Aardklop ‘in die kleine’ eersdaags op die planke

Die Aardklop Nasionale Kunstefees se sogenaamde Opwipfees, wat by verskillende plekke en teaters in Pretoria aangebied sal word, gaan einde vandeesmaand voort.

ʼn Verskeidenheid van drama, musiek, rolprente, gesprekke, kursusse en visuele kuns sal van 28 September tot 3 Oktober by die Atterbury-teater, die Voortrekkermonument en die Afrikaanse Hoër Seunskool aangebied word.

“Ongeag met wie jy praat, die versugting bly dieselfde: Ons het almal ʼn behoefte om asem te haal, letterlik en figuurlik, maar veral om sáám asem te haal. Kunstenaars en lede van die publiek smag na uitlaatkleppe en blote samesyn. Aardklop 2021 inspireer, verras, vermaak en nooi uit: Kom skep saam asem!” sê Alexa Strachan, feesbestuurder van Aardklop.

Volgens Strachan is die belangrikste redes vir die besluit om met die Opwipfees voort te gaan die fees se behoefte om ʼn platform te bied vir kunstenaars en hoop te skep vir mense in ʼn bedryf wat weens die pandemie op sy knieë gedwing is.

“Die feit dat die skool- en universiteitsvakansies bly verander, asook die beperking op getalle, maak dit onmoontlik om die fees in sy tradisionele formaat in Potchefstroom aan te bied,” verduidelik Strachan.

Aardklop se borge en vennote, wat die NWU Potchefstroomkampus, Dagbreek Trust, NATi, Atterbury Trust, AK 21 en LW Hiemstra Trust insluit, het hul steun aan die projek uitgespreek.

Die suksesvolle aanbieding van Aardklop Pronk Podium by die AfriForum-teater het boonop bewys dat Aardklop-gehore in Gauteng steeds dié fees wil ondersteun.

In ware “opwipformaat” sal die verskillende produksies en kaartjieverkope bekend gemaak word binne die volgende paar weke.

Produksies waarvan die kaartjieverkope reeds geopen is, sluit in:

* Karnaval van die diere, met onder andere Nataniël as verteller, en die pianiste Charl du Plessis en Megan Geoffrey-Prins. Kaartjies is hier beskikbaar.

* Frank Opperman se debuutproduksie Ek wens, ek . Bespreek kaartjies hier.

* Opdrifsel met die bekroonde akteurs Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels. Kaartjies is hier beskikbaar.

Vir enige navrae, skakel 087 527 0023 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.