Afrikaanse tuisversorgers is reddingsboei vir bejaardes

Ronel Beukes. (Foto: Forum Nuus)

Ronel Beukes van Bloemfontein was vanjaar die topstudent uit die eerste groep vroue wat Solidariteit Helpende Hand as geakkrediteerde tuisversorgers in Afrikaans opgelei het.

Beukes sê die eer wat haar te beurt geval het, was net die kersie op die koek. “Vir my was dit belangriker om my kwalifikasie te ontvang, want vooraf het ek ʼn pad van ses maande saam met die Here gestap waarin ek my voorberei het op voltydse bediening.

“Die Here het my dit op die hart gedruk om met bejaardes te werk.”

Beukes, wat voorheen ʼn bestuurder was, het op Sondae na tehuise gegaan waar sy Halleluja-liedere op haar kitaar gespeel en saam met die bejaardes gesing het, maar met die inperkings weens die Covid-19-pandemie kon sy dit nie meer doen nie.

“Een van die tannies het my gebel en gesê ek moet die berig oor ʼn nuwe kursus vir tuisversorging in die plaaslike gemeenskapskoerant lees,” vertel Beukes. Sy het dadelik besef met die formele kwalifikasie as tuisversorger kan sy as gesondheidswerker steeds met bejaardes werk en het haar dadelik vir die kursus ingeskryf.

In die praktiese sessies het Beukes dikwels met Alzheimer-pasiënte gewerk. Dit het beteken sy moes soms denkbeeldige gorillas jaag en pype verlê.

“Dit het nie altyd net oor versorging gegaan nie. Soms was ek weke lank iemand se enigste besoeker.”

Beukes bieg dat sy ʼn haastige geaardheid het. “Tot die een tannie vir my eendag gesê het ‘nie so haastig nie, hartjie’, toe besef ek hier is dit nou waar ek moet leer van luister, baie geduld en empatie.”

Sy sê die kursus bied ʼn sterk grondslag vir verpleging terwyl ekstra komponente oor die hantering van rou en hoe ʼn mens by ʼn sterfbed staan waardevolle vaardighede toevoeg.

“As jy die kursus doen, besef jy skielik daar is soveel rigtings in tuisversorging. Jy kan versorging aan bejaardes, kinders of volwassenes met gestremdhede of mense met Alzheimer se siekte of demensie bied.”

Tuisversorging is dikwels ʼn beroep waarop mense neerkyk totdat hulle dit egter self benodig.

Tanya Rossouw, ʼn maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand in die Vrystaat-streek, meen namate lewenskoste styg en daar steeds ʼn tekort aan plaaslike verpleegpersoneel is, gaan die behoefte aan tuisversorgers in Suid-Afrika net groter word.

“ʼn Tuisversorger sal voortaan ook nie meer net by een mens of huishouding uithelp nie, maar versorging by tot ses verskillende mense per dag moet bied. Dit sal die versorging van wonde of die uitdeel van medikasie insluit, maar soms gaan dit ook wees om die eensaamheid te verjaag.”

Rossouw sê dit is reeds ʼn emosionele uitdaging om te erken jy het hulp en versorging nodig en daarom kan taal en kultuur ʼn reusehindernis wees. Met demensie en Alzheimer-pasiënte kan dit nog ʼn groter probleem word omdat die siektes soms hulle taalvaardighede aftakel en hulle ook soms erg gefrustreerd en gewelddadig kan word.

“As jy in jou moedertaal versorg kan word, help dit die versorger én die persoon wat versorg moet word.

“ʼn Tuisversorger kan ʼn reddingsboei wees wat bejaardes se laaste jare opkikker. Dit is ʼn roeping en met dié kursus word hulle toegerus om ʼn verskil in mense se lewe te maak.”

Wat behels die kursus?

Altesaam 17 studente het vanjaar dié tuisversorgingsopleidingsprogram, die eerste van sy soort, in onderskeidelik Bloemfontein en Pretoria suksesvol voltooi en hulle dienste is reeds hoog in aanvraag. Die program is in Maart vanjaar bekendgestel weens ʼn groeiende behoefte aan Afrikaanse tuisversorgers. Die volgende kursus skop in Februarie 2022 af en sal in Pretoria, Bloemfontein, Naboomspruit, Krugersdorp, Port Elizabeth en Paarl aangebied word.

Die kursus word oor ʼn tydperk van ses maande aangebied waarin teorie en praktiese sessies afgewissel word. Die praktiese komponent word by ʼn geïdentifiseerde instansie aangebied. Die praktiese ervaring sal aan die student die nodige selfvertroue bied om, sodra die kursus voltooi is, hierdie dienswerk met die nodige kennis en ervaring uit te voer. Hierdie kursus is baie meer omvattend as die minimum uitkomste soos deur SETA voorgeskryf. Daar word oor die tydperk van opleiding ekstrakurrikulêre kursusse aangebied wat studente nodig het om gehaltesorg en persoonlike ontwikkeling te verseker. Hierdie vaardigheidskursus van ses maande is by Dienste SETA (Services SETA) geakkrediteer en bestaan uit vier eenheidstandaarde op vlak 2, met gesamentlik 37 krediete.

Daar is ook ʼn rentevrye studielening vir die kursus beskikbaar. Doen vandag nog hier aansoek vir die kursus.

Besoek www.shhtuisversorging.co.za of stuur ʼn e-pos na [email protected] om aansoek te doen as ʼn tuisversorgingstudent of om ʼn student te borg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.