Topmatrieks: Maranée hou by gesin se Puk-tradisie

Maranée Botha

Maranée Botha

“Ek sien baie uit na die koshuislewe!” Só sê Maranée Botha van die Hoërskool Zwartkop in Centurion wat vanjaar agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal het.

Maranée het A’s in Afrikaans, Engels, wiskunde, ekonomie, rekeningkunde, besigheidstudies, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering behaal.

Sy gaan vanjaar BCom rekeningkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus studeer. “Ek gaan ʼn inwoner van Eikenhof-dameskoshuis wees. Die kampuslewe lyk so lekker, dit voel of ek dit al ken! My ma en my broer is oud-Pukke.”

Maranée het op skool ʼn liefde vir rekeningkunde ontwikkel. “Dit was my gunstelingvak.”

Sy het verskeie rolmodelle en beide haar ouers is vir haar ʼn inspirasie. “My ouers het ʼn groot invloed op my sukses. Hulle het my altyd ondersteun en motiveer. Hulle is vir my ʼn voorbeeld van mense wat hardwerkend is.”

Maranée skryf haar sukses toe aan volgehoue en harde werk. “Ek het elke dag my huiswerk gedoen want ek het geweet ek sal eendag die vrugte pluk.”

Sy was op haar skool se leerlingraad en het ook aan redenaarskompetisies deelgeneem. “Jy moet tyd maak vir vriende en familie. As jy nie balans het nie, sal jy nie voluit vir akademie kan gaan nie.”

Maranée se lewensfilosofie is:

Doen jou bes en die Here sal sorg vir die res.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.