Aflegging tydens inperking maak 2020 Davy se beste jaar nóg

Davy Tsopo (Foto: Facebook)

ʼn Jaar gelede was Davy Tsopo nog ʼn skoonmaker in ʼn restaurant in Linden, waar hy lang ure gewerk het en min tyd vir sy familie gehad het. Maar omdat die restaurant waar hy gewerk het as gevolg van die Covid-19-inperking van hul personeel moes aflê, het Davy die geleentheid aangegryp om sy eie onderneming te begin.

Davy vertel aan Maroela Media dat sy aflegging moeilik was en dat hy baie bekommerd was oor hoe hy vir sy familie gaan sorg. Davy en sy vrou het boonop ook ʼn maand voor sy aflegging ʼn babaseuntjie verwelkom.

Tydens vlak 5 van die nasionale staat van inperking het ʼn gawe buurman vir Davy toegang tot sy WiFi gegee. Hy het gesê Davy kan dit gebruik om na snaakse video’s op YouTube te kyk om hom op te beur.

“Maar ek het toe niks snaakse video’s gekyk nie,” vertel Davy. “Ek het programme oor koekbak begin kyk. Terwyl ek na hierdie programme gekyk het, het ek begin bestanddele en resepte neerskryf.”

Davy kan deesdae veel meer tyd saam met sy gesin deurbring (Foto: Facebook)

Davy het voor sy baba se geboorte ʼn nuwe stoof en oond vir hul woonstel gekoop, maar omdat die kind tydens vlak 5 van inperking gebore is, kon die stoof nog nie installeer word nie. Toe vlak 4 van inperking aangekondig word, het Davy onmiddellik daarvan werk gemaak om die oond te laat installeer sodat hy kan begin eksperimenteer.

“Dis toe ek begin het. Ek het eers muffins, skons en koekies gebak, en my bure het dit begin koop. Daarna het ʼn vriendin gevra of ek sjokoladekoek kan bak, en ek het dit probeer.”

“Die eerste koek wat ek gebak het, het ek saam met my familie geëet – en dit was regtig lekker. Die tweede een het ek toe aan die vriendin vir R250 verkoop.”

Davy se vriendin het ʼn plasing daarvan op Instagram gemaak, en dít was net die hupstoot wat sy onderneming nodig gehad het. Cakey by Davy is gebore en bestellings het begin instroom.

Cakey by Davy (Foto: Instagram)

Sedertdien bak Davy sowat ses tot sewe koeke per dag, en hy het selfs al op een naweek 18 koeke verkoop.

Davey sê die ondersteuning wat hy van sy plaaslike gemeenskap in Linden gekry het, was eenvoudig ongelooflik. Hy kry nou selfs bestellings van reg oor die wêreld.

“Ek het aanvanklik gesukkel met die versiering van die koeke, en ʼn plaaslike restaurant het aangebied om my gratis te leer hoe om dit te doen. Daarna het ek meer selfversekerd geword. Mense ondersteun my met bestellings, bestanddele en selfs babaklere.

“Daar is selfs iemand van die VSA wat al 20 koeke by my bestel het of mense van Kaapstad wat tien koeke op ʼn slag bestel. Hulle vra dan dat die koeke aan ouetehuise, kinderhuise of minder bevoorregtes versprei word, maar hulle bestel steeds om my te ondersteun.”

Cakey by Davy (Foto: Instagram)

ʼn Johannesburgse bakmaatskappy South Bakels het selfs al aan boord gekom en borg nou Davy se bestanddele vir 12 maande. Vriende het hom gehelp om ʼn logo vir sy onderneming te ontwerp, hy het mense wat hom met bemarking help en plaaslike mense wat aanbied om hom gratis nuwe vaardighede te leer.

“Ek vra heeltyd vir my vrou: ‘Is ek besig om te droom?’ Alles het verander. Ek kan nou op my eie tyd werk, ek het minder stres én ek kan meer tyd saam met my familie deurbring. Dit voel fantasties.”

Davy sê hy is trots op homself dat hy nie in sak en as gaan sit het nadat hy sy werk verloor het nie. Hy wou nie gaan bedel het nie, so hy het ʼn plan gemaak wat alles vir hom verander het.

Hy is veral dankbaar vir die gemeenskap van Linden wat hom ondersteun en in hom geglo het, sodat hy ʼn sukses van sy eie onderneming kan maak.

Davy bak en versier koeke in sy woonstel in Linden (Foto: Instagram)

“Een ding wat ek geleer het, is dat alles in die lewe vir ʼn rede gebeur. Ek was so gespanne toe ek my werk verloor het. Ek het gedink 2020 gaan die aakligste jaar ooit wees, maar dit het toe in een van die bestes verander!”

Davy se voormalige baas het hom selfs al gebel om te sê hy is trots op hom en hy is jammer hy het Davy se tyd gemors deur hom as ʼn skoonmaker te gebruik. Maar Davy sê daar is geen kwaadgevoelens nie.

“Ek moes ʼn skoonmaker wees om afgelê te word, en ek moes afgelê word om my eie onderneming te begin. Dit was net ʼn kwessie van tyd, alles in die lewe het sy tyd.”

Besoek Cakey by Davy se Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Davy, jy is voorwaar ‘n inpirasie en ‘n voorbeeld vir baie mense, veral jongmense! Mag jou onderneming net van krag gaan!

Piet ·

Wys jou nou net wat gedoen kan word. Vergelyk dit nou met die ashopie sitters wat net ween en moan (baie van hulle steeds BAIE beter af as Davey maar hulle moan van oggend tot aand want iemand moet mos vir hulle ‘n ou werkie gee). Werk vir jouself en hou op moan!!!

Patch ·

Wys jou net, waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg! Welgedaan Davy. Ek wens jou alle sukses toe met jou onderneming.

Snowball ·

‘Wat cake jy?’ Ek kyk na ‘n wenner! ‘n Mens wat WIL, iemand wat vir hulp gaan soek het aan die end van sy eie arm! Hoe bemoedigend in vergelyke met die eindelose rye bakhandstaners!

Piet ·

Sy volgende stap gaan wees om ander in diens te neem. Daar is min dinge so selfvervullend as om self iets op te bou en dan vir ander werk te gee.

Kiepie ·

Mooi man! Soos ek altyd vir my kinders: “Party mense gaan hier uitkom met ‘n verskoning en ander gaan hier uitkom met sukses”. En dit geld vir meeste situasies in die lewe.

Ansie ·

Knap gedaan, Davy. Ek hou baie van jou filosofie. Alles gebeur met ‘n doel. Baie sterkte vorentoe met jou besigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.