Aangevulde werklikheid by tuin sorg vir pret

Ai Weiwei se “Gilded Cage” by Kirstenbosch.

Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin is hierdie somer veel meer as net een van die gewildste toerismebestemmings in Kaapstad weens sy erfenis en diverse plantegroei. ’n Aangevulde werklikheid (AR) kunsuitstalling, Seeing the Invisible, is daar te sien en vorm deel van 12 deelnemende tuine in ses lande.

Seeing the Invisible is as vennootskap tussen botaniese tuine regoor die wêreld ontwikkel. Dis deur die Jerusalem Botaniese Tuine en Outset Kontemporêre Kunsfonds van stapel gestuur, met ondersteuning van The Jerusalem Foundation. Die kurators is Hadas Maor en Tal Michael Haring.

Elke kunswerk ontgin die grense én verbindings tussen kuns, tegnologie en die natuur – sommige met baie stof tot nadenke.

El Anatsui se aanlyn kunswerk by Kirstenbosch.

Altesaam 13 kontemporêre kunswerke van bekroonde internasionale kunstenaars word hier ervaar met behulp van ’n tegnologie-gemedieerde belewenis. Die Seeing the Invisible-app gebruik fisiese plekke in Kirstenbosch en vul die ware wêreld met virtuele kunswerke aan.

Kunstenaars van sover as Beijing (Ai Weiwei), Istanboel (Refik Anadol), Ghana (El Anatsui), Engeland (Ori Gersht), Dubai (Mohammed Kazem), Israel (Sigalit Landau), Japan (Daito Manabe), Amerika (Sarah Meyohas en Timur Si-Qin), Frankryk (Mel O’Callaghan), Switserland (Pamela Rosenkranz) en Duitsland (Jakob Kudsk Steensen) neem deel.

Ons kom net ná middagete op ’n Vrydagmiddag daar aan. Die weer is effens betrokke; die tuin is stil en ons is onseker oor hoe dit presies werk. Uit die vier van ons kon drie se slimfone en ʼn tablet die Seeing the Invisible-app gratis van Google Play of die App-winkel aflaai. Ons vriend se foon is ouer as drie jaar en het nie genoeg geheue nie.

Dis beter as jy die toepassing tuis aflaai, of selfs met die tuine se wi-fi by die Hek 1-ingang, maar vir die res van die uitstappie het jy jou eie data nodig.

Aanwysings op klein bordjies staan in die beddings versteek en hou jou op die regte pad. As jy egter die toepassing afgelaai het, het jy ook ’n virtuele kaart om jou te lei. Ons al vier het ons eie oorfone saamgebring om ook die klank saam met elke kunswerk te geniet, maar vind gou dat daar niemand is wat ons met die klank sal steur nie en luister later elkeen na die musiek sonder oorfone. Dis baie lekker, want die tuingeluide dra beslis tot die ervaring by.

Kirstenbosch is sekerlik een van die magiesste plekke om hierdie AR-tegnologie – die eerste van sy soort om in ’n uitstalling by ’n SANBI Botaniese Tuin ingespan te word – te ervaar.

Die tuin is sedert 2004 deel van die Kaapse Blomkoninkryk se Unesco-wêrelderfenisgebied. Dit was die eerste botaniese tuin in die wêreld om deel te wees van ’n Wêrelderfenisgebied.

Voor elke kunswerk hou jy jou foon na die grond toe en laat die kunswerk dan aflaai. Wanneer die geel blokkie met ’n kol in die middel verskyn, kliek jy daarop en bekyk die kuns deur jou foon.

Die uitstalling sal tegelykertyd in 12 ander biome regoor die wêreld geniet kan word. Ek weet dat, terwyl die glinsterende tapisserie van kunstenaar El Anatsui op my foon naby die bekende Kirstenbosch konsertgrasperk dans, my skoonsus in die Royal Botanic Garden in Edinburgh dieselfde kunswerk tussen die massiewe Kaliforniese rooihoutbome kan sien. Daar is ook deelnemende botaniese tuine in Amerika: Denver (in Colorado), Sarasota (in Florida), Wellesley (in Massachusetts), San Diego (in Kalifornië) en Tucson (in Arizona). In Engeland kan jy die uitstalling by die Eden Project in Cornwall geniet, en verder ook in Jerusalem (Israel), Ontario (in Kanada) en twee botaniese tuine in Australië (in die voorstad Cranbourne en Melbourne self).

Die inligtingstuk vertel meer: “Seeing the Invisible is uit samewerking met die Jerusalem Botaniese Tuine tydens die pandemie gebore, wat ons oë vir die ongelooflike geleenthede oopgemaak het om ’n heeltemal nuwe soort kontemporêre kunservaring binne die grense van ’n botaniese tuin te skep,” volgens ’n gesamentlike verklaring deur Candida Gertler OBE, Outset Kontemporêre Kunsfonds se medestigter, en Mirav Katri, Outset Kontemporêre Kunsfonds se Israelse direkteur.

“Ons is verheug om met uitmuntende tuine regoor die wêreld tydens die uitstalling hande te vat. Dit oorbrug die fisiese en digitale wêrelde om ’n nuwe model te skep, waar spesialiskennis met die voorste tegnologie in kontemporêre kuns gekombineer word om ’n nuwe uitstallingformaat te ontwikkel wat wyer as die tipiese museum- of galery-ervaring strek.”

“Daar is uitsonderlike potensiaal vir botaniese tuine met hul deurgronde ondervinding om uiteenlopende gehore by hul komplekse werk te betrek om die weg te baan om nuwe modelle vir besoeker-ervarings van kontemporêre kuns te skep,” voeg Hannah Rendell, Jerusalem Botaniese Tuine se uitvoerende direkteur, by.

Halfpad deur die uitstalling, kom die vlagies misreën oor Tafelberg aangewaai. Ons kyk op teen die hange van die berg wat hier en daar agter die witreën verdwerg word. Ons skuil onder ’n enorme boom en sit en drink water op die tuinbankie met die stad wat aan die einde van die reusegrasperk in die verte wink.

’n Gesinnetjie stap kort-kort by ons verby op pad na die kafeteria toe, of om elders in die tuin piekniek te gaan hou. Dis die kinders wie se nuuskierigheid gou die oorhand kry, seker omdat hulle vier middeljarige mense sien wat aan hul fone vasgekluister is en boonop soos malletjies in die rondte stap en aanmerkings maak.

Wanneer jy jou foon laat sak en die grasperk onskuldig terugstaar, kan jy amper nie glo wat jou oë pas op jou slimfoon gesien het nie.

’n Baie slim tegniek om kinders in die natuur te kry, besef ek opnuut: Laat hulle toe om die hele tyd op hul slimfone te wees, én wees saam met hulle! Die oe’s en aa’s wat ons kry as ons die foonskerm met hulle deel, laat heelwat van hulle na die ingang toe terugstap om ook die app af te laai.

Sarah Struys, Kirstenbosch se geleentheids- en toerismebestuurder, het met die opening in September vertel: “Kirstenbosch-besoekers kan internasionale kunstenaars se meesterstukke ervaar. Jy sal om – of deur – sommige van die installasies kan stap en selfs klanke kan hoor. AR skep ’n baie vermaaklike ervaring wat nie met ’n konvensionele uitstalling moontlik is nie.”

Ons stap in ’n rotsgrot van Timur Si-Qin se Biome Gateway in, sien sterrekonstellasies en rotskuns; stap om Refik Anadol se Machine Hallucinations, ʼn majestueuse kunswerk binne ’n raam waarvan die inhoud die heeltyd verander en die kleure met speldagtige voelers inmekaar vloei. Met Mel O’Callaghan se vergrootglas-agtige borrel, Pneuma, skaterlag ons. Dit lyk asof die tuin en berg in snaakse spirale trek. My vriend merk droog op dat dit kan lyk soos die drogbeelde wat jy sien as jy die verkeerde sampioene geniet het …

Ons lag lekker as jy ewe niksvermoedend rondloop en die ander drie skree dat jy moet oppas vir die reusagtige rots wat voor jou aan ’n toutjie swaai; of as daar ’n tamaai luislang uit ’n boom hang en ’n buitengewoon groot geel oog jou agtervolg.

Die app laat jou toe om foto’s te neem en te deel. Ons het voor die tyd ’n WhatsApp-groepie gestig en deel foto’s terwyl ons verken. Dis ongelooflik interessant om te sien hoe elkeen van ons verskillende dele van die kunswerke sien en hoor, afhangend van waar jy staan of hoe lank jy na die kunswerk kyk.

Van die deelnemende kunstenaars sluit onder meer El Anatsui, ’n beeldhouer van Wes-Afrika, in wie se ikoniese herwonne bottelpropinstallasies sagkens glinster, asof dit deur ’n ligte windjie geroer word. Dit is die eerste maal wat een van El Anatsui se kunswerke vir AR aangepas word. ’n Nuwe werk deur Sigalit Landau – wat ook dié kunstenaar se eerste ervaring met AR inlui – bied die kyker eindelose ondersoekroetes – beide om en in die verskuilde gleuwe van ’n werk wat deur die natuurlike formasie van ’n soutstalagmiet geïnspireer is.

Die uitstalling sluit ook ’n noukeurige verwerking van Ai Weiwei se Gilded Cage in en spreek kwessies soos magstrukture, habitatte, grens, gevangenisskap en beperking aan, maar ook versorging, bewaring en koestering.

Ons het lekker pret met dié werk, want terwyl jy nog fokus en mik om ’n foto te neem, begin die goue hok in die lug dryf en jou foto is daarmee heen.

By die AR-vleuelklavier onder die boom, Dawn Chorus deur Sarah Meyohas, is daar hope virtuele voëltjies wat om jou kop vlieg. Terwyl ons vriend op almal se aandrang posisie inneem om te maak asof hy die note tokkel, word die voëlgesang amper oorverdowend bo die klaviermusiek. Eers dan laat ek my foon sak en besef ons is omring deur regte geveerdes wat sekerlik kom ondersoek instel na die “vreemde” voëlgeluide in “hul” tuin.

Net daar besluit ek dat die uitstalling vir eers moet wag en dat ons sonder fone in die hand na die tuin moet kyk; die wolkpatrone bo ons koppe moet geniet; ervaar hoe die blomreuke deur die ligte windjie aangewaai word.

Daar is voëltjies wat in klein plassies water baljaar, of hul lang bekkies in proteas en speldekussings druk om gulsig aan die nektar te teug. Ons sit in stille verwondering en drink elke kosbare herinnering in.

Ná ’n uur is ons halfpad en by die kafeteria geniet ons wafels en melkskommels. Die stoep is ruim en oop en die tuin se geluide en kleure omvou jou. Die saligheid kom sit in jou kuite en die opwinding oor wat voorlê, laat jou tone omkrul.

Die laaste uitstalling voor ons terug is by die hek is deur Ori Gersht, Israeli kunstenaar wat in Londen woon en werk. Dis een van ’n Duitse meester se kunswerke uit die 17de eeu wat mooi op ’n verhogie staan. Ek het die brilpoetslappie van dié kunswerk by die Rijksmuseum in Amsterdam gekoop en plakpapier in ons gang is daarop geskoei. Ek wil nog ’n mooi foto van die boomlaning neem wat die blomrangskikking omraam toe dit “ontplof” en in honderde stukkies kleur deur die lug dryf.

Ons is almal só onthuts dat ons ’n paar treë terugstap, weer die kunswerk skandeer en bekyk. Dit word ook ons almal se gunstelingervaring.

Die Seeing the Invisible uitstalling is tot Augustus 2022 te sien. Kirstenbosch en die uitstalling is elke dag oop. Toegang na die uitstalling is gratis, maar toegangsgelde vir die tuin is betaalbaar. Vir Suid-Afrikaners met hul ID-dokument kos dit R80 om toegang tot die tuin te verkry. Jy kan heeldag kuier. Bring jou piekniekmandjie en kombers en ervaar die AR-uitstalling so saam met die natuur.

Besoek www.sanbi.org of www.seeingtheinvisible.art vir meer inligting oor die uitstalling by Kirstenbosch. Deel jou ervaringe op sosiale media deur die hutsmerk #SeeingTheInvisible te gebruik.

Foto’s: verskaf, Clifford Roberts, Neil Meyer en Maryke Roberts

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.