Afrikaanse Wikipedia word 15 jaar oud

boeke

Foto: Likeisaidlady.com

Donald Trump, Formule Een, die Turkse Oliestoei en Shakespeare se komedies – noem dit en jy sal dit kry op die Afrikaanse Wikipedia. Dít, en minstens 42 000 ander artikels, is immers waarom Wikipedia op 16 November sy 15de verjaardag vier.

Deon Steyn, ʼn Wikipedia-moderator en -koördineerder, meen ook dié hoeveelheid artikels is waarom Afrikaanse Wikipedia sedert sy ontstaan in 2005 ʼn volwaardige bron van betroubare inligting geword.

Hoewel dit dié inligtingsbron bykans tien jaar geneem het om 20 000 artikels te plaas, het hy in minder as vyf jaar die inligting verdubbel tot bykans 43 000.

“Dit gaan alles oor die behoud van Afrikaans. Almal wat op vrywilligersbasis by Wikipedia betrokke is, het ʼn passie vir die taal en ons wil dit graag verder uitbou,” het hy gesê. “Daarom werk ons almal daagliks om Afrikaanse Wikipedia ʼn huishoudelike naam te maak en ander betrokke by die projek te kry.”

Steyn meen dié inligtingsbron lewer ʼn kenmerkende bydrae tot mense se algemene kennis, en kom veral ook handig te pas met take en toesprake vir leerders en studente. “Daar is baie inligting beskikbaar. Soms bied ons ʼn beginpunt vir mense – ons het byvoorbeeld ʼn hoeveelheid inligting oor die galjoen, en skakel jou dan met ʼn ander webwerf vir meer gevorderde inligting.

“Buiten die feit dat daar meer as 40 000 artikels op Wikipedia is, kan ons ook klank- en videolêers laai wat die gebruiker se ervaring wanneer hy soek na inligting net nog meer verbeter.”

Die Afrikaanse Wikipedia is onder meer ook tuiste vir die enigste Afrikaanse artikel oor optiese vesel, vele ander vreemde feite en geskiedenis-kopkrappers.

Wikipedia hou op 12 November om 18:00 ʼn verjaardagpartytjie by Twankey Bar, Taj Hotel, in Waalstraat in Kaapstad.

Het jy geweet?

Jy kan ook by die Afrikaanse Wikipedia betrokke te raak – en jy hoef boonop nie ʼn langtermynverbintenis te maak nie!

Vir meer inligting, besoek die Afrikaanse Wikipedia se webwerf vir meer inligting oor bydraes. As jy wil betrokke raak en help bou aan die Afrikaanse Wikipedia, stuur gerus ʼn e-pos na [email protected]. Sê ook wat jou gebied van kundigheid is en waaroor jy graag sal wil skryf.

Op soek na nog ʼn bietjie inspirasie om betrokke te raak? Loer gerus na dié video om te sien watter uitwerking die Afrikaanse Wikipedia op leerders het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JC ·

Dankie julle!
Ek kan eintlik nie genoeg dankie se vir jul selflose en onbaatsugtige diens aan Afrikaans nie.
Dit maak mens bitter trots, en ook op Afrikaners soos julle!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.