Aardklop 2019: ’n Fees van rekords

Sandra Prinsloo in die gevierde produksie “Kamphoer”. Foto: Verskaf.

Aardklop het vanjaar verwagtinge oortref en rekords laat spat. Te midde van uitdagings soos vreemde weerpatrone en ’n sukkelende ekonomie, het die fees op vele vlakke rekordgetalle aangeteken.

Dié fees wat van die land se mees gevierde produksies soos Koningin Lear, Kamphoer, Sima Mashazi se My Miriam Makeba Story en Tien duisend ton aangebied het, het meer as 77 produksies oor ’n tydperk van vyf dae aangebied; meer as 15 hiervan was debuutproduksies.

Aardklop het ’n rekordgetal besoekers op die eerste dag van die fees in Potchefstroom verwelkom. Meer as 10 000 besoekers het op 24 September die feesterrein besoek (30% meer as in 2018). In 2018 is daar 30% meer feesgangers as in 2017 aangeteken. Hierdie is ’n wonderlike groeipatroon wat dui op die positiewe ervaring wat die fees bied en die feit dat feesgangers steeds, ten spyte van ’n sukkelende ekonomie, die fees in hul massas bywoon. Oor die algemeen het 12% meer mense die feesterrein in 2019 (in vergelyking met 2018) besoek.

Ten opsigte van produksiekaartjies is ’n fenomenale groei van 11% aangeteken.

“Indien ʼn mens in gedagte hou dat een van die produksies drie uur lank was en talle ander ’n tydsduur van tot twee uur gehad het, is hierdie groeisyfer eintlik effe onwerklik omdat dit die gehore se kapasiteit om vertonings by te woon, beïnvloed.

“Ons is verstom oor die bywoning en die toename in produksiekaartjies se verkope. Hierdie syfers getuig van ’n klein span se harde werk, ’n veelsydige feesprogram en die feit dat die fees jaarliks nuwe projekte aanpak ten einde ʼn verrykende ervaring vir elke Suid-Afrikaner te bied. Ons is opreg dankbaar vir die sukses van vanjaar se fees,” het Alexa Strachan, Aardklop se uitvoerende hoof, gesê.

Die sukses van die fees moet natuurlik aan die omvattende lys rolspelers toegeskryf word.

“Sonder borge, donateurs, kunstenaars, werknemers, tegnici, plaaslike inwoners en feesgangers wat die fees toegewyd ondersteun, kan ons nie voortbestaan nie; ons is werklik dankbaar vir elkeen se rol in die reusesukses van Aardklop 2019. Dit is veral belangrik om die rol van borge en donateurs uit te lig en te beklemtoon – die steun van hierdie instansies en instellings verseker op die lange duur die volhoubaarheid van die fees asook ’n broodnodige platform vir Afrikaanse kunste in die noorde van die land,” het Delmari van Zyl, Aardklop se borge- en bemarkingsbestuurder, bygevoeg.

Aardklop sal in 2020 van 22 tot 27 September in Potchefstroom plaasvind. Meer inligting sal binnekort op die fees se webblad beskikbaar wees. Besoek www.aardklop.co.za vir meer nuus hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.