Afrikaans laat hom geld, sê FAK-vereerdes

Bun Booyens (Foto: Maroela Media)

Bun Booyens (Foto: Maroela Media)

“Afrikaans is ʼn brugtaal, geïntegreer tot ʼn nuwe en unieke instrument van uitsonderlike skoonheid wat in talle velde woeker. Dis ʼn taal wat hom laat geld tot in die buitenste ruim, buiten Engels die enigste ander volwaardige wetenskapstaal en ʼn ontwikkelaar van woorde wat volksbesit geword het.”

Só het professors Oppel Greeff, Kobus Krüger, Christo Viljoen en Bun Booyens Donderdag in hul afsonderlike toesprake tydens Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jaarlikse Prestige-aand in Pretoria gesê.

Die FAK het Donderdag hulde aan dié rolspelers gebring wat “oor die jare heen ’n positiewe bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur gelewer het”.

Greeff is onder meer vereer met die FAK Prestige-toekenning vir uitnemende leierskap en Krüger met die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur.

Die HB en MJ Thom Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding is aan Viljoen oorhandig en Booyens het die FAK Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaans in die media ontvang.

Prof. Oppel Greeff (Foto: Maroela Media)

Prof. Oppel Greeff (Foto: Maroela Media)

Hoewel die vereerdes dié lof nederig aanvaar het, het elkeen afsonderlik opgemerk dat die Afrikaanse taal, soos dit vandag geken en uitgebrei word, ʼn spanpoging is.

“Afrikaans is nie vandag hier te danke aan die handjievol mense wat vir hulle werk in die wonderlike taal vereer is nie. Die taal het ook nie bereik wat hy het om dié rede nie. Daar is soveel ander wat op Afrikaanse grond geploeg het wie se bydrae ewe waardevol was en tans steeds is,” het prof. Viljoen gesê.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het gesê die vereerdes is ʼn toonbeeld daarvan dat Afrikaanssprekendes nie bloot op die grondwetlike beskerming van Afrikaans kan staatmaak nie, maar dat daar ywerig gewerk moet word om dié taal se voortbestaan te verseker.

“Dié rolspelers wys waar ’n wil is, is daar ’n weg. Uitnemende prestasies op elke terrein, van wetenskap, letterkunde, genealogie tot joernalistiek, skep saam ’n taaltoekoms. Dit is die uitbou van dié hoë taalfunksies wat verseker dat Afrikaans steeds as ’n taal van wêreldgehalte haar plek volstaan,” het hy gesê.

Die gehoor is vermaak deur die Afrikaanse sangers Jannie Moolman en Corlea Botha, sowel as Hoërskool Centurion Skoolkoor.

Vir meer inligting, besoek die FAK-webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Klong ·

“… maar dat daar ywerig gewerk moet word om dié taal se voortbestaan te verseker”. Ek stem volkome saam hiermee. Te min protes en verset het egter gelei tot die verlies van byna al ons histories-Afrikaanse instellings. Hoef ek meer te sê?

Johannes Comestor ·

Christo Viljoen het by elke moontlike geleentheid gepleit vir die behoud van Afrikaans aan bv die Universiteit Stellenbosch. Hy verdien die toekenning. Maar ek verstaan nie waarom Bun Booyens bekroon is nie. Tydens sy redakteurskap van Die Burger was die koerant hoogs ongenee om vir Afrikaans of enigiets polities inkorrek in die bres te tree. In die hoofartikels en redaksionele kommentaar was daar feitlik nooit blyke van Afrikaanslojaliteit nie. Hierdie beleid word deur die huidige redakteur voortgesit.

Gerhard Burger ·

Johannes, jy slaan die spyker op die kop. Prof Viljoen – uitstekend dat hy vereer word. Maar, waarom Bun vereer is, is vir my ‘n raaisel. Die Burger was onder sy redakteurskap na die beste van my indruk nie net rigtingloos oor die behoorlike behoud van Afrikaans as gebruikstaal – beide akademies en administratief, nie, maar het by wyse van artikels van rubriekskrywers en wyses van aanbieding van die taaldebat eerder Engels as enigste voertaal ondersteun. Die Burger wat met Afrikaanse geld gebou is en ‘n Afrikaanssprekende mark bedien, het nie in die bresse en dus in belang van daardie taalgroep opgetree nie. Dit het groot skade veroorsaak, en was ‘n uiterste teleurstelling. Hierdie rede alleen moes vir die FAK sodanig swaar geweeg het dat Bun, ongeag moontlike ander bydraes in die media, nie vir verering oorweeg kon word nie. Ek weet ook nie hoekom hy vir die bevordering van Afrikaans in die media vereer is nie, afgesien van bostaande argument. Hy het in die Afrikaans media gewerk en moes dus in Afrikaans as medium werk. Hoe ookal. Sedertdien boikot ek Die Burger as gevolg van die slapgattigheid. Ek mis die koerant, Ek hoop die nuwe redakteur doen sy ding, sodat die koerant sy eer-verpligting teenoor die sprekers van Afrikaans kan nakom. Volg Rapport as voorbeeld! Dit sal lekker wees om weer die koerant te lees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.