Agri SA se jongboer van die jaar het hart vir landbou en onderwys

agrisa-jongboer-2017-jaco-en-dan-deur-liezel

Jaco Strauss is die wenner van vanjaar se AgriSA Jongboer van die Jaar-kompetisie. By hom is Dan Kriek die president van AgriSA. Foto: L de Villiers.

Jaco Strauss (40) van die plaas Lekkerkry, in die Vaalhartsdistrik in die Noord-Kaap, is as die wenner van die gesogte Toyota SA/Agri SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie aangewys.

Strauss is ’n gewasseboer wat hoofsaaklik met graan, katoen en pekanneute boer.

Die suksesvolle vrugteboer Richard Myburgh van die plaas Cortina tussen Villiersdorp en Grabouw, in die Vyeboomdistrik in die Wes-Kaap, het die Toyota SA Nuweoes-toekenning verower. Dié toekenning word aan voorheen benadeelde boere uitgeloof.

Die wenner van die gesogte kompetisie is verlede Donderdag tydens ’n galadinee in Centurion aangewys.

Dan Kriek, president van Agri SA, het ná afloop van die geleentheid gesê die deelnemers aan albei kompetisies is van hoogstaande gehalte en ’n toonbeeld van die toekoms van landbou.

“Ek is baie beïndruk met al die deelnemers,” het Kriek gesê. “Die dinamiese Jongboer-deelnemers fokus op die innoverende gebruik van tegnologie en dit is duidelik die Nuweoes-deelnemers bereik nuwe vlakke van uitnemendheid.”

Dit is vanjaar die dertiende jaar dat die Jongboer-kompetisie deur Toyota SA geborg word. Boere van jonger as 40 jaar wat minstens twee jaar lank ’n opbetaalde lid van hul provinsiale landbou-organisasie is, kan in aanmerking kom. ’n Wenner word uit elke provinsies gekies, waarna hulle finaliste is in die Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Strauss en Myburgh het elkeen met ʼn splinternuwe Toyota Hilux-enkelkajuitbakkie weggery.

Volgens Kriek word die beoordeling uiters professioneel gedoen.

“Ons is baie trots op Strauss. Al die deelnemers is jongboere om op trots te wees en ek doen ʼn beroep op hulle om hulself vorentoe beskikbaar te stel as leiers in die georganiseerde landbou en hul gemeenskappe,” het Kriek gesê.

“Myburgh se sukses is ʼn voorbeeld van wat met transformasie bereik kan word. Dit is duidelik al die deelnemers aan die Jongboer- en Nuweoes-kompetisies wil terugploeg in hul gemeenskappe. Dit is die goue draad wat al die deelnemers verbind.”

Strauss is voorsitter van sy plaaslike boerevereniging en lid van Graan SA, asook die Vaalharts-Distrikslandbou-unie. Hy boer al 18 jaar op Vaalharts en is aktief betrokke by gemeenskapsprojekte. Daarom het hy ’n reuse-aandeel gehad in die oprigting van ’n private skool in die omgewing. Hy sê dit was vir hom belangrik dat sy eie kinders en die ander kinders van die omgewing toegang het tot goeie plaaslike onderrig. Strauss is getroud met Elna en hulle het drie kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Baie geluk – bly om te sien die harde en slim werk word geëer!!

Corlia Strauss ·

Wil net weereens vir my broer , Jaco Strauss Baie geluk wens met sy uitmuntende prestasie. Ons Strauss familie is geweldig trots op jou!

Sumia ·

Baie geluk Jaco en die hele uitgebreide Strauss familie!! Dit het seker te make met sy opleiding by die Rotte op Jan Kempdorp!! LOL. Dit is lekker om te sien dat harde werk sulke goeie vrugte afwerp en ons is baie trots saam met julle!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.