Afrikaanse Liedjietuin blom al 10 jaar

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Afrikaanse Liedjietuin is 10 jaar gelede by dié kultuurinstansie se hoofkantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria bekendgestel. (Foto: Voortrekkermonument/Facebook)

Sedert die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Afrikaanse Liedjietuin 10 jaar gelede by dié kultuurinstansie se hoofkantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria bekendgestel is, is die tuin in ʼn pragtige lushof en kultuurjuweel omskep.

Vandag kan besoekers 55 liedjieborde, waarop groot geeste in die Afrikaanse musiekbedryf se lirieke pryk, bronsbeelde van verskeie legendes, en 200 unieke roosvariëteite in dié tuin besigtig.

Die tuin se 10de bestaansjaar is onlangs tydens ʼn intieme geleentheid gevier waar vriende, kollegas en kunstenaars byeengekom en terugkyk het oor die afgelope dekade se hoogtepunte.

Van dor grond na lushof

Maroela Media het met die Liedjietuin se bekendstelling in 2013 berig dat die FAK op hierdie manier hulde wil bring aan Afrikaanse sangers en liedjieskrywers wat ʼn besonderse bydrae tot die Afrikaanse musiekskat gelewer het of steeds lewer.

Kinders van die Wind-roos. (Argieffoto)

“In 2012 het ons besef dat daar geen monument was wat Afrikaanse musiek en kunstenaars vereer vir die diep spore wat hulle in ons kultuur trap nie. Die Liedjietuin het ontwikkel vanuit ʼn dor stuk grond waar rysmiere oral gevlieg het.

“As dit nie vir Sarie Marais, ʼn voormalige werknemer van die FAK, was wat destyds maande lank aan die projek gewerk het nie, sou ons nie vandag in die uitmuntende lushof gesit het nie. Nog ʼn ystervrou in die projek is Samantha Müller. Sy het nadat die tuin in 2013 onthul is, haar oor die instandhouding en uitbreiding hiervan ontferm,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK.

Rose laat kultuurerfenis blom

Die Liedjietuin is met behulp van Ludwig Taschner, ʼn bekende in die Suid-Afrikaanse roosbedryf, en sy dogter, uitgelê. Altesaam 165 roosbome en -bosse is destyds aangeplant.

Talle van die rose wat in die tuin gebruik is, is na Afrikaanse kunstenaars soos Christa Steyn, Rina Hugo, Mimi Coertse en Steve Hofmeyr vernoem.

Die “Afrikaans”-roos is ter herdenking van Afrikaans se 90ste jaar as amptelike landstaal gekweek. (Argieffoto)

In 2013 is “Kinders van die wind” as Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye aangewys is. Dié liedjie is vereer en verewig met ʼn spesiale roos wat deur Ludwig’s Roses gekweek en geregistreer is. Op 26 Oktober daardie jaar is die Kinders van die Wind-roos bekendgestel en twee van dié roosplante is aan die FAK geskenk om in die Liedjietuin te plant.

Nog twee rose, die “Ons vir jou”- en “Afrikaans”-rose, is op aanvraag van die FAK gekweek. Die “Afrikaans”-roos is ter herdenking van Afrikaans se 90ste jaar as amptelike landstaal gekweek, terwyl die “Ons vir jou”-roos met die honderdjarige viering van “Die Stem van Suid-Afrika” in 2018 gekweek is.

Liedjieborde met Afrikaanse gunstelinge

Tussen die groot verskeidenheid kleurvolle rose, kan die lirieke van talle Afrikaanse gunstelinge op marmerplate oral in die tuin gelees word. Dit sluit onder meer “Kinders van die wind” deur Laurika Rauch, “Griekwapsalms” deur prof. Hans du Plessis, “Lisa se klavier” deur Koos Kombuis, en “Suikerbossie”, ʼn alombekende volksliedjie.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Jannie Dut Toit Dinsdagaand vir sy lewensbydrae vereer. (Foto: Verskaf)

Die FAK het mettertyd nog liedjieborde onthul en kunstenaars op hierdie manier vereer:

Daar is ook by verskeie geleenthede hulde aan kunstenaars gebring, en bronsbeelde van sommige van hierdie Afrikaanse musikante opgerig.

In 2020 is Lucas Maree se gedenksteen hier ingehuldig, in 2021 het die FAK hulde aan die musieklegende Gé Korsten gebring deur ʼn nuwe borsbeeld en ʼn granietbord met sy liedjie, “Sing, Seeman, sing” in die Liedjietuin te onthul, en in 2023 is die lirieke van die ontslape sanger Theuns Jordaan se lied, “Vreemde stad”, ook in die tuin verewig.

Gelukwense stroom in

Bekende Afrikaanse kunstenaars waaronder Rina Hugo, Steve Hofmeyr, Roets, Carike Keuzenkamp en Du Toit het die Liedjietuin en die FAK met die viering van hierdie besondere mylpaal gelukgewens.

“Liedjietuin, ek wens jou alles van die mooiste toe. Mag jy in die toekoms van krag tot krag gaan en aanhou groei. Mag jy op hierdie spesiale stuk grond elke jaar nog ʼn klomp nuwe kunstenaars innooi. Ons is trots op jou,” sê Hugo.

Sy het ook die openingsfunksie van die Liedjietuin in 2013 bygewoon. Haar lied, “Ek sien vandag die son weer skyn”, is in die tuin verewig.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydagaand hulde aan die musieklegende Gé Korsten gebring deur ʼn nuwe borsbeeld en ʼn granietbord met sy liedjie “Sing, Seeman, sing” in die liedjietuin te onthul. (Foto: Verskaf) 

Lucas Maree se gedenksteen is nou veilig tuis in die FAK se Afrikaanse liedjietuin by die Voortrekkermonument in die Jakarandastad. (Foto: Maroela Media.) 

Piet Smit en Dr. Danie Langner tydens die onthulling van die liedjiebord. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.