Aanlyn skool se toppresteerders skitter met goeie uitslae

Chloe Winter het uitstekend presteer in een van die moeilikste vakke, gevorderde wiskunde. (Foto: Verskaf)

Matrikulante wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeindeksamen deur die aanlyn skool Brainline afgelê het, het altesaam 80 onderskeidings ingepalm.

Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) het Vrydag hulle matriekuitslae bekendgemaak en Brainline se matriekuitslae word deur dié raad erken.

“Dit is ʼn bewys van die moed en vasberadenheid van die klas van 2020. Ons is baie trots op al ons gr. 12-leerders wat verlede jaar met ongekende omstandighede te doen gehad,” het Coleen Cronjé, uitvoerende hoof van Brainline, gesê.

“Ons wil egter die prestasie van ’n aantal studente wat daarin geslaag het om uitsonderlike resultate te behaal, beklemtoon. Alhoewel die meerderheid al ’n aantal jare tuisskolers is, het sommige eers in 2020 by ons aanlyn skool aangesluit toe hul eie skole gesluit is tydens die afsonderingstydperk. As virtuele skool het ons daarin geslaag om vir hierdie leerders ’n veilige en ononderbroke alternatief bied.”

Cronjé sê drie leerders het daarin geslaag om uitslae binne die voorste 1% van die IEB in hul onderskeie vakke behaal.

“Carlien du Plessis het uitgeblink in elektriese tegnologie, Chloe Winter in een van die moeilikste vakke, gevorderde wiskunde, terwyl Chanté Thomas en Gregory Burns uitgeblink het in wiskundige geletterdheid. Een van ons studente, Zhang Yupeng, het ook 95% vir Chinese Mandarin ontvang. Nog ’n groot prestasie is die van Dilan Vermaak, ’n student met serebrale gestremdheid en daarom unieke uitdagings, wat 91% in inligtingstegnologie behaal het. Ongeveer 19% van ons dramastudente het ’n onderskeiding behaal,” het Cronjé gesê.

Brainline se studente was onder die byna 12 000 IEB-studente wat die matriekeksamen in 2020 voltooi het.

Cronjé meen die konstante prestasie van hierdie leerders is ’n getuienis van die doeltreffendheid van aanlyn leer te midde van ’n besonders uitdagende akademiese jaar.

Sy reken ook dit is die geskikte tyd vir die departement van basiese onderwys om te kyk na die herstrukturering van die tradisionele skoolstelsel deur e-leer-elemente in te faseer.

“Suid-Afrikaners is vertroud met ’n meer tradisionele klaskameropset, maar dit is nou die tyd om te ontwikkel. E-leer en mobiele leer moet beskou word as ’n losstaande of bykomende leerhulpbron wat kan help om toegang tot leerinstrumente te kry.

“Pres. Cyril Ramaphosa het in ’n onlangse staatsrede gesê dat die regering ’n tablet aan leerders wil verskaf om toegang tot e-leerplatforms te kry. Hy het ook aangedui dat die regering met netwerkoperateurs saamwerk om die koste van data te verlaag. Dit moet meer as ooit tevore op die regering se prioriteitslys wees.”

Studente met vier onderskeidings

Tymicah is sedert 2018 ’n Brainline-student en beplan om aktuariële wetenskappe of wiskundige wetenskappe in die Verenigde Koninkryk te studeer. (Foto: Verskaf)

Dillon Geary het onderskeidings in rekeningkunde, besigheidstudies, wiskunde en fisiese wetenskappe behaal en B’s in Afrikaans Addisionele Taal en lewensoriëntering. Dillon is ’n talentvolle fietsryer en was 23ste by die Junior Baanfietsry-wêreldkampioenskap in Augustus 2019.

Kachina Maritz het onderskeidings in besigheidstudies, rekenaartoepassingstegnologie, ekonomie, lewensoriëntering en ’n B in Engels Huistaal gekry.

Tymicah Naidoo het onderskeidings in dramatiese kunste, Engels Huistaal, lewensoriëntering en wiskunde ontvang en B’s in fisiese wetenskappe, geskiedenis en Afrikaans Eerste Addisionele Taal. Tymicah is sedert 2018 ’n Brainline-student en beplan om aktuariële wetenskappe of wiskundige wetenskappe in die Verenigde Koninkryk te studeer.

“Om matriek te voltooi in ʼn pandemie was nie besonder maklik nie, want my huis was veel besiger as gewoonlik omdat almal tuis was. Gelukkig kon ek sulke uitdagings oorkom, aangesien ek reeds aangepas is vir aanlyn onderrig,” sê sy.

Chanté Thomas het onderskeidings in rekenaartoepassingstegnologie, ingenieursgrafika en -ontwerp, lewensoriëntering en wiskundige geletterdheid behaal, asook B-simbole in Afrikaans Huistaal en Engels Huistaal.

Studente met drie onderskeidings

Gregory Burns het onderskeidings in besigheidstudies, lewensoriëntering en wiskundige geletterdheid gekry en ’n B in Engels Huistaal en ekonomie verwerf. (Foto: Verskaf)

Gregory Burns het onderskeidings in besigheidstudies, lewensoriëntering en wiskundige geletterdheid gekry en ’n B in Engels Huistaal en ekonomie verwerf. Gregory het eers in 2020 by Brainline aangesluit. Ondanks die feit dat hy gelyktydig moes studeer en werk, behaal Gregory drie onderskeidings en twee B’s. Hy beplan om sy BCom in Ondernemingsbestuur aan Unisa te voltooi terwyl hy voortgaan met sy deeltydse werk.

“Dit was ongelooflik moeilik om verlede jaar skool te voltooi. Ek het ’n deeltydse werk en dit het baie van my tyd in beslag geneem. Die ervaring deur Brainline was egter ongelooflik. Ek kon saans, soggens voor werk en naweke na die opgeneemde lesse kyk en studeer. Ek voel dat Brainline verlede jaar uitgeblink het in die bestuur en organisasie van my skoolproses,” het Burns gesê.

Johannes Schinkel het onderskeidings in besigheidstudies, lewensoriëntering en toerisme en ʼn B in Afrikaans Huistaal verwerf.

Leela Steyn het onderskeidings in dramatiese kunste, visuele kunste en wiskundige geletterdheid en B’s in Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Engels Huistaal en geskiedenis gekry. Leela het ook verlede jaar by Brainline aangesluit en die oorgang na ’n aanlyn omgewing geniet. Sy hoop om in die toekoms beeldende kunste te studeer en haar eie ateljee en kafee te open.

Gr. 12-leerders wat aansoek wil doen om vakke te laat hermerk, het tot 3 Maart om hul aansoek in te dien. Die uitslae word op 26 Maart bekend gemaak. Die Nasionale Senior Sertifikate word in Julie of Augustus deur Umalusi uitgereik en sal na skole gestuur word waar leerders dit kan kom afhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maggies ·

Baie geluk aan al die matrikulante. Dit was ‘n baie moeilike jaar en julle het dit met sukses oorwin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.