AfriForum maak harte bly dié Kersfees

Afriform Kersprojek 2016 (Foto: Skermgreep uit video)

Die AfriForum-Kersprojek skop vanaand af met geskenkpakkies vir kinders en bejaardes wat in die Danville- en Pretoria-Wes-omgewing afgegee gaan word.

Ilse Nortje, operasionele koördineerder van die projek, het gesê dié projek is al vir vyf jaar aan die gang en groei elke jaar.

“Die projek het veral in die laaste twee jaar baie gegroei. Baie organisasies het betrokke geraak en ons kan die geskenkpakkies nou by meer plekke uitdeel,” het sy gesê.

“Hierdie jaar het ons 3 000 pakkies vir bejaardes en 15 000 vir kinders om uit te deel. Die geskenkpakkies het onder meer lekkertjies, koekies en Bybeltjies in.”

Afriform Kersprojek 2016 (Foto: Skermgreep uit video)

Dié projek het selfs ʼn Kersvader wat op ʼn trok deur die strate ry. Die trok het ʼn Kersvader-stoel, liggies én regstreekse vermaak wat die strate met musiek sal vul.

“Ons roete loop hoofsaaklik waar ons weet daar is ʼn behoefte. Ons gaan besoek ouetehuise en daar is ook aandoenpunte waar Kersvader dan van die trok afklim en vir ʼn uur op een plek staan en geskenkpakkies vir behoeftige kinders uitdeel. Ons maak die pakkies op vir kinders van 12 jaar en jonger,” het Nortje gesê.

“Kinders kan ook vir Kersvader ʼn drukkie kom gee of ʼn foto saam met hom neem.”

Nortje sê daar is ook 15 voertuie wat saam met die trok die strate invaar, wat die feestelikheid van die geleentheid verder versterk.

“Ons wil net vreugde versprei en mense aanmoedig om iets vir minderbevoorregtes te gee,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

dankbare hart ·

was n belewenis gistraand het dit ervaar die kinder hartjies was so dankbaar en hul dit geniet

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.