9-jarige skryf aan skoolhoof oor hartsaak

MJ du Plessis (Foto: Verskaf)

MJ du Plessis, ʼn negejarige seun van Centurion, het onlangs besluit dat die onus op hom rus om sy skool ʼn meer omgewingsvriendelike plek te maak.

MJ, ʼn gr. 3-leerder by die Laerskool Rooihuiskraal, het ʼn briefie aan die skoolhoof gestuur om te vra dat hulle nie meer plastiekstrooitjies in die snoepie gebruik nie weens toenemende seebesoedeling. Dít na aanleiding van talle Suid-Afrikaanse restaurante en hotelle wat beloof het om nie meer plastiekstrooitjies te voorsien nie, juis weens die besoedeling wat dit veroorsaak.

MJ se ma, Mariska du Plessis, het aan Maroela Media gesê dat hulle hele gesin nog altyd groot natuurliefhebbers was en steeds is.

“Ons gaan ten minste twee maal per jaar na die Krugerwildtuin toe en albei my seuns is baie bewus van omgewingsake, veral renosterstropery. Hulle het in die skool begin praat oor besoedeling, en spesifiek hoe dit die visse in die see raak. MJ is emosioneel geraak daardeur, hy het amper elke dag ná skool vir my kom vertel daarvan,” het sy gesê.

“Hy het gesê: ‘Mamma, later gaan daar nie meer visse oor wees nie, net soos renosters! Want die besoedeling is so erg dat hulle almal gaan doodgaan.’ Ek het hom toe aangemoedig om die eerste stap te waag as hy so sterk daaroor voel.”

MJ het toe ʼn brief aan die skoolhoof gerig waarin hy vra dat die skool nie meer van plastiekstrooitjies gebruik maak nie. Sy klasjuffrou het hom gehelp en seker gemaak dit kom by die hoof uit.

“Die skool het die briefie baie goed ontvang. Hulle het vir MJ ʼn brief teruggeskryf waarin hulle sê hy is ʼn groot inspirasie vir hulle en hulle gaan werk maak daarvan om nie net al die plastiekstrooitjies nie, maar ook alle plastiekverpakkings, uit die skool te verwyder,” het Du Plessis gesê.

Elri Grobler, wat die snoepie by Laerskool Rooihuiskraal bestuur, het gesê sy was beïndruk met MJ se inisiatief.

“Dit was baie kosbaar en ek dink dit verg nogal baie moed van MJ af. Ons het dadelik die plastiekstrooitjies uit die snoepie verwyder, so dit is nie meer beskikbaar nie. Daar is uit die aard van die saak sekere goed soos slush puppies wat die kinders nie sonder strooitjies kan drink nie. As hulle vra, gee ons vir hulle. Maar ons is besig om na afbreekbare alternatiewe te kyk,” het sy gesê.

“Ons wil ook papier of karton eerder as plastiek begin gebruik vir alle ander verpakkings. Dit is ʼn goeie saak en as elke ou sy klein deeltjie doen, maak dit ʼn groot verskil,” het Grobler gesê.

Du Plessis het gesê sy is baie trots op MJ, want dit is ʼn spieëlbeeld van sy persoonlikheid.

“As ouer kan jy net jou kinders lei in die regte rigting, en dan hoop hulle doen die regte goed. Vir ons is dit ʼn groot riem onder die hart dat hy braaf genoeg is om standpunt in te neem oor iets waaroor hy sterk voel. Dit maak my hart warm, en ek is baie trots op hom,” het sy gesê.

MJ was sélf ook baie gelukkig met die uitkoms van sy briefie. “Hy was opgewonde en half verlig, want ‘nog ʼn vis gaan bly leef’. Hy was bly dat hy ʼn positiewe bydrae in sy skool en omgewing kan maak. Die verandering sal nie net die seelewe beïnvloed nie, maar ook die skoolterrein skoon hou wat een van sy motiverings was,” het Du Plessis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Talita ·

Tien uit tien vir MJ wat probeer om ‘n oplossing te vind vir ‘n probleem eerder as om net te kla daaroor. En ook vir die skool vir die manier waarop hulle dit hanteer het. My grootste respek vir julle!

Leser ·

Welgedaan sauna! Mag jou mannemoed jou nog ver bring in die lewe!

Blue Butterfly ·

Fantasties MJ!! Mag jou goeie daad ander persone en instansies aanspoor om ook meer bewus te word van hierdie kwessie.

M ·

boeta jy maak my dag!! ek stem so saam met jou. en dan is daar steeds so baie gesinne wat nie hul vullis herwin nie! rondom ons in lynnwood…. mense wat jy verwag opgevoed moet wees…. elke bietjie help. ons moet verantwoordelikheid neem vir ons omgewing en hulpbronne…. water… krag …
ek steun jou!!

Belinda ·

Baie bly vir wat jy gedoen en reg gekry het MJ. Ek wens net hierdie skool kan dieselfde houding he met die boelies in die skool waar seuns my kleindogter slaan, klap, spot, ongemaklike opmerkings maak en dit gaan so van die begin van die jaar al(al wat die seuns kry is “julle moet ophou”) so moet ons nou wag tot sy bitter seer kry???

Verkeerde forum ·

Belinda gebruik die regte kanale om jou misnoeë te deel.

Hannelie ·

Belinda gaan sien die skool se Beheerliggaam. Ek glo hul sal ‘n plan maak.

Miekie ·

MJ doet so voort. Dis wonderlik en so trots op jou al ken ek jou nie. Moet wonderlike ouers ook he om MJ en sy broer bewus te maak van besoedeling. Wens jou voorspoed toe en hoop skool hou aan om plastiek strooitjies af te skaal waar hulle kan

Jax ·

MJ, jy is n voorbeeld vir ons almal!
Welgedaan, Rooimiere en hul puik skoolhoof en personeel! Ferdie, julle is en bly tops!

Michelle ·

Ek daag ander skole en besighede uit om dieselfde te begin doen. Sommer ook nie meer massa balonne nie.

Debbie ·

Trots op jou seuna! Maak my hart sommer bly as iemand (oud of jonk) opstaan vir dit waarin hul glo. Ons almal kan gerus iets leer by die knapie – die dat ons elke dag moet streef om ons wereld te verbeter pleks daarvan om te baklei hier op die kommentare soos baie alte graag doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.