Aanlyn instrument help ondernemings slimmer belê

Argieffoto

Argieffoto

Die niewinsgewende organisasie Nation Builder, wat gestig is deur Francois van Niekerk, filantroop en skrywer van Doing Business with Purpose, het pas ʼn unieke aanlyn instrument geskep.

Dié instrument, Good Giving Benchmarking Tool, is ʼn aanlyn vraelys wat ondernemings kan voltooi om te sien hoe doeltreffend hulle korporatiewe maatskaplike beleggings en korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid is.

“Die instrument kan ingespan word om vir ondernemings aan te toon hoe om hulle geld beter te belê. Ons as niewinsgewende organisasie glo Suid-Afrika se toekoms kan voorspoedig wees as maatskappye beter maatskaplike beleggings doen,” het Keri-Leigh Paschal, direkteur van die organisasie, gesê.

Paschal sê baie ondernemings belê nie slim wat hulle maatskaplike verantwoordelikheid betref nie, wat veroorsaak dat die beleggings nie langtermyn-trefkrag en wins kan toon nie. “Ondernemings word deur die wet verplig om ʼn persentasie van hul inkomste aan maatskaplike projekte te gee. Baie ondernemings belê nie die geld slim of in ʼn projek met ʼn langtermyn-uitwerking nie.”

Die vraelys neem 30 minute om te voltooi. “Sodra die vraelys voltooi is, sal die resultate vertoon word, en dan kan die gebruiker gratis hulpbronne ontvang wat kan help om die geld beter te belê of waar dit die nodigste is. Die verslag toon ook aan hoe die korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid van jou maatskappy vergelyk met dié van ander maatskappye,” het Paschal gesê.

Die aanlyn-instrument is gratis. Resultate word ook vertroulik gehou. Meer inligting is op Nation Builder se webwerf beskikbaar vir maatskappye wat ná afloop van die vraelys ʼn lid van die niewinsgewende organisasie wil word. Ledegeld word versprei na een van 15 voorafgekose liefdadigheidsorganisasies.

Bel Keri-Leigh Paschal by 074 116 9974 of e-pos by [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

Die beste korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid wat ‘n maatskappy kan toon is om so doeltreffend as moontlik ‘n produk of diens aan sy mark te lewer. Daardeur word pryse laag gehou en menslike welvaart en voorspoed word op groot skaal verbeter.
Die “CSI’-sousies van maatskappye wat vir “communities” allerhande “projects” doen, is van verre sekondêre belang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.