Aardklop: Uitstekende nuus vir feesgangers

Daar is pas nog kaartjies vir Nataniël se “Karnaval van die diere” by vanjaar se Aardklop-opwipfees in Pretoria beskikbaar gemaak. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrika is uiteindelik weer terug op vlak 1 van inperking geplaas, en dit is besondere goeie nuus vir feesgangers wat dalk nog ekstra kaartjies vir hulle gunstelingproduksies by vanjaar se Aardklop-opwipfees wil opraap.

“Dit is heerlik om te kan sê ons het nou ekstra kaartjies vir die twee vertonings van Nataniël se Karnaval van die diere beskikbaar gemaak,” het Alexa Strachen, feesbestuurder van Aardklop, Vrydag gesê.

Die immergewilde Nataniël is die verteller van die produksie en dr. Charl du Plessis en Megan-Geoffrey Prins bespeel die klaviere saam met ʼn kamerorkes van 14 musikante.

Nataniël se prettige verse vir Karnaval van die diere is in 2018 gepubliseer. Die oorspronklike teks van Pieter en die wolf is ʼn aantal jare gelede vir die Internasionale Kamermusiekfees deur Nataniël omskep in ʼn splinternuwe verhaal vir volwassenes en word vir hierdie geleentheid spesiaal deur hom in Afrikaans vertel.

“Dit bly, net soos hierdie kunstenaar self, steeds onvoorspelbaar en vars.”

Karnaval van die diere, een van die produksies met die duurste kaartjies, was reeds vroeg in September uitverkoop. In daardie stadium was daar slegs 50 mense by elke vertoning toegelaat.

Ná pres. Cyril Ramaphosa se vergadering Donderdagaand uit sy virtuele sitkamer kan daar nou ʼn bykomende getal feesgangers by Aardklop se vertonings aansluit.

Karnaval van die diere is op Sondag 3 Oktober om 11:00 en 15:00 op die planke. Dit is deel van die Aardklop Aubade wat in samewerking met die Afrikaanse Hoër Seunskool aangebied word.

Kaartjies kos R290. Bespreek by Ticketpros.co.za of besoek Aardklop se webwerf vir meer inligting oor vanjaar se produksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.