AfriForum-teenboelieveldtog se gelukbringer kuier by laerskole

afriforum-teenboelies-ds-pieter-van-zyl-van-school-of-life-matteus-en-leandie-brasler

Ds. Pieter van Zyl van NG Suiderlig saam met Matteus en Leandie Bräsler van AfriForum. Foto: Verskaf.

Deur Leandie Bräsler 

Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het die afgelope week besoek afgelê by Laerskool Helderkruin in Roodepoort as deel van hul Boeliebewusmakingsweek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

Afknouery/boeliery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller. Afknouery/boeliery kan ook verskeie vorme aanneem, naamlik:

  • Fisiek (skop, slaan of boks);
  • Verbaal (noem kinders name, dryf die spot met hulle of maak dreigemente);
  • Emosioneel (sosiale uitsluiting, intimidasie deur gebare of dreigemente);
  • Seksueel; en
  • Kuberafknouery (deur die internet op sosiale media soos Facebook; of deur selfone met haatboodskappe of afdreiging).

“AfriForum wil met sy teenboeliepraatjies saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole stop te sit en die betrokke partye met die kennis toe te rus om dit te kan doen. Ons gee ook aan elke onderwyser ’n Teenboeliegids wat raad aan hulle bied oor hoe om boelies te hanteer, asook ’n paar aktiwiteite wat hulle met die kinders kan doen wat dien as bewusmaking. Matteus, ons groter as lewensgrootte boelieveldtog-gelukbringer, is ook tydens hierdie besoek vir die heel eerste keer by Laerskool Helderkruin bekendgestel,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

Matteus dra die volle wapenrusting van God wat bestaan uit die gordel van waarheid, die borsharnas van geregtigheid, die skoene van vrede/bereidwilligheid, die helm van verlossing, die skild van geloof, en die swaard van die Gees. Matteus se slagspreuk is om ander mense te behandel soos jy graag behandel word, soos in Matteus 7:12 staan. Die wapenrusting dien as gereedskap wat die boelie en die boelie-slagoffer kan gebruik wanneer hulle met boelievoorvalle gekonfronteer word. Daar word ook vir leerders verduidelik dat afknouery/boelie iets is wat oor en oor gebeur en dat dit nie net ’n eenmalige insident is nie.

“Die missie-slagspreuk van Laerskool Helderkruin is die volle potensiaalontwikkeling van elke leerder. Die Boeliebewusmakingsweek streef daarna om elke leerder se volle potensiaal te onwikkel om hulself te kan beskerm teen boelies – boelies in vlees en boelies in die kuberruimte. Personeel, ouers, leerders en die gemeenskap vat hande en staan saam met die Here as ons fondament om die verskil te wees wat ons wil sien,” sê Elaine Steyn, onderwyseres en voog van die boelieraad van Laerskool Helderkruin.

“Ek glo dit is uiters noodsaaklik om deur middel van opleiding, rigtinggewing en ondersteuning in jongmense te belê. Sodoende help ons nie net met die opheffing van vandag se leiers nie, maar ook dié van môre. Dit bly ’n voorreg om saam met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat om afknouery in skole hok te slaan,” sê Pieter van Zyl van School of Life – hy was ʼn spreker tydens AfriForum se boeliebewusmakingsbesoek by Laerskool Helderkruin.

  • Stuur ’n e-pos na [email protected] as die skool waarin jou kind/ers is, by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.
  • Die AfriForum Teenboeliegids kan ook hier afgelaai word.
  • Leandie Bräsler is die koördineerder vir leierskapsontwikkeling by die burgerregte-organisasie AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daan ·

AfriForum. Julle doen fantastiese werk. Broodnodige werk. Hoekom maar hoekom het die sirkus in die Parlement plaasgevind. Ek kan nie glo dit is met ‘n mandaat van die bestuur gedoen nie.

Veritas ·

Daan hoekom sien jy die, stel van feite, as ‘n sirkus? Daar moet tog êrens begin word om verdraaide feite en geskiedenis bloot te stel. Die reaksie van die politieke partye, is duidelike bewys daarvan dat daar ‘n sensitiewe aar raak geboor is. Politieke leiers werk hard daaraan om hierdie feite te verbloem of só te verdraai dat die ongeletterde massas dit as die waarheid aanvaar. Hoe langer en hoe meer dikwels die leuen verkondig word, hoe meer sal mense dit glo. Dit is tog nie moeilik om dit in te sien nie.
As jy ooit die gesprek, op 702, tussen Mosiau Lekota en Eusebius Mckaiser gehoor het, sal jy besef watter groot rol die media in die wanvoorstelling van die geskiedenis speel. Die liberale nuusagentskappe is daarop uit om die Afrikaner te vernietig. Dit sluit die sg liberale Afrikaanse agentskappe (Hanskakies) in. Ek neem sedert 1974 nie meer deel aan enige verkiesing nie maar volgende jaar stem ek vir Cope.

Doep ·

Nou wonder ek mos so by myselwers…….van wanneer af is harde, reguit feite ‘n sirkus???

Gerda ·

Die feite mag korrek wees maar Ernst se oordeel het hom en Afriforum in die sterk gelaat. Sy manier van praat was swak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.