Affies-meisies gee om

Die leerders van Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria oorhandig die 35 geskenkbokse aan Janine Rowley (middel, voor) van WAR. (Foto: Verskaf)

Sedert Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria se ontstaan het dié skool nog altyd bekend gestaan as ’n skool met ʼn omgee-hart. Ander se seer is ʼn werklikheid en Affies sien dit raak.

Dit is met hierdie gesindheid wat Amory Smith, 2021 se visepresident vir kultuur en liefdadigheid van die skool se verteenwoordigende leerderraad (VLR), besluit het om die Woman Against Rape (WAR)-projek as deel van ʼn Kersprojek te ondersteun.

Volgens Colleen Naudé, skakelbeampte van die skool, het WAR 18 kinders se Kerswense aan die skool vir die projek verskaf. Die ouergemeenskap van Affies het so rojaal geskenk dat die skool 35 geskenkbokse vir dié projek kon volmaak. Die geskenkbokse is Woensdag aan die organisasie oorhandig.

Smith het gesê die gesegde wat lui: “Hoe meer jy gee, hoe meer sal jy ontvang”, het haar gemotiveer om die projek te ondersteun.

“Ons skool het so baie om te gee en ek dink ons moet gebruik maak van die geleentheid om te kan gee.

“Ek was heeltemal oorbluf oor die leerders se geesdrif vir die projek. Ons het eers in November bemarking begin doen, maar teen 4 Desember het ons reeds drie motors vol skenkings gehad.”

Affies-meisies het WAR se Precious Pearls-projek ondersteun wat leerders laat besef het dit is eintlik die klein dingetjies wat betekenis aan mense se lewens gee.

Smith het gesê sy het ook reeds groot planne vir uitreikaksies in die komende jaar. “Ons wag nog vir finale goedkeuring, maar ons eerste liefdadigheidsprojek sal reeds op 4 Februarie afskop en dan is daar ook nog die skool se vyf dae van omgee in die jaarlikse Gee-week wat ons aanpak.”

WAR is reeds 22 jaar aan die gang en dit is die passieprojek van die voormalige loopplankmodel Janine Rowley wat in haar jeugjare as ʼn kind gemolesteer is. Sy het op 50-jarige ouderdom begin om troospakkies by die Kloof-hospitaal in Erasmuskloof, Pretoria, uit te deel aan slagoffers van verkragtings en só het die projek gegroei.

Rowley het besef daar is ʼn behoefte vir verkragtingslagoffers om te praat en om troos te vind. Dit is hoe WAR ontstaan het en hulle maak slegs op donasies en skenkings staat vir die organisasie se voortbestaan.

Dié organisasie ondersteun tans 24 ander nieregeringsorganisasies, wat bejaardes tot kinderhuise insluit. WAR verskaf ook ʼn netwerk van beradingsdienste en lewer troospakkies aan talle traumasentrums.

Besoek WAR se webwerf vir meer inligting oor hulle werksaamhede en om uit te vind hoe om hulle te ondersteun.

Stroom-op kuier by Maroela Media

Die 2020-redaksie van Stroom-op van die Affies-meisies het vroeër vanjaar voor die aanvang van die Covid-19-pandemie by Maroela Media kom inloer.

Hierdie skoolkoerant verskyn elke kwartaal en elke leerder ontvang ʼn kopie aan die begin van elke kwartaal. Dit is vir die leerders deur die leerders ontwikkel.

Affies se skoolkoerant onder die leiding van Natalie Goetch, woeker met ʼn redaksiespan van ongeveer 20 lede. Die redaktrise Marisha Hermann en die joernaliste sorg dat nuus altyd kraakvars bly.

Maroela Media het die geleentheid gehad om met Hermann en twee van die redaksielede, Xannée Jacobs en Anomé Victor, in ons ateljee te gesels oor Afrikaans, die toekoms van Suid-Afrika en leierskap. Luister na die volledige gesprek hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.