Afrikaanse jonges wys hulle het ’n kop vir sake

Kian Smuts (9), ’n gr. 3-leerder van Laerskool Pretoria-Oos, het die grondslagfase-kategorie gewen met sy sywurmbesigheid, Sywurms vir Afrika. (Foto: Verskaf),

Kian Smuts (9), Jayden Barnard (13) en Elsa Vermooten (14) het bewys dat jy nooit té jonk is om jou entrepreneuriese vaardighede te begin ontwikkel nie. Dié drie het vanjaar weggestap as wenners tydens die tweede Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie, ’n inisiatief van AfriForum.

Dié jong entrepreneurs het met laerskool- en hoërskoolleerders van oor die land heen meegeding om te kyk wie die beste produk of diens suksesvol kan ontwikkel, bemark en verkoop.

Die inskrywings het op 1 April vanjaar geopen en op 30 Oktober gesluit. Elke leerder wat aan die kompetisie deelneem word deel van die Byekorf. Die kompetisie het aanlyn by www.besigheidsbytjies.co.za plaasgevind en leerders kon in die gemak van hul eie huis inskryf. Die publiek het in November die geleentheid gekry om vir hul gunstelingentrepreneur te stem. Die publiek se stemme het 50% van die totale stemme getel en die beoordelaars het op 27 November die deelnemers beoordeel wat die ander 50% uitgemaak het. Wenners en naaswenners het elkeen ’n kontantprys en ’n Samsung-tablet of koordlose luidspreker ontvang.

Die beoordelaars van vanjaar se Besigheidsbytjies-kompetisie. (Foto: Verskaf)

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk, wil AfriForum volwassenes én kinders aanmoedig en inspireer om daar waar hulle is ’n verskil in die gemeenskap te maak. “Ons wil hê kinders moet besef hulle kan eendag ‘die baas’ wees, mits hulle hard werk aan hul idees en die uitvoering daarvan. Daarom moet hulle hul na entrepreneurskap wend, en dié vernuf moet sommer al op laerskoolbanke gekweek word.”

Leandie Bräsler, bestuurder van juniorjeugleierskapsontwikkeling by AfriForum, sê die burgerregteorganisasie glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal ook leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. “Die kinders van vandag is immers die leiers van die toekoms en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou.”

Kian, ’n gr. 3-leerder van Laerskool Pretoria-Oos, het die grondslagfase-kategorie gewen met sy sywurmbesigheid, Sywurms vir Afrika, terwyl Jayden Barnard, ’n gr. 7-leerder van Laer Volkskool Heidelberg, se honde-stapdiens, Swaaistert, die beste in die intermediêre fase-kategorie was.

Volgens James Barnard, Jayden se pa, stap die gesin graag met hul hond en klein Jayden het besluit om hul bure, wat nie so gereeld met hul eie honde kan stap nie, te help deur hulle honde ook in die middae saam te neem. Só het sy besigheid begin en vandag vat Jayden talle honde in sy woonbuurt vir hul daaglikse stappie. Jayden gaan ook nie sy prysgeld op nuwe speelgoed of rekenaarspeletjies uitgee nie, maar eerder nog ’n besigheid begin.

Jayden Barnard, ’n gr. 7-leerder van Laer Volkskool Heidelberg, se honde-stapdiens, Swaaistert, die beste in die intermediêre fase-kategorie was. (Foto: Verskaf)

Elsa Vermooten, ’n 14-jarige tuisonderrigleerder en bobaasbakster, het met haar besigheid, Smul, die hoërskool-kategorie gewen. “Ek het twee jaar terug begin om beskuitbestellings te neem en te verkoop. Ek hou van uitdagings, so ek het toe begin om te eksperimenteer met skuimpies, macaroons en om koeke vir kinderpartytjies te versier. Ons het ook ’n jaar en half terug begin om koeke vir ’n winkel op die dorp te bak, wat hulle per stuk verkoop. Mense het daarvan gehou en toe begin om koeke direk by my te bestel,” vertel Elsa oor haar besigheid. Sy koop ook graag haar bestanddele by plaaslike boere en is soos Jayden ook nie haastig om haar prysgeld uit te gee nie, maar dit eerder in haar besigheid terug te ploeg.

Volgens Rhona Erasmus, beoordelaar en eienaar van Midstream College Babahuis en mede-eienaar van Pienkvoet Pret en die Trouvaille Boutique Day Spa, is die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie ’n ongelooflike inisiatief omdat dit kinders van jongs af leer en lei om hul entrepreneuriese vaardighede te ontwikkel. “Dit is uiters belangrik, veral gegewe die tydperk waarin ons leef, dat kinders hierdie soort vaardighede ontwikkel en sodoende hul eie toekoms kan verseker. Ek was uiters beïndruk met die feit dat die wenners se planne nie net innoverend was nie, maar ook prakties uitvoerbaar en winsgewend is.”

Haar advies aan ouers is om hul kinders toe te laat om innoverend te dink en hul nie in ’n boks te druk nie. Vir kinders sê sy dat hulle nie bang moet wees om anders te wees nie, omdat hul uniekheid hulle juis sal laat uitstaan.

Kyk gerus uit vir volgende jaar se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie en skryf gratis in. Jy kan ook ’n kans staan om wonderlike pryse te wen om dalk in jou besigheid te belê.

Besoek gerus www.besigheidsbytjies.co.za en laai ons Besigheidsbytjiesgids gratis af.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Forum Nuus geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakez ·

Welgedaan aan almal, wys jou net ‘n mens is nooit te jonk om te begin nie.
Seker hul sal sukses behaal in die volwasse wereld ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.