Aanlyn winkel help boere tydens droogte

Boks voer vir ʼn boer (Foto: Verskaf)

Na die groot sukses van die Bederfbokse vir boervroue-projek wat verlede jaar verligting gebring het aan boervroue wat sukkel met die erge droogte, is ʼn nuwe projek genaamd “Boks voer vir ʼn boer” begin om die keer die aandag na die boer self te skuif.

Boks voer vir ʼn boer is die hartsprojek van Elria Steinberg, ʼn boervrou van Mpumalanga.

“Ek het gesien hoeveel getuienisse uit die Bederfbokse vir boervroue-projek gekom het; dit was ongelooflik. Dit het by my bly broei en ek wou die konsep uitbrei en die fokus na die boer verskuif,” vertel sy.

Steinberg het gesukkel om iets noemenswaardig te vind om vir boere te stuur wat nege jaar laas genoeg en volhoubare reën gekry het.

‘n Boer gebruik sy voer (Foto: Verskaf)

“Wat gee mens vir ʼn man wat nog steeds sy kinders moet versorg, ʼn man vir sy vrou moet wees, die hoof van die huis is en sy werkers se lewens ook nog aan die gang moet hou?”

Sy het toe besluit op ʼn aanlynwinkelkonsep waar mense bokse of vragte voer vir boere kan koop om hulle te help.

“Ek is in Garies gebore en het al op Loeriesfontein en Pofadder gebly, so ek ken daai wêreld. Ek het al gesien hoe verskriklik sleg dit gaan daar met die droogte.”

Steinberg vertel dat haar gesin al voer gestuur het vir familie wat ook gebuk gaan onder die droogte, maar dat sy deur hierdie projek vir mense van reg oor die wêreld die geleentheid wou gee om te help.

Boks voer vir ʼn boer bied vier opsies van geskenkbokse om van te kies: ʼn Boetie-boks (R700), Pappa-boks (R1 040), Oupa-boks (R4 200) en Menere-boks (R8 400). Die bokse het verskillende hoeveelhede voer in en al die geld gaan aan die boere. Boks voer vir ʼn boer is ʼn niewinsgewende projek.

Boks voer vir ʼn boer (Foto: Verskaf)

Steinberg het 12 boere geïdentifiseer wat die voer broodnodig het, en hulle almal se stories is op Boks voer vir ʼn boer se webtuiste beskikbaar. Kopers kan dan kies aan watter boer hulle voer wil skenk.

“Ons het al meer as R200 000 se voer by boere gekry. Ek kry daagliks foto’s van boere wat hul voer gekry het. En die bokse kom van oral in die wêreld af,” vertel Steinberg.

Juis gister het sy betaling gekry vir 11 bokse wat uit Katar geskenk is. Mense vanuit China, Abu Dhabi en ander plekke spring ook in om boere te help.

“Baie mense hoor die woord droogtehulp, maar hulle weet nie hoe om self betrokke te raak nie; nou is dit maklik om van enige plek in die wêreld af by te dra. Ek bly in verwondering met hierdie projek.”

Vir meer inligting, of om bokse te koop, besoek Boks voer vir ʼn boer se webtuiste hier of Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Rudolph

Ek maak geen skenkings om diere wat vir die slagpale of Midde-Ooste bestem is te red nie. Dit maak geen sin om hierdie wrede bedrywe aan die gang te hou nie