Afrikaanse boekemark nog ʼn uitgewer ryker

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: @felipepelaquim/Unsplash)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se aankondiging dat ʼn nuwe uitgewery later vanjaar onder VivA se vaandel begin word, is ʼn spreekwoordelike ligpunt te midde van die driftige taaltwis die afgelope week.

VivA het die uitgewersbedryf die afgelope jaar fyn dopgehou, geluister na skrywers se bekommernisse en lesers se uitdagings, kopgekrap en planne beraam.

Vandag, op Internasionale Moedertaaldag, het dié taalorganisasie aangekondig dat VivA-Uitgewers op 12 April amptelik bekendgestel word.

“Hierdie inisiatief wil nie skrywers van hul huidige uitgewers wegrokkel nie. Ons wil as ʼn bemarker van skrywers funksioneer, en ons doen dit deur tegnologie in te span.

“Dit stel ons ook in staat om skrywers se werk plaaslik en internasionaal te bemark, en ʼn liefde vir digitale lees te kweek. Ons doel is nie om te probeer kompeteer met gevestigde uitgewers nie – ons is aanvullend tot die mark. VivA is en bly digitaal,” verduidelik Marlie Coetzee, uitvoerende hoof van VivA.

VivA-Uitgewers is ʼn produk van prof. Oppel Greeff se voorstel, drome en planne waaraan jare geskaaf en geskuur is, gesprekke met verskeie rolspelers en die vertroue van skrywers wat in VivA se werkswyse glo.

Oppel is ʼn voormalige VivA-direksielid wat die stigtersmaatskappy, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, verteenwoordig het.

Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA Afrikaans (Foto: Virtuele Instituut vir Afrikaans)

Volgens Marlie is die nuwe uitgewery ʼn veilige digitale platform is waar skrywers se verhale vanlyn gelees kan word. “Ons gaan ons daarop toespits om verhale van gevestigde skrywers digitaal te publiseer, maar terselfdertyd ook ’n platform vir nuwe skrywers te gee. Ons is opgewonde om nuwe stemme te identifiseer en slyp.”

Wat VivA-Uitgewers ʼn aanwins vir die Afrikaanse boekbedryf maak, is die feit dat dit tot die tegnologiegenerasie spreek, meen Marlie. As aanlyn uitgewer kan VivA-Uitgewers boeke goedkoper beskikbaar stel omdat daar nie druk- of stooronkoste is nie (hoewel hulle ook oor daardie dienste beskik).

“Die volgende groot Afrikaanse skrywer wag om ontgin te word, en ons wil daarmee help. Iewers is daar ’n storie wat ’n kind gaan laat lief raak vir lees, iewers is daar ’n storie wat die emosies van ’n leser perfek sal kan verwoord, en iewers is daar ’n digitale tuiste vir Afrikaanse inhoud by VivA-Uitgewers.”

VivA-Uitgewers maak op 12 April 2023 sy digitale deure oop met kreatiewe, relevante kortverhale en ʼn gratis e-boek. Daarna sal ʼn gratis boek deur ʼn bekende skrywer elke jaar op 21 Februarie beskikbaar gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koeksuster ·

Wonderlik! So lekker om sulke nuus te lees. Ter bevordering van ons taal, ons kultuur en ook ons ee-wees-gees saam in Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.