80-jarige reis van Kaap tot Kaïro in haar Tazz

Julia voor haar vertrek verlede jaar (Foto: Facebook)

Wat haar besiel het om twee jaar gelede ʼn Kaapse radiostasie se ateljee te bel en luidkeels te verkondig dat sý – ʼn 80-jarige vrou – in haar 20 jaar oue Toyota Tazz die hele Afrika gaan plat reis, is vandag steeds onduidelik, vertel Julia Albu in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Maar die oomblik toe sy dit gesê het, het sy geweet: Mense het reeds van dié brawe plan kennis geneem en nóú is daar geen omdraaikans nie; veral nie nadat al wat media is haar storie begin volg het en Suid-Afrikaners landwyd haar begin aanpor het nie.

Toe doen sy dit maar, vertel Albu. Eers het sy half-snikkend en ietwat bang die pad van Kaapstad na Kimberley en daarna tot in Gauteng aangepak. Toe sy eers die oop pad Botswana toe vat, wou sy niks anders doen as bestuur en om die “vryheid van die ooptes” in te neem nie.

“Ek lag vandag nog oor my oproep na die radiostasie omdat ek nie weet wat oor my gekom het nie,” vertel sy oor die telefoon. “Dit was absolute waansin – maar die beste waansin wat ek nóg in my lewe beleef het.”

Die aanbieder het daardie dag oor die hedendaagse pryse van motors gepraat en die gesprek het ook gehandel oor die redes waarom mense hul motors gereeld vervang. Maar dis sommer bog, vertel sy. Haar getroue en geliefde Tracy – haar troetelnaam vir haar Tazz – het sedert 1997 al meer as 350 000km afgelê, maar sy was vol vertroue dat dié motortjie reg oor Afrika sal kan reis én haar boonop dan weer veilig terugbesorg by die huis.

Julia Albu tydens haar reis in Afrika (Foto: Facebook)

“Dit het my ʼn hele jaar geneem om vir die reis voor te berei,” vertel sy. “Ek het die wonderlikste mense tydens die voorbereiding ontmoet, onder wie ʼn egpaar wat voorheen ʼn soortgelyke reis aangepak het. Ek het baie by hulle geleer. Die snaaksste is ek het nie eens baie geld nie – om die waarheid te sê, ek het geen geld nie. Maar toe duik mense op wat brandstof kan borg, iemand het bande geborg en toe besef ek hierdie ding kan ʼn moontlikheid wees. Ek het nie vir ʼn enkele oomblik besef dat die hele reis so opskudding sal veroorsaak nie. Op die ou end het ek dit nie vir enigiemand anders as myself gedoen nie; ek het dit vir die pure vreugde daarvan gedoen.”

Albu het tydens dié reis 11 lande besoek en byna R60 000 se brandstof uitgery. Eers het sy Botswana toe gery, toe Zambië toe en daarna na Zimbabwe waar sy die Victoria-watervalle van “elke hoek moontlik af kon sien”. Daarna is sy Malawi toe, later Uganda, Noord-Soedan en toe Egipte. Haar alleentye “was besonders spesiaal”, maar so ook die tye toe haar seun spesiaal van Australië gevlieg het om ʼn ruk saam met haar te reis, haar skoonseun Kersfees en Nuwejaar saam met sy gesin prysgegee het om by haar aan te sluit en ook die tyd toe haar dogter vir ʼn paar dae saam met haar gereis het.

Sy vertel haar motortjie het oral waar sy gekom het ʼn skare gelok. “Tracy het haarself pragtig gedra. Ja, daar was opdraandes langs die pad, maar niks wat ons nie sommer gou-gou kon hanteer nie. Mense in al die lande was gaande oor Tracy. Gewoonlik as iemand só ʼn reis aanpak, doen hulle dit in ʼn sportnutsvoertuig of ʼn groter ding. Dié klein karretjie was nogal iets om te sien en ons het nie eers een enkele keer ʼn pap band langs die pad gekry nie.”

Tracy die Tazz word per boot van een grens na die ander geskuif (Foto: Facebook)

Die laaste been van die reis het waarskynlik gesorg vir die opwindendste tyd. Sy moes vir twee aande lank saam met ʼn klomp reisigers in ʼn kafeteria in Egipte oornag terwyl toegangspermitte goedgekeur word. “Alles was wonderlik,” sê sy. “Dit was só ʼn groot avontuur, en as jy 80 jaar oud is dink jy nie meer oor dinge nie, jy doen dit net.”

Albu sê sy wou met dié reis ook iets betekenisvols doen. Sy het dus ʼn liefdadigheidsorganisasie verteenwoordig wat hom beywer vir die bewusmaking van geletterdheid en ook in sommige lande boeke uitgedeel.

Minder as ʼn jaar later het sy genoeg rondgesit, vertel sy. Sy het ʼn splinternuwe plan: Sy en Tracy gaan weer die pad vat, dié keer die hele ent Londen toe. Albu het reeds aan die koningin van Engeland geskryf om die koningin oor haar besoek in te lig, nóú wag sy nog net vir ʼn antwoord en ʼn uitnodiging. En die koningin sal moet opskud, Albu wil reeds in Junie vanjaar teen haar 81ste verjaardag in die Verenigde Koninkryk aanland.

Tracy die Tazz tydens ‘n piekniek langs die pad – êrens in Afrika (Foto: Facebook)

“Ek het sommer net die brief gestuur en gevra of dit enigsins moontlik sou wees,” vertel sy. “As daar een ding is wat ek in die lewe geleer het, is dit dat jy ʼn geleentheid moet aangryp wanneer daar een is. So my beste vriendin – natuurlik Tracy – gaan vir ʼn groot diens, dan gaan ons die pad vat en vir die koningin kuier as sy nie te besig is nie. Mense vra my wat ek met Tracy gaan doen as ek nou wel in Londen gekuier het en of ek haar dalk by ʼn skrootwerf gaan los. Maar dis malligheid! Jy los mos nie jou beste vriendin alleen êrens in ʼn vreemde plek nie. Ons gaan saam terugry en dan kyk wat hou die toekoms in.”

Albu is nou op soek na ʼn borg wat haar kan bystaan om die brandstof na Londen te betaal. Diegene wat met haar in verbinding wil tree, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]. Besoek ook haar amptelike blad, My African Conquest, op Facebook.

Julia Albu tydens haar reis in Afrika (Foto: Facebook)

Tracy die Tazz langs die pad (Foto: Facebook)

Tracy die Tazz tydens ‘n piekniek langs die pad – êrens in Afrika (Foto: Facebook)

Tracy die Tazz langs die pad (Foto: Facebook)

Julie saam met een van haar reisigersvriende (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nettie ·

“Is dit ‘n “Oma” daai?” soos die Toyota advertensie op TV lui.

Mag ek nou net een “spênner” in die wiel gooi hier – ek wil al die blou piep kry as ek sien iemand ry in ‘n Toyota Tazz voor my. WANT GEWOONLIK KRUIE HULLE TEEN 60 KM PER UUR IN DIE REGTERKANTSE BAAN voor ‘n mens uit. En dit maak dat ek ‘n hap uit my motor se stuurwiel wil neem.

Ella ·

Julia ek sal saamgaan. Ek is ook verveeld met my lewe. So n avontuur kan net lekker wees. Good for you.

Afrikaanse Knaap ·

Sy is ‘n inspirasie vir my. Ek gaan dit ook doen wanneer ek aftree.

Rupert Ashford ·

Wat ‘n heerlike storie. Dankie MM en gaan groot Julia en Tracey!! Lewe voluit…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.