Aftreeoord woeker met breipenne om kinders te help

Die tannies Bronberg-aftreeoord het hard gewerk om komberse vir behoeftiges te brei (Foto: Dauline Knopjes)

Die tannies van Bronberg-aftreeoord in Pretoria het tydens die nasionale staat van afsondering honderde blokkies gebrei om kombersies te maak vir behoeftige kinders en babas.

Douline Knopjes, wat aan die stuur van dié projek is, vertel dat die aftreeoord se sosiale komitee weekliks ʼn sosiale geleentheid vir die inwoners gereël het, maar dat die Covid-19-pandemie dié lekkerte stopgesit het.

“Die sosiale komitee bestaan om mense bymekaar uit te bring en vir mense om na mekaar uit te reik. Ons het toe gedink as ons nie sosiale geleenthede kan reël nie, is hierdie projek ʼn wonderlike geleentheid vir mense om met mekaar te kommunikeer en saam te werk.

“Dit is ʼn lekker manier om die tannies besig te hou en nuttig te laat voel. Dit voel of ons bydra tot die samelewing. Dit gee hulle ook iets om op die WhatsApp-groepies oor te gesels,” sê Knopjes.

Aangesien ouer mense spesifiek kwesbaar is vir die Covid-19-virus word besoekers nie toegelaat by aftreeoorde of ouetehuise nie. Die tannies kon ook nie in groepe bymekaarkom om saam te brei nie, so hulle het elkeen in hul eie huise blokkies van 20×20 cm gebrei.

Sowat 600 blokkies is gebrei en 30 komberse is aanmekaargesit om hierdie projek te laat realiseer.

Afgesien van die handewerk wat die komberse verg, het dié aftreeoord ook 400 blikkies kos en babaklere ingesamel. Dié skenkings word alles aan die Pretoria-Oos Rotary Club oorhandig en dan na behoeftige stigtings versprei soos onder meer die Jakaranda Kinderhuis, Abba Huis en Louis Botha Kinderhuis.

Die tannies Bronberg-aftreeoord het hard gewerk om komberse vir behoeftiges te brei (Foto: Dauline Knopjes)

Knopjes verduidelik dat die idee is om op Mandela-dag (18 Julie) dié pakkies aan behoeftiges te skenk. Sy vertel dat hulle beoog om dieselfde tipe projek weer naby Kersfees aan te pak.

Vir hierdie projek het die tannies almal self wol gekoop om mee te brei of hekel, maar Knopjes moedig die publiek aan om wol aan hulle te skenk sodat dié projek teen Kersfees selfs groter kan wees.

“Die tannies het hard gewerk en baie van hul tyd en energie in die projek geploeg.”

Vir meer inligting of skenkings, besoek Bronberg-aftreeoord se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.