83-jarige Kapenaar klim Kilimanjaro om vrou se as te strooi

Peter Grant (Foto: Facebook/Explore Plus Travel)

Peter Grant (Foto: Facebook/Explore Plus Travel)

Onweerswolke het op die laaste en tiende dag van sy reis oor Kilimanjaro gehang. Dié weer was in skrille kontras met sy gemoedstoestand – Ja, ná 83-jaar van leef is sy lyf nie meer jonk en soepel nie en die laaste deel van die reis was uitmergelend; soveel so dat sy toerleier van Tanzanië, Godlisten, hom amper by die berg moes opsleep.

Maar Peter Grant se gemoed was glashelder en positief: vandag sou hy die laaste been van die algehele 5 685 m tot bo-op Kilimanjaro voltooi om sy oorlede vrou se as van die hoogste berg in Afrika te strooi sodat sy ‘saam met die arende kan sweef’.

Grant, ʼn pensionaris van Durbanville in die Wes-Kaap, is in Januarie 2016 in die hospitaal opgeneem om nierstene te laat verwyder. Planne om Kilimanjaro te klim het die vorige maand reeds in sy kop begin nesskop, maar dit was eers in die hospitaalbed, waar dit net hy en sy gedagtes was, wat dit gestalte gekry het.

“Ek gaan Kilimanjaro klim,” het hy op sy tweede dag in die hospitaal aan die dokter genoem. Eers het die dokter gegrinnik en toe het hy gelag. “Jy kan nie Kilimanjaro klim nie – jy is sommer laf. Jong, fikse atlete sukkel om dit te doen.”

Toe draai die dokter om en loop uit.

Dis nét daar en dan wat hy ʼn besluit gemaak het: kom die nuwe jaar, sal hy tot bo-op die piek klim.

Peter Grant (Foto: Facebook/Explore Plus Travel)

Peter Grant (Foto: Facebook/Explore Plus Travel)

In daardie tyd het sy vrou, Colleen, nog geleef en selfs sy en hul vriende het hom uitgelag. Grant was egter sy lewe lank aktief en het in die volgende paar maande talle ander berge uitgeklim.

Later dieselfde maand het sy lewe in ʼn nagmerrie verander: Colleen, ʼn onderwyser in die omgewing, het geval en haar kop baie hard gestamp. Met die doktersondersoek is ʼn gewas gevind.

Haar toestand het drasties en vinnig versleg en hy het vir ses maande na haar omgesien voordat sy na ʼn versorgingsinrigting oorgeplaas is. Hy het haar elke dag besoek, maar drie maande later is sy oorlede.

“Ek was gebroke, ek is steeds gebroke. Sy was wonderlik. Sy kon vlot Xhosa, Engels, Afrikaans en Latyns praat, maar was bitter gevaarlik in die kombuis. My maatjie was weg en ek wou ook nie meer nie,” vertel hy.

Maar toe begin die planne om die “manjifieke Kilimanjaro” te klim weer broei en hy besluit: ʼn laaste totsiens op dié aarde sal wees om haar as te strooi op die hoogste piek in Afrika.

Hy het dié tog op 20 Januarie begin en op 25 Januarie, Colleen se verjaardag, het hy ʼn bietjie van haar as gestrooi. Op 30 Januarie het Grant, op 83 jaar ouer as die meeste mense wat in dié tog misluk het, meer as vyf kilometer bo die aarde uitgetroon. Op dié dag het hy die laaste van Colleen se as in die wind gegooi, sodat sy ‘hoog bo die aarde kan sweef’.

“Ek het vandag ʼn hart vol dankbaarheid. Dit beteken vir my die wêreld dat ek daarin kom slaag om my droom te bewaarheid en dat ek vir ʼn laaste keer aan haar kon hulde bring bo-op die berg,” vertel hy.

En wat is volgende op sy wenslys? “Heel eerste gaan ek terug hospitaal toe om vir daardie dokter te sê watter kleingelowige hy is en dat hy nooit weer so met iemand moet wees nie. Dan gaan ek vir hóm grinnik en uitloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Liza ·

Mooi so oom! Gaan vertel daai doktertjie! Hierdie is seker die mooiste gebaar van ware liefde…

Eunice ·

U is vir my ‘n ware inspirasie. Baie dankie – dit is vir my die beste motivering om elke dag voluit te leef! Geen hindernis is te groot nie!

Rina ·

Wat ‘n inspirasie en wat ‘n lewe!!! Dit noem mens mos voluit lewe! Hy verdien ‘n absolute staande toejuiging!

Ilise ·

Wow! Dit is sooooo wonderlik! Ek gee jou ‘n groot applous! Ek is seker jou vrou het geglimlag toe sy jou sien stap!

Mart ·

Baie mooi gebaar Oom Grant en jy lyk ook sommer nog spiekkeries!

Christa ·

Wys hulle, oom!! Waar ‘n wil is is ‘n weg! Drie hoera’s en ‘n Bells vir jou!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.