AB de Villiers se ‘skat’ 16 jaar later by Affies opgegrawe

AB de Villiers by sy ‘skat’ (Foto: William Brown)

Toe die oud-Protea-krieketkolwer AB de Villiers byna twee dekades gelede ʼn matriekleerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria was, het hy ʼn trommel vol memorabilia begrawe wat veronderstel was om eers teen 2022 – 20 jaar nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het – die lig te sien.

Nou is dié skat, vol herinneringe van die krieketster se skooldae, Maandag tydens opgraderings by die skool opgegrawe.

Dr. Pierre Edwards, Affies-skoolhoof, vertel Dinsdag aan Maroela Media onderwysers en leerders van die skool het Maandag behoorlik gegons oor dié “skat” wat werkers sowat twee meter onder die grond by die hoofingang van die skoolterrein aangetref het.

Edwards sê hoewel daar aanvanklik eers onduidelikheid oor die inhoud van die trommel was, het hy dié trommel as De Villiers se eiendom geïdentifiseer met behulp van ʼn eerstespanrugbytrui met die nommer 10 daarop.

Die trommel is glo opgegrawe terwyl die skool IT-kabels aangelê het. “Dit was nogal redelik diep begrawe,” vertel Edwards. “Die trommel en die inhoud daarvan was nat weens ondergrondse water toe ons dit uitgehaal het. Ons het alles op die gras uitgepak en nadat ons dit was AB se trommel geïdentifiseer het, het ons hom gekontak om dit te kom haal.”

In die trommel, wat De Villiers saam met ʼn groep vriende begrawe het, was onder meer sy ou skoolbaadjie, ʼn rugbytrui en ʼn lang brief – glo deur die oud krieketspeler geskryf.

De Villiers het Maandag besoek by Affies afgelê en die trommel saam met hom huis toe geneem om die klere te laat skoonmaak en die ander inhoud te probeer te restoureer.

“Dit was baie nostalgies om na die inhoud van die trommel te kyk. Destyds het ons geweet hoeveel talent AB het, maar ʼn mens sou nooit kon weet presies hoe groot internasionale krieketster hy werklik sou wees nie. Dit is wat die hele storie so wonderlik maak. Dit het teer herinneringe oor sy skooldae weer laat opduik en ons het heerlik daaroor gesels,” sê Edwards.

Die skool het toestemming gevra dat die trommel en die inhoud daarvan aan die skoolmuseum geskenk word. De Villiers sal glo dié versoek met sy oud-klasmaats bespreek en dan aan die skool terugvoer gee.

De Villiers het in sy selfgetitelde outobiografie in ʼn kort hoofstuk oor sy Affies-hoërskooldae gepraat.

AB de Villiers. Foto: ANA

Daarin skryf hy: “So het ek Affies in Desember 2002 met groot hartseer verlaat, amper vyf jaar nadat daar aangekom het en die erekode ʼn honderd keer moet uitskryf. ʼn Groep van ons wou hierdie mylpaal in ons lewens gedenk. ‘Wat kan ons doen?’ het een van my vriende gevra. My broer Wessels het my vertel van ʼn tradisie om ʼn trommel te koop, dit vol te maak met verskillende aandenkings aan ons tyd by Affies, en om dit dan iewers op die skoolgrond te begrawe. Ek het die plan aan my vriende verduidelik, en almal het daarvan gehou. En dis toe presies wat ons doen ook.

Ons het ʼn groot trommel gekoop en dit volgemaak met verskillende goed. Ek het my Affies-baadjie en das daarin gesit, en ʼn lang brief, sowel as ʼn bottel wyn en ʼn bottel sjampanje. Toe, in die middel van die nag in ons laaste week, het ons uitgesluip, ʼn groot gat in die grasperk net links van die skoolhek gegrawe, die trommel begrawe en die gras versigtig teruggesit. Ons oorspronklike plan was om die trommel in 2012 uit te grawe, op die tiende herdenking van toe ons Affries verlaat het, maar party van ons kon nie op daardie datum by die skool uitkom nie, en ons het ooreengekom om die seremonie uit te stel tot die twintigste herdenking, in Desember 2022. Dis natuurlik so dat die trommel se bestaan ʼn goedbewaarde geheim bly. Moes dus asseblief vir niemand daarvan vertel nie.”

Edwards sê wat veral die hartsnare roer, is De Villiers se slotsin in dié hoofstuk wat handel oor sy nalatenskap en die impak wat die skool op sy lewe gehad het.

Hieroor skryf die oud-krieketkolwer: “Dis op daardie presiese oomblik dat ek besef het dat as jy eers by Affies was, jy nooit regtig weggaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lena Jonk ·

Wat n wonderlike skool is Affies nie, mnr Edwards jy het ons seuns met soveel respek behandel daarom dat jy nou nog gewild bly. My seun was ook daar maar hy is nie meer met ons nie. Ek het ook sy baadjie en das gestuur na Affies toe, so paar jaar terug. Baie voorspoed en mag die Genade van ons Vader altyd met julle wees. Affies Bo.

Bernard Hellberg ·

My seun was ook op Affies (klas van ‘92), en het ‘n puik opvoeding gekry wat hom laat uitstyg het?

Nakkie die Nar ·

Verseker! Wie Affies, EN Boys High, nie ken en/of beleef het nie, sal nooit_ooit weet nie. ‘n Goue draad loop deur daardie skole, my seuns, 3 van 4, se Affies-matriek Jare was 2000/2003/2012.
Nooit spyt gewees om hul daár te plaas nie, eerder ‘n KLEIN vissie inne GOOT dam as ‘n GROOT vissie inne KLEIN dam…??

AFFIES, VIR ALTYD…??????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.