Afrikaanse ystervroue gedenk in Vrouemaand

Rosina Pretorius is die agterkleindogter van Koos en Nonnie de la Rey. (Foto verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) pak dikwels skoonmaak- en opknappingsprojekte aan. Die afgelope naweek het die FAK weer talle kultuurprojekte regoor Suid-Afrika gekoördineer.

Die kultuurnetwerk in Lichtenburg, wat bestaan uit die FAK, VF Plus, Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), Noordwes-Universiteit (NWU), Noordwester, asook die Lichtenburg Geloftefees, het hulde gebring aan Nonnie de la Rey, die vrou van genl. Koos de la Rey.

Nonnie is op 12 Augustus 1923 dood en die FAK het besluit om in dié Vrouemaand, 99 jaar na haar dood, eer aan dié ystervrou te betoon.

Die agterkleindogter van Koos en Nonnie, Rosina Pretorius, het dié geleentheid bygewoon en ’n krans op Nonnie se graf gelê.

Sy het haar dank teenoor die FAK uitgespreek vir die werk wat hulle doen om haar familie en ander families te onthou.

“Dit is so pragtig dat julle my ouma- en oupagrootjie vereer en dit maak hierdie dag ekstra spesiaal.”

Koos en Nonnie se grafte is skoongemaak, waarna die plein op Lichtenburg ook opgeruim is.

Die Kultuutnetwerk in Lichtenburg besig om die dorp se plein op te ruim. (Foto verskaf)

In die Vrystaat het die kultuurnetwerk, onder leiding van Jan-Danie Malan, hul bydrae gemaak deur die konsentrasiekamp op Winburg op te knap en skoon te maak.

Dié dorp het ’n ryke geskiedenis met vele bekendes wat eens Winburg hul tuiste genoem het. Onder andere kom genl. Koos de la Rey, Andries Pretorius, pres. CR Swart en pres. MT Steyn almal van hierdie dorpie in die Vrystaat.

Gras word gesny in Winburg se konsentrasiekamp. (Foto verskaf)

“Kultuurmense is omgeemense en werk saam aan ’n tuiste vir Afrikanererfenis,” het Jan-Danie Malan, FAK-kultuurorganiseerder van die Vrystaat, gesê.

Die FAK het in die Wes-Kaap, nog ’n ystervrou, Sarah Raal, se lewe gedenk.

Lede van die FAK-Noordelike Voorstede-kultuurnetwerk en vrywilligers by die Woltemade-begraafplaas in Maitland, Kaapstad, het die graf van Sarah Snyman gebore Raal, bekend vir haar deelname aan die gevegsfront tydens die Anglo-Boereoorlog, skoongemaak en blomme gelê.

Daar word vertel dat Raal die lewe vir die Engelse op alle terreine so moeilik as moontlik probeer maak het.

Dié is ’n vrou wat vir maande in die veld geleef het toe haar ma en jonger broers en susters ná ’n dag van inkopies nie huis toe gekom het nie. Sy is uiteindelik gevang en na Springfontein-konsentrasiekamp geneem, vandaar het sy ontsnap en aangesluit by haar ouer broers se kommando en aktief aan die oorlog deelgeneem.

“In hierdie vrouemaand leer ons opnuut dat ons Afrikanervroue uit yster gekap is. Vroue soos Nonnie de la Rey en Sarah Raal verdien om vereer te word,” het die FAK benadruk.

  • Om betrokke te raak by die FAK se kultuurnetwerke, kontak Barry Müller by 072 849 8563 en maak ’n verskil in jou gemeenskap.

In die Vrystaat het die kultuurnetwerk, onder leiding van Jan-Danie Malan, hul bydrae gemaak deur die konsentrasiekamp op Winburg op te knap en skoon te maak. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudolf ·

Baie dankie dat julle die erfenis bly bewaar. Dit word op prys gestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.