die uitnodigings gekry het, was fenomenaal. Ons het by Rock of Hope gehoor watter produkte hulle die nodigste het. Party mense het ook kontant-donasies gemaak, waarmee ons dan self die produkte gekoop het,” het Van Niekerk gesê.

ʼn Kerk in Amerika, waarby Van Niekerk se suster betrokke is, het ook vir Carla-Mei belowe om die geld wat sy insamel vir dié projek, te verdubbel.

Op Carla-Mei se verjaarsdag het hulle toe meer as tien sakke klere, melk, doeke, babakos, en bokse vol speelgoed na Rock of Hope toe geneem.

“Elke keer wanneer ons nog  ʼn sak uit die kar gaan haal het, het Carla-Mei opgehelder en geskree: ‘Kyk! Hier is nog, hier is nog!’ Sy kon nie wag om die geskenke vir die babas te gee nie.”

Carla-Mei, haar maatjies en van die maatjies se ma’s het die hele dag

met die kinders by dié huis van veiligheid gespeel.

“Sy is net  ʼn energieke, sportiewe klein meisie.” het Van Niekerk gesê. “Sy het só baie uithouvermoë, as sy iets wil doen gaan sy daarvoor, en sy laat dit gebeur. Sy wil net mense help en  ʼn verskil maak.”

Carla-Mei en haar broer (Foto: Verskaf)

Volgens Van Niekerk wil Carla-Mei  ʼn ortopeed word wanneer sy groot is, sodat sy kan aanhou om mense te help en om  ʼn verskil te maak.

“Ek is so trots op haar, sy is regtig net anders en het  ʼn unieke roeping in die lewe. Om te dink dat  ʼn klein dogtertjie van agt jaar oud eerder geskenke vir minder bevoorregte babas wil gee as om dit self te hê, maak my verskriklik trots. Elke klein druppel in  ʼn groot emmer maak  ʼn verskil,” het sy gesê.

Volgens Van Niekerk gaan Carla-Mei nou elke jaar vir haar verjaarsdag én deur die loop van die jaar sulke projekte aanpak.

Volg Carla-Mei se liefdadigheidsprojekte hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

treurgrond ·

Carla-Mei , fantasties – ‘n groot toekoms wag op jou. Dankie aan almal wat haar ondersteun. Whoopi goeie nuus op ‘n Vrydag.

E.K. die eerste ·

So klein en sy maak so groot verskil! Baie baie mooi meisiekind!

Amanda Owen ·

Carla-Mei, jy het nie net ‘n mooi naam nie maar ook ‘n besonderse mooi hart! Mag Vader jou seën & mag jy baie harte aanraak in jou lewe. Met kinders/jongmense soos jy het Suid Afrika ‘n mooi toekoms!!!

sonja ·

Carla-Mei,laat jy die Tannie sommer tjank (hoop nie 1 van my kollegas sien my nie hehehe)jy’s n voorbeeld vir 100000000000000 daar buite!!!!!!!!!!!!Baie geluk met jou verjaarsdag wat alreeds verby is mag Liewe Vader jou styf in Sy hande hou en jy’s n voorbeeld vir baie van ons well done Carla-Mei!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.