AfriForum-boomplantmaand: ’n nuwe begin van hoop

Monica Thompson en Johardt van Heerden besig om die eerste boom van AfriForum se boomplantmaand te plant. (Foto: Verskaf.)

AfriForum het verlede week reeds sy jaarlikse boomplantmaand afgeskop deur ses Natal-vyebome (Ficus natalensis) by The Lucky Lucy Foundation buite Malmesbury in die Wes-Kaap te plant.

Die burgerregte-organisasie gaan die hele Septembermaand aan boomaanplantings regoor die land wy.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake, is dié projek deel van ’n poging om die toekoms te verseker vir generasies wat kom. “Mense oor Suid-Afrika heen vier Boomplantdag op 1 September, maar AfriForum wil die hele Septembermaand aan [die aanplant van] bome wy.”

Die organisasie het vanjaar weer eens ’n plan vir boomplantmaand wat reg oor die land van stapel gestuur gaan word. Altesaam 140 AfriForum-takke dwarsoor die land gaan poog om meer as 2 500 bome deur die loop van die maand aan te plant.

“In dié onsekere tyd waarin ons leef – veral te midde van die Covid-19-pandemie en die inperking wat daarmee gepaard gaan – is dit belangrik om te weet dat ons die begin van lente en ’n nuwe begin met só ’n projek kan vier. Om vanjaar ’n boom te plant gee vir ons moed vir die toekoms omdat ons plant vir die toekoms. Die boom gaan ’n simbool van oorlewing wees, want oor tien jaar kan jy na die boom kyk en sê: ‘Ons het oorleef.’

“Vanjaar wil ons takke en gemeenskappe aanmoedig om, buiten die bome wat ons takke op grootmaat gaan aanplant, ook bome by hul huise, skole, kerke, gemeenskapsentrums, ouetehuise en parke te plant. Ons wil takke ook aanmoedig om uit die lesse van die inperking en die Covid-19-pandemie te leer en waar moontlik vrugtebome te plant,” sê De Klerk.

“Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Hierdie is ’n nuwe seisoen vir Suid-Afrika. Net soos wat inheemse bome ’n belangrike rol speel ten opsigte van die land se welstand, simboliseer dit ook die land se mense. Ten einde Suid-Afrika te maak werk moet ons almal ons deel doen. Alle bome werk saam en dít maak dat die ekostelsel werk. Ons sal hier woon en hierdie land aanhou opbou sodat almal kan floreer.”

Daar word vanjaar op twee bome gefokus: ’n algemene boom en ’n skaars boom. Die algemene boom is die Kaapse essenhout (Ekebergia capensis) en die skaars boom die welbekende kremetart (Adansonia digitata).

“AfriForum moedig gemeenskappe aan om aan boomplantmaand deel te neem, die program te versprei en ’n verandering aan die toekoms aan te bring,” sê De Klerk.

V.l.n.r. is Deon de Jager, Johardt van Heerden, Kim Poulton, Monica Thompson, Nicole Dunckley en Werner Julies. (Foto: Verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae