Afrikaans 90: Afrikaans vertel sy eie storie in enkelradiodrama, “Sagmoedige Neelsie”

C.J. Langenhoven

C.J. Langenhoven

“As ʼn taal uit sy vel kan wees, weet maar: híéroor was ek uit my vel; oorstelp; in ekstase. Vir die eerste keer het ek ʼn naam gehad; ʼn status; en is ek deur die wet beskerm.”

Só vertel Afrikaans, een van die karakters in die splinternuwe enkelradiodrama, Sagmoedige Neelsie, wat op 8 Mei vanjaar op gemeenskapsradiostasies landswyd uitgesaai sal word. Dié enkeldrama, vervaardig deur Bettie Kemp en Maroela Media, vertel die verhaal van CJ Langenhoven, een van die mense wat ʼn leidende rol gespeel het om Afrikaans as amptelike taal erken te kry, en sy verhouding met Afrikaans.

Op 8 Mei vanjaar is dit presies 90 jaar gelede sedert die wetsontwerp wat Afrikaans amptelike status sou gee, in 1925 deur die Volksraad en Senaat aangeneem is. Met die drama Sagmoedige Neelsie, wat deur ʼn borgskap van die Solidariteit Beweging moontlik gemaak is, word ʼn groot mylpaal vir Afrikaans op ʼn besonderse manier gevier.

In die 40 minute lange drama kom bekende Afrikaanssprekendes soos Abraham de Vries, Sarah Goldblatt, DF Malan en DJ Opperman ook aan die woord, terwyl Afrikaans self as verteller die storie vertel van sy ontwikkeling: van sy begindae as nederige kombuistaal tot ʼn amptelike, volwaardige taal.

Die radiodrama word gratis beskikbaar gestel aan gemeenskapsradiostasies wat dit op Taaldag, 8 Mei, wil uitsaai om Afrikaans se 90ste verjaarsdag saam met Maroela Media te vier. Mense sal ook op Maroela Media se webwerf daarna kan luister.

Die hoofrol word vertolk deur die gesoute radio-akteur Lochner de Kock, en Anton Dekker se bekende radio-stem is die karakter “Afrikaans”. Ria Smit speel Sarah Goldblatt en Riana Wilkens, tans te sien op TV in Villa Rosa, is Langenhoven se vrou, Lenie. Ander spelers is Francois Stemmet, Morné Coetzer en Antowan Nöthling. Jahkals, Langenhoven se hondjie, speel ook ʼn rol! Die teksskrywer is Evert Snyman.

Luister Vrydag 8 Mei om 10:00 na dié radiodrama op Maroela Media en op jou gunsteling gemeenskapsradiostasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.