Affies vier 98 jaar

affies

Klaslede van die 1948-matriekgroep. Voor: Dr. Francois Booyse, dr. Tinus van Staden, mnr. Armand du Plessis, dr. Pierre Edwards (hoof van AHS), dr. Rudolph Bigalke, dr. Fred le Roux en mnr. Michau Jacobson. Agter: Dr. Cilliers Wiechers, mnr. Pierre Stoffberg, dr. Perry van Rooyen, dr. Frans Viljoen, dr. Wim Klooster en dr. Frans te Groen. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria het Vrydag twee besonderse mylpale in egte Affie-gees gevier.

Dié skool, wat vanjaar sy 98ste bestaansjaar in Pretoria vier, het ook die klas van 1948 se 70ste klasreünie aangebied.

Dirk Taljaard, skakelbeampte van die skool, het gesê die skool is deur die matriekgroep van 1948 genader om ʼn datum vir ʼn reünie vas te stel. “Ons het gedink dit is ʼn goeie idee om die reünie saam met die skool se verjaarsdagviering te hou, omdat dit so uitsonderlik is dat ʼn matriekgroep ʼn 70ste reünie hou.”

Dié matriekgroep bestaan uit 12 oorblywende klasmaats, van wie ses mediese dokters is. Hul 70ste reünie het Vrydag saam met die verjaarsdagviering plaasgevind. Nadat die groep die saalbyeenkoms bygewoon en ʼn geskiedenisoorsig van die skool gegee is, is die personeel en leerders die geleentheid gegee om saam te kuier.

Volgens Taljaard is die 1948-matriekgroep se reünie ook “besonders” omdat hulle in graad 9 was toe die skool sy kwarteeufeesviering gehad het. “Hulle het dus die kwart- en halfeeufeeste bygewoon en nou hoop ons hulle kan by wees as ons oor twee jaar die 100ste bestaansjaar in Pretoria vier.”

Die personeel en leerders sowal as die 1948-matriekgroep het saam na ʼn krieketwedstryd gekyk tussen die huidige eerste krieketspan en ‘n span jong oud-Affie-krieketspelers wat besig is om naam in die krieketwêreld te maak.

affies

Bo: ‘n Foto wat in 1928 geneem is tydens die eerste unievlaghysing by Die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. (Foto: Facebook) Onder: Die foto wat Donderdag geneem is ter viering van dié skool se 98ste bestaansjaar in Lynnwoodweg, Pretoria. (Foto: Verskaf)

Volgens Taljaard het dr. Rudolph Bigalke, organiseerder van die reünie en gewese beroepsveearts, tydens die saalverrigtinge vir die leerders gesê dat Affies destyds ʼn goeie skool was, maar nou selfs beter is. “Dit was vir die seuns en die ouer mans ʼn besonder verrykende ervaring. Dit was vir almal inspirerend om te sien hoe die seunskool van krag tot krag gegaan het oor die jare.”

Die feesviering het reeds Donderdag afgeskop toe ʼn foto, wat in 1928 geneem is tydens die eerste unievlaghysing by dié skool, herskep is. Die leerders van die Afrikaanse Hoër Meisieskool het by die seuns aangesluit vir die neem van die foto.

Die Afrikaanse Hoërskool is in 1920 gestig en het in 1928 sy intrek in die gebou in Lynnwoodweg, Pretoria, geneem. Die skool is in 1930 weens ʼn ruimteprobleem in twee skole verdeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Basson ·

T-R-O-T-S!

Uitnemende prestasie, getuig van visie en uiters harde werk.

Louwboepens ·

Ja,waar het die jare heengegaan.Ek was in die vyftigerjare `n leerling op Affies.Ek is vandag nog steeds baie trots om deel te gewees het van so `n puik skool.Ek onthou nog Gerhard Strijdom,seun van Eerste Minister advokaat JG was ook daardie jare `n leerling.Die hoof was dr.Potgieter (ou phone),Mnr.Coetzee(muis-boekhou),mnr.Lemmer (LO).mnr.Lubowski(latyn) en moenie jufrou Eccles (sang) vergeet nie.Ag,hoe verlang ek nou na daardie goeie ou jare.
Mag Affies nog baie jare goeie leiers soos in die verlede voortbring.Ek salueer julle.

Anrich de Kock ·

‘n Trots wat geen Affie ooit sal vergeet nie. ‘n Broederskap wat nooit sal terugstaan nie. Die ROOI, GEEL en GROEN wat deur elke Affie se bloed sal vloei vir altyd!!!! AFFIES sal altyd die standaarde stel!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.