83-jarige Kalahari-boer baljaar in Kurumanrivier

Oom Roesie dryf in op ‘n tjoep in die Kurumanrivier (Foto: Verskaf)

Johan Pienaar (83), ʼn beesboer van Kuruman, kon verlede maand reeds drie keer in die Kurumanrivier op sy plaas swem nadat dit dekades lank droog was.

Pienaar, wat in die Kalahari meer bekend is as “Oom Roesie”, vertel dat daar in 1988 laas water in die stuk rivier voor sy huis geloop het.

Toe hy sien die water kom weer af het hy ’n tjoep gegryp en die welkome water gaan geniet.

“Dis eintlik ʼn snaakse ding, die rivier wat so begin loop het. Dit het al redelik gereën hier by ons en dit is nou eers die begin van ons reënseisoen, so dit lyk goed. Dit is nou al die derde keer in een maand wat die rivier so mooi afkom,” vertel hy.

Oom Roesie, wat al sy hele lewe lank, sedert 1937, op Kuruman woon, sê hulle is altyd versigtig wanneer die rivier afkom, want dit het in die verlede al tot verwoesting gelei.

“In 1947 het die Gamagararivier en die Kurumanrivier bymekaargekom en so sterk gevloei dat dit heinings en telefoonpale uitgeruk het. ʼn Mens is ook versigtig vir jou diere wanneer dit gebeur.

“Gelukkig was dit hierdie keer nie gevaarlik nie en kan die diere drink uit die rivier. My bakkie staan ook nog aan die ander kant van die rivier omdat ons versigtig was om deur te ry, maar ek glo hy sal vandag deur kan kom. Die voordele was hierdie keer baie meer as die nadele.”

Oom Roesie sê ʼn paar mense van Kuruman het ook na sy plaas gekom om te kom kyk hoe die rivier loop toe hy verlede maand weer begin het. “Hier was nie té baie mense nie, want hier ís nie baie mense in Kuruman nie,” skerts hy.

“Maar dit was heerlik. Mense het hier kom braai en ons het gaan swem. Dit was ook veilig vir die klein kinders en ons kon lekker op die tjoep dryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maria M S ·

GENADEDRUPPELS in oormaat, uit God se Hand. Sy Genade ken nie perke nie????????????????????????????????????????
Geniet jouse tjoepry op jou rivier, Oom Roesie ♥️♥️♥️♥️

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.