9-jarige anemielyer: ‘Die dag het gekom!’

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

Ná ʼn maande lange gewag kan die negejarige anemielyer, Gidion du Toit, se huishouding nou eindelik ʼn datum aan sy herstel koppel. Op 18 Oktober vanjaar word Gidion se langverwagte beenmurgoorplanting gedoen en die gesin is uit hul vel van opgewondenheid.

“Ek kan nie glo die dag het uiteindelik aangebreek nie! Ek kan nie glo dit gebeur regtig nie!” het Tuschka Reynders, Gidion se ma, vrolik aan Maroela Media gesê.

Sy het Dinsdag die goeie nuus ontvang.

“Ons was eers bietjie op ons senuwees, want die skenker kon slegs op 18 Oktober skenk, en geen ander dag nie, maar daar was nie plek in die hospitaal vir Gidion vir daardie dag nie. Dankie tog daar het toe darem ʼn opening gekom, want as ons nie ʼn opening kon kry nie, het ons die skenker verloor,” het sy gesê.

Gidion (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig die gesin was platgeslaan toe hulle ingelig is dat die drie vroueskenkers, onderskeidelik van die VSA, Swede en Wallis, wat wel geskik is om beenmurg vir Gidion te skenk, weens siekte en persoonlike redes nie meer beskikbaar was om te skenk nie. Tuschka en haar man, Kobus, moes inderhaas ander opsies oorweeg om hul seun se lewe te red.

Maar toe kom die oproep – een van die skenkers wat voorheen aangedui het sy is nie beskikbaar om te skenk nie, het haar besluit heroorweeg. Sy het ingestem om te skenk.

Tuschka en Gidion sal nou op 30 September vertrek vanaf Pretoria om op 1 Oktober in Kaapstad te wees.

“Hulle het ʼn hele skedule vir ons uitgewerk. Op 2 Oktober sal hulle ʼn hartevaluering doen en bloed trek. Op 4 Oktober gaan hulle vir Gidion ʼn Hickman-lyn insit, en dit sal vir sowat vier maande in bly. Op 9 Oktober word hy opgeneem en ontvang hy chemo vir ʼn week voor die oorplanting. Op 18 Oktober kry hy dan die oorplanting met ʼn drup – hulle noem dit sy ‘hergeboorte’,” het sy gesê.

Tuschka het gesê sy voel allerhande emosies, maar sy en Gidion kan nie wag vir die oorplanting nie.

“Ek is opgewonde, ek is op my senuwees, ek is bang, ek is gelukkig, ek is verlig; ek voel 20 000 emosies op een slag!

“Gideon wil dit nou net agter die rug kry. Hy vat dit net soos dit kom, maar hy is moeg gewag. Hy het my al gevra of ons nie maar nou al kan ry Kaap toe nie, so hy is opgewonde.”

Ná die oortapping is dit normaal vir pasiënte om sleg te voel. Pasiënte voel gereeld naar, moeg, geïrriteerd en kry diarree.

Gidion en sy geliefde kat, Zazu. Foto: Verskaf

“Maar Gidion is positief dat hy nie gaan sleg voel nie, so ons is nie nou bekommerd daaroor nie. Hy het vir my gesê ‘net Jesus sal weet hoe lank en óf ek sal siek wees’. Mense moet ons maar daardeur bid,” het Tuschka gesê.

Tuschka en Gidion moet vir sowat vier maande in Kaapstad bly, omdat Gidion vir gereelde besoeke aan die hospitaal moet gaan.

“Dis bittersoet om in die Kaap te moet agterbly, want my man is nie by ons nie, en Gidion gaan sy kat vreeslik mis. Maar dit is opwindend, want dit is die begin van sy nuwe lewe en ʼn nuwe reis wat vir hom voorlê.”

Om by geldinsamelingsprojekte vir Gidion betrokke te raak, kan jy op Gidion’s Blessed Life-Facebook-blad meer oor dié negejarige lees. Besoek ook die Fanconi anaemia-Facebook-blad of die Hope4Gidion-webwerf.

Lees alle vorige berigte oor Gidion du Toit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronel ·

Wonderlike nuus jong man! Mag die prosedure ‘n groot sukses wees en jy binnekort die wereld vol hardloop. So bly vir die skenker – seen vir jou.

Helene ·

Sterkte seuna, jou geloof is reg. Daar is niks om te vrees. Ek het ongelukkig nie geweet van jul. Ek is 63 maar sou my ook laat toets het om jou dalk te kan help

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.